Waarom Afrikaanse eBoeke?

eBoeke het vinnig die voel-voel begin fase verby gesteek en vandag verkies miljoene lesers eBoeke bo die gedrukte boek. Stap net in Europa en Amerika deur enige aankomssaal of koffiewinkel en sien hoe lesers die nuutste topverkoper roman, tydskrif of self strokiesprente geniet op hul eLeser, Android-toestel, Ipad of slimfoon. As lesers gevra word hoekom hulle digitale teks verkies word die volgende redes opgenoem: bekostigbaarheid, gerief, die draagbaarheid van die eLees-toestelle en toeganklikheid tot miljoene eBoeke met die druk van 'n knoppie.

Dit nog nie nodig om jou boekrakke by 'n motorhuisverkoping aan te bied en braaivleis met die boeke te hou nie maar eBoeke is besig om vinnig veld te wen.

Die groei van die eBoek-mark in Amerika behoort vir ons 'n aanduiding te verskaf van wat die res van die wêreld te wagte is. 21% van volwasse Amerikaners het die afgelope jaar 'n eBoek gelees en wat verbysterend is dat eBoek-lesers 'n gemiddeld van 10 boeke meer gelees het as die gewone leser per jaar. Die digitale rewolusie verander ons leesgewoontes en keer die uitgewersbedryf op sy kop. Lesers gryp die digitalisering van boeke aan en lees meer omdat eBoeke nou werklik met mobiele Internet uit die lug gegryp kan word, waar jy ook al is. Mense met eLesers verkies ook om eerder 'n eBoek te koop as om dit te leen. Lesers lees ook nie slegs eBoeke op eLesers nie: 42% het dit op 'n persoonlike rekenaar, 41% op 'n eLeser, 29% op 'n selfoon en 23% op 'n tabled-rekenaar gelees.

Wat interessant is dat die aanhangers van eBoeke ook nie opgehou het om gedrukte boeke te lees nie, 88% van mense met eLesers het laas jaar ook 'n gewone boek gelees.

Die eBoek-mark ontploffing wat vir hierdie Desember verwag word in Suid-Afrika het reeds in 2010 in Amerika plaasgevind met die volgende gebeure:

  • Apple stel sy rewolusionêre iPad bekend en verkoop 3 miljoen toestelle in 80 dae! Nooit was dit makliker en lekkerder om digitale inhoud soos eBoeke te verbruik nie.

  • Amazon verlaag die prys van hul Kindle-leser na $189 wat dit toestel binne die bereik sit van die massas.

  • In Julie 2010 maak Amazon bekend dat hulle 143 eBoeke teenoor slegs 100 hardebandboeke verkoop het die vorige 3 maande.

  • Gedurende die laaste 3 maande van 2010 verkoop Amazon meer eBoeke as sagtebandboeke.

  • Mei 2011 reik Amazon 'n persverklaring uit dat meer eBoeke verkoop is die afgelope jaar as sagteband- en hardebandboeke gesamentlik.

Daar word verwag dat die bekendstelling van die Kobo-leser net voor Kersfees in Suid-Afrika teen slegs R996 die selfde gaan beteken vir die Suid-Afrikaanse eBoek mark.

Google