
'n Uittreksel van 7 Dae, Afrikaanse eBoek
Deon Meyer se internationale topverkoper Afrikaanse eBoek is slegs by myafrikaans.com teen die ongelooflike korting van meer as 50%, 15-18 Junie 2012 beskikbaar. Gebruik die koeponkode "leesjunie" om van die eenmalige korting gebruik te maak.
Lees ook die uitreksel op Deon Meyer se tuisblad.
Hy wil net nie ʼn gat van homself maak nie. Speurder-Kaptein Bennie Griessel, in ʼn nuwe stel klere wat hy nie kan bekostig nie, met ʼn bos blomme op die passasiersitplek, sy hande swetend op die stuurwiel, sy hele wese hunkerend na die helende, senu-kalmerende kragte van drank. Want vanaand wil hy asseblief tog nie ʼn gat van homself maak nie. Nie voor Alexa Barnard nie, nie voor musieksterre nie, nie na al die voorbereidings van die afgelope week nie. Maandag al het hy sy hare laat sny. Dinsdag was Mat Joubert se vrou Margaret sy klere-konsultant by Romens in Tygervallei. “Dis smart-casual, Bennie, net chinos en ʼn mooi hemp,” het sy geduldig, in haar sjarmante Engelse aksent, gesê. “Nee, ’n baadjie ook,” het Griessel vasgeskop, baie bang vir te ‘casual’, en nie ‘smart’ genoeg nie. Want daar gaan smart mense wees. Hy wou ʼn das ook hê, maar Margaret het haar voet neergesit. “Overdressed is erger as underdressed. No tie.” Toe is hulle daar uit met kakie-chinos, ʼn ligblou katoenhemp, swart gordel, swart skoene, ʼn byderwetse swart baadjie en ʼn kredietkaartrekening wat hom laat sidder het. En van Woensdag af berei hy homself geestelik voor, want hy weet dié ding, hierdie geleentheid, het die potensiaal om hom heeltemal te oorweldig. Sy grootste vrees is vloek, want dis wat hy doen as hy benoud raak. Hy sal ʼn wag voor sy mond moet plaas, die hele aand lank. Geen polisietaal nie, geen kru woorde nie, mooi praat, kalm bly. Daarom het hy dit alles deurdink, ‘ge-previsualiseer’, soos Dok Barkhuizen, sy borg by Alkoholiste Anoniem, voorgeskryf het: Vir Anton L’Amour sal hy sê “Koue Vuur is briljante kitaar.” Dis al, moenie begin liries raak en kak praat nie.
Vir Theuns Jordaan: “Ek hou baie van jou werk.” Dis ʼn goeie ding om te sê, vol respek en waardering, waardig. Here, en as Schalk Joubert daar is, gaan hy wat Bennie Griessel is diep asem haal, blad skud, net sê “Aangename kennis, dit is ʼn groot voorreg,” en dan moet hy liewer loop voor die stortvloed van heldevererende, baskitaar-bewonderende woorde oor sy keerwalle spoel.
En dan, sy groot bekommernis: Lize Beekman. As hy net een dop kan maak voor hy haar ontmoet. Om te keer dat sy senuwees hand-uit ruk. Hy sal sy hand eers aan sy nuwe broek moet afvee, want hy kan nie vir Lize Beekman groet as dit so gesweet is nie. “Juffrou Beekman,” sal hy sê. Met ʼn beheersde, vriendelike glimlag. “Juffrou Beekman, dit is ʼn uitsonderlike voorreg.” Nee, nee, dis nie die woord wat prof. Phil Pagel, die Staatspatoloog, voorgestel het nie. Dit was ‘sonderlinge’. “Juffrou Beekman, dit is ʼn sonderlinge voorreg. Jou musiek gee my groot genot.” En sy sal sê “Baie dankie,” en dan sal hy sy bek hou en vir Alexa gaan soek, want dit is al manier hoe hy nie ʼn gat van homself gaan maak nie. *
Die wit Chana-paneelwa hou stil onder die bome in Tweedelaan, tussen die Hoërskool Livingstone en die agterplaas van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Claremont-stasie. Dit is ʼn onopvallende voertuig, ʼn 2009-model wat die letsels van harde werk dra – ʼn duik in die voorste buffer, skaaf- en krapmerke by die laaideur agter. Die vensters in die middel en agter is amateuragtig ondeursigtig gemaak, met goedkoop wit verf. Buite verskil sypanele se kleur effens van die res van die voertuig. Agter die stuurwiel skakel die sluipskutter die enjin af, plaas al twee sy hande op sy knieë en sit net vir ʼn oomblik, doodstil. Hy het ʼn blou werkersoorpak aan, effe verbleik. Blonde hare lê lank teen sy rug af, ʼn bruin bofbalpet is laag oor sy oë getrek. Dan kyk hy, met doelgerigte fokus, eers deur die linkervoorvenster, na die verlate skoolgronde. Dan regs. Hy bestudeer die hoë heining oorkant die straat, die dubbele draadhek, en daar agter, die SAPD-werf, in die laatmiddag in Tafelberg se skaduwee gehul. Dit is stil en verlate. Hy maak seker die twee deure voor is gesluit, klouter oor die sitplek na agter. Die pakruimte is deurmekaar, kiste en kaste van metaal, hout en karton.
Hy gaan sit op ʼn houtkassie en maak die tuisgemaakte skerm van verbleikte geel materiaal teen die tapytbeplakte dak los. Die skei hom af van die stuurkajuit, dit maak hom onsigbaar vir verbygangers. Hy haal die pet af, plaas dit eenkant, bewus daarvan dat sy asem begin jaag, dat sy hande effens bewe. Hy ontspan sy skouers met ʼn geforseerde sug, leun af en maak ʼn lang, verweerde gereedskapkis oop, en verwyder die uittel-laai. Dit is swaar, gevul met goedgebruikte gereedskap – hamers, ʼn versameling skroewedraaiers, knip- en knyptange, ystersaaglemme. Hy plaas dit sag langs die kis neer, op die rubbermat wat die Chana se vloer bedek. Daar is twee artikels onder in die rooi kis – ʼn vuurwapen, en ʼn K-Way Kilimanjaro Trekking Pole. Hy haal die wandelstaf eerste uit, en laat dit teen sy skouer staan, tel die geweer op, druk die knaldemper voor versigtig deur die swart lusband aan die punt van die staf, sodat die teleskoop aan die vuurwapen onaangeraak bly, en draai dan die staf antikloksgewys, tot die band styf is.
Hy druk sy wang teen die kolf, toets die hoogte van wandelstaf-stut, en maak ʼn verstelling. Dan skuif hy die Chana se regtersypaneel met drie sentimeter na regs, aan die klein handvatsel wat hy aangebring het. Daarna die magnetiese paneel buite, sodat hy die loop en teleskoop na buite kan rig. Hy druk die kolf teen sy skouer, en kyk deur die skoop, na die SAPD-parkeerterrein. Hy stel die fokusring voor.











