Josafat van Namaqualand Josafat was ‘n swerwer en jy kon hom meestal op die sandpad tussen Alexanderbaai en Port Nolloth kry. Maar soms ook op die grondpad oor die Richtersveld en op die nasionale pad tussen Steinkopf en Springbok. Waar hy gebly het en watter stroois hy sy huis genoem het sal niemand ooit weet nie. Baie mense sal vorendag kom met ‘n storie dat hy op Steinkopf in ‘n matieshut woon en ander sal vir jou vertel dat hy in die blikkies dorp agter Springbok bly en nog een sal vir jou vertel dat hy op Ratelgat ‘n vrou en kenners by dosyne het. Maar jy sou die indruk kry dat niemand juis geweet het waarvan hulle praat nie en dat dit sommer net sensasie soek was. Josafat was ‘n goeie onderwerp in bespreking as jy gramstorig was en die woede wou aanblaas en Josafat jou weer ‘n streep getrek het. Ja dit kan almal jou vertel. Josafat was ‘n swerwer oor een rede.

Hy had lang vingers gehad en was ‘n meester in die kuns om jou te bedrieg. So sal jy dan van die geskokte vreemdeling uit verre stede hoor dat hy langs die pad gestop het waar hy die lang gestalte van Josafat sien staan het. Van nader af het die twyfel, wat mens maar altyd vir ‘n vreemdeling gehad het, dan effens skiet gegee as jy in sy oop eerlike lig groen ogens gekyk het en na sy nimlke glimlag. Josafat was die nasaat van die Cornwall myners wat in die rivierwalle gedelf het lank voor enige iemand in die distrik kon bly het. Hierdie Cornwall delwers het toe onder die Nama vrouens ingetrou en op die einde is bitter min van hulle terug hul vaderland met die prospek van sneeu in die winter en reën die res van die jaar. Niemand sou die vlaktes van groot Namakwaland wou verruil het vir die vog en sneeu van Engeland nie. Hierdie nuwe nasie het hulself die Basters genoem en was (en is nog steeds) baie trots op hulle ontstaan. Baie van hulle het in die omtrek gebly maar meeste van hulle het op getrek in die dynserige noorde in agter ‘n vreemde drang aan dat agter die verre vlaktes daar vir hulle ‘n beloofde land gewag het. Die beloofde land waar hulle vandag nog bly. Die Rehoboth Baster Gemeente. Land van melk en heuning.

As jy dan by Josafat stilhou dan boei sy oop eerlike gesig jou om sy hand van vriendskap te neem. En dan het Josafat jou met ‘n diep ryk stem verras met die suiwerste Afrikaans soos wat net sy mense dit kan praat. Hierdie stem het jou gewoonlik genoop om uit jou motor te klim om hierdie formindabele man van nader te leer ken. Die kanse was altyd groot dan hierdie man jou dan net daar langs die pad genooi het om saam met hom te sit en dan het hy vir jou spesiaal ‘n katotjie vol stokkies tee gebrou wat jou ogens laat traan het so soet was dit. Dan sou Josafat jou met sy welluidende stem stories vertel wat jou na jou asem laat snak het van pure verwondering. Later met ‘n ferm hand druk is jy fort in jou motor met die lekker warm gevoel van stokkiestee in jou maag ‘n die kameraderie wat Josafat in jou laat posvat het. ‘n Gevoel wat aan jou geklou het tot en met Alexanderbaai waar jy dan moes petrol ingooi voor die skof na Sendelingsdrif toe of na Oranjemund oorkant die rivier.

Dan het jy jou beursie uit jou sak gehaal net om te sien dat daar nie ‘n sent van jou geld in jou beursie was nie. Nie eers jou horlosie aan jou arm nie. Want met sy laaste ferm handruk het hy dit geneem as betaling vir die wonderlike stories en die stokkiestee. Soos almal weet, my vriend, is niks in die lewe verniet nie. Nie eers oomblikke van obsolute bekoring op die sandvlaktes van Namakwaland nie. So was dit dan dat Josafat baie vyande gehad het in Namaqualand self. Want om die toeriste te verneuk was maar een van sy skelmstreke. Die plaaslike bevolkingtjie het net so lekker deurgeloop. En as jy klaar deurgeloop het, dan kon jy hom nerens kry om die daglig uit hom uit te voeter nie, want dan het Josafat soos ‘n duikertjie in die gnaroebossies verdwyn en jy het maar met ‘n wrok in jou hart geloop wat stadigaan selfverwyt en dan later leedvermaak geword het. Dan teen die tyd wat jy weer vir Josafat ontmoet het jy alweer vergeet van die vorige keer en het jy jouself maar weer verlustig aan sy verhale terwyl jy jou horlosie en beursie styf in jou hande vashou, want watter man sal nou sy kop twee keer teen een klip loop stamp soos ‘n donkie? Blaasbalk was ook maar een van Josafat se slagoffers, maar Blaasbalk was ‘n rapatse man wat nie maklik kon vergewe nie. So het Josafat dan eenmaal Blaasbalk se kettingkie wat hy soos ‘n ducktail om sy nek gedra het afgesteel en hy kon net wonder wat van die kettingtjie geraak het. Todat een hom gevra het waneer laas hy vir Josafat gesien het… So drie maande daarna kom Blaasbalk oop en toe teen ‘n bultjie afgery op sy bicycle en daar sien hy sowaar vir die bekende lang gestalte van Josatvat voor hom in die pad aanloop met sy rug na Blaasbalk toe

Dit is toe dat Blaasbalk sy geliefde kettingtjie onthou en besluit om die dôner sommer net daar onnerstebo te ry. So het hy dan sy ou Western Flyer se voorwiel reg tussen Josafat se bene in gemik en toe met ‘n buk en tromfantlike kreet reg tussen Josafat se bene ingery. Josafat het met ‘n boog oor sy skouer gevlieg. Blaasbalk is lag-lag daar voort en kon sy geluk nie glo dat hy vir Josafat so lekker terug gekry het nie. Tot die aand in die Royal Pub op Port Nolloth waar hy toe agterkom dat Josafat sy pen uit sy bosak gesteel het soos hy oor sy skouer getrek het … Dis nie waar die vete tussen Josafat en Blaasbalk opgehou het nie. Want so nege maande daarna, toe kry my vadertjie vir Josafat langs die pad waar hy droewig by sy nuwe bicycle sit huil. Die hele fets was uitmekaar gehaal en Josafat het geen tool op sy naam gehad om dit aanmekaar te sit nie. So kom die storie dan toe uit dat Blaasbalk hom langs pad gekry het waar hy die baisiekel deur die diksand aant stoot was. So het Blaasbalk met sy Goggomobil*aangebied om Josafat se fiets op die Goggomobil se agtersiet aan te ry, maar eers moes hulle twee die fiets uitmekaarhaal om dit in die piepklein ou te laat pas. Toe die fiets mooi uitmekaar gehaal is, toe begin lag Blaasbalk vir Josafat uit en klim in sy kar in en ry daar weg. In sy truspieël sien hy toe hoe Josafat op sy twee kniegens neersak en hom smeek om tog stil tehou. Maar Blaasbalk het gery met ‘n lied in sy hart. Dit was Godsgenade dat my vadertjie drie ure later op die storie afkom. Met sy sagte hart het hy aangebied om Josafat se fiets in sy Citroen se diekie in te laai en so het hy hom toe ‘n lift gegee tot op ‘n skaap plaas 30 myl voor Port Nolloth. By die uitdraai pad het my vadertjie en Josafat die fiets netjies inmekaar gesit en daar is die twee in verskillende rigtings.

Twee weke later maak my vadertjie weer sy Citroen se diekie oop om ‘n sak mieliemeel in te laai en agter in die diekie lê toe mooitjies ‘n domkrag wat hy nie ken nie. ‘n Jack was ‘n ding wat die mense van Namakwaland nie kon bekostig nie. Hulle moes mekaar maar so langs die pad help om die kar op ‘n blok te kry as jy papwiel gehad het. Daar die dag besef my vadertjie toe dat Josasafat vir die eerste maal in sy lewe gegee het in plaas dat hy geneem het. Dis toe hy eendag die storie in die myn menasie vertel wat Blaasbalk skielik kiertsregop sit om die storie aandagtig sit en beluister. Hy vra toe vir my vadertjie om vir hom die jack te wys. En sowaar. Daar vind hy toe sy jack wat die dag weg geraak het die dag toe hy vir Josat die spenner uitgehaal het om sy fiets mee uitmekaar te haal… Josafat beweeg vandag nog daar op die vlaktes. Teen hierdie tyd het hy lankal die tydelike met die ewigheid verwissel. Maar in die gees spook hy nog altyd daar langs die pad met die niksvermoedende reisiger. En dit is een ding waarvan ek myself kan getuig. Een aand oppad na Oranjemund toe loop staan my ou brood kombi vir die tweede keer so 36 kilometer voor Port Nolloth amper op dieselfde plek. Daar het ek vir twee ure sit en sukkel voor ek onthou het hoë Neels die fout gekry het. Dit was weer die punte wat gekrater het in die distributor. So het ek die distributer cap afgehaal en die punte netjies met ‘n stuk sandpapier uit my toolbox sit en skuur. Toe moes ek die distributor met ‘n nommer 12 spennertjie losdraai om weer die timing in te stel. Na veel gesukkel het die ou kombi toe weer soos ‘n wafferse Mercedes gestart en toe ek die distributor weer wil vasdraai, is my nommer 12 spennertjie soek.

Daar het ek in die sand van Richersveld met my vingers rond gesoek en in die maanlig kon ek niks kry nie. Later het ek die boudtjie met ‘n waterpomp tang vasgewoel en toe vir oulaas die bossie ingeloop om bietjie water af te slaan. So op die oop vlaktes met die gnaroebossies wat my enkels kielie en die seebries wat in my hare woel. Dis toe ek my belangrikste tool weer mooi afskud en bêre dat ‘n skielike koudheid oor my gekom het en dat my arms in gans vel uitgeslaan het en my nekhare soos ‘n hond s’n loop staan het net voor hy baklei. Met ‘n gevoel van onheil is ek daar weg en oppad sit en val die storie van Josafat my toe by. Dis toe ek hardop besluit dat die weer daai dônerse Josafat was wat my spenner kom steel het daar langs die pad. Want in die gees was hy mos meer vlugvoetig as in die vlees.