Die Afrikaanse eBoek Lysies vir die liefde is vandag slegs teen R27.41 beskikbaar.

 

’n Roos, ja, maar een met luise en dorings

 Cecile Cilliers in Beeld  

Amalie laat weet sy gaan vandag vir haar tiener ’n Valentynstee gee, met kolwyntjies en hartjies en ’n groot pienk koek. Sommer vir die lekker. Soos die meeste van die VSA is haar geweste se winters gewoonlik bitter koud en bitter lank. Veral lank, dié dat die Amerikaners konstant rede soek om te vier, ’n kleurvolle vrolikheid om die grysheid op te kikker. Nie dat ekonomiese redes buite rekening gelaat moet word nie – die Amerikaanse volk is verbruikers by uitstek. Wanneer die herfsblare begin verkleur, word Hallowe’en gevier, met alles wat geel en oranje is in die winkels. Dan volg Thanksgiving, en oornag neem die Pelgrimvaders en kalkoene oor en stroom al wat Amerikaner is huis toe, ma toe, vir die tradisionele ete. Dan kom Kersfees met ’n oordaad van versierings en dinge wat te koop is, en vyf weke later Valentynsdag. Nou wemel dit weer van rooi rose en rooi harte en pienk strikke en vonkelwyn in die glas: Die liefde word voluit gevier. Met Paasfees loop die wintervierings oplaas ten einde.

Paaseiers en -hasies kondig die lente aan en die begin van die lang, warm somer. Hoe klakkeloos loop ons agterna! Nie hééltemal klakkeloos nie, want ons seisoene werk dit teë. Maar Hallowe’en (wat gaan dié vreemde fees ons tog aan?) begin al hoe meer kop uitsteek soos verkoopsgeleenthede gesien word vir grieselige goeters en makabere maskers. Coca-Cola se Kersvader met sy ronde, rooi gesig en sy dawerende “Ho Ho Ho” het ook van óns Kersgety simbool geword. Thanksgiving is ons nie beskore nie, dis uit en uit ’n historiese Amerikaanse fees. Ongelukkig, want dis die een fees, die hype daaromheen ten spyt, wat vir ’n ganse nasie ’n bindende, samesnoerende faktor beteken, sonder enige politieke of rassekonnotasies. Broodnodig vir óns.

En Valentynsdag? Dis ’n ou fees. Sint Valentyn het as Christenmartelaar gesterf aan die einde van die 3de eeu. Hoe hy gesterf het, weet ons nie, weet wel sy feesdag was 14 Februarie. Die stuur van briefies en die gee van geskenke op daardie dag is egter ’n heidense gebruik uit die aanbiddingsrites van Juno, koningin van die Romeinse gode. Dat dit met Valentyn se feesdag saamval, is bloot toevallig. Myns insiens, synde vroulik, is dit ’n mooi fees, mits perspektief behou word. Jare gelede bring ek een Februarie-oggend vir John ontbyt stoep toe. Op my servet het hy ’n roos neergesit wat hy oomblikke gelede met sy knipmes in die tuin gaan sny het. Ek tel dit gevlei op. Gelukkige Valentynsdag, sê John. Ons was nooit wafferse tuiniers nie en die mooi kleur ten spyt is die roos vol plantluise, die steel vol dorings. Dankie, sê ek, nie sonder waardering nie, maar lig skepties. Dis soos die liefde moet wees, sê hy. Immer romanties, maar met die nodige perspektief. 'n Valentijn Roos.    

Lees die rubriek op Beeld.com

Image(s): FreeDigitalPhotos.net