Boekresensie: Die dood van ‘n goeie vrou deur Chris Karsten

Die dood van ‘n goeie vrou (Afrikaans Edition)

Maryke Roberts

Resensies

In Die dood van ’n goeie vrou is Chris Karsten se bekende speurder, Ella Neser, wat ons in die Abel-trilogie en Die verdwyning van Billy Katz leer ken het, weer op die spoor van ’n moordenaar ná ’n raaiselagtige moord.

In ’n voorstad van Johannesburg word Clara Heyns, voorbeeldige ma van twee, dood gevind met engelvlerke aan. Sy is op die oog af ’n goeie mens met geen vyande nie, doen liefdadigheidswerk en het baie vir haar medemens oor.

Te midde van kantoorpolitiek met ’n kollega waarmee sy nie die oor die weg kom nie, maar wat vriende hoër op die ranglys het, probeer Ella die leidrade naspeur. Maar een Saterdagoggend vroeg val haar wêreld inmekaar: Wie is die rooikop wat by haar geliefde Lou uithang? Sy het al in die verlede só seergekry dat sy nie weer deur ’n geliefde verraai wil word nie.

Hierdie boek is anders as Karsten se vorige boeke omdat die leser nie van die begin af die moorde en gebeure deur die moordenaar se oë – soos onder meer met die grillerige Abel Lotz – ervaar nie. Die boek volg eerder die moordondersoek vanuit Ella Neser se perspektief. Met net genoeg verwysings na haar persoonlike lewe, maak dit die boek toeganklik en word Ella amper ’n ou bekende vir die leser.

Tog hoef jy nie enige van sy vorige boeke gelees het om hierdie een te geniet nie. Slim terugverwysings na Ella se verlede hou jou in die prentjie van haar gemoedstoestand en soms onverklaarbare reaksies op gebeure.

Karsten het ’n hele paar verdagtes wat hy om die beurt teen mekaar afspeel en hoofstukke slim op ’n mespunt eindig, om met die volgende hoofstuk net ’n nuwe verdagte te ontgin. Tot die laaste paar bladsye is jy steeds onseker oor die moordenaar.

Karsten se studies in Afrikaans en sielkunde, sy bykans 40 jaar as joernalis waar navorsing ’n integrale deel van sy beroep was en sy belangstelling in misdaad kom duidelik na vore as jy sy boeke lees. Die taalgebruik is uitstekend, geen klip word onaangeraak om elke moontlike leidraad of besluit van die karakters te illustreer nie.

Sy jare se noue samewerking met die polisie vir misdaadstories en sy verskeie niefiksie publikasies waaronder Dodelike vroue: Wanneer passie in bloed eindig, Opspraak deur moord: Suid-Afrikaanse doodslag skok, Riller in die raaisel: Onopgeloste Suid-Afrikaanse misdade, Verlore onskuld: Suid-Afrikaanse kinders wat moor en roof, Boos en bisar en Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade gee hom beslis genoeg insae in misdaad, die werking van polisie-ondersoeke en ’n kykie na die psige van misdadigers.

Onder die fiksie uit sy pen is daar bekendes soos Floris Sapiens wat in 1985 verskyn het, tot die meer onlangse Seisoen van sonde en dan natuurlik die Abel-trilogie: Abel se ontwaking; Abel se lot en Die afreis van Abel Lotz, waarvan een ook verfilm is met Gys de Villiers as Abel, die moordenaar.

In 2013 verskyn ’n Man van min belang, toe Die respektabele meneer Hartslief en verlede jaar Die verdwyning van Billy Katz.

Karsten sal ook onthou word vir sy biografie oor die aktrise Charlize Theron, Charlize: Ek leef my droom.

Karsten se vermoë om goeie misdaadromans te skryf is al met dié van Deon Meyer vergelyk, maar hy hoef in niemand se skaduwee te staan nie. Hy ken die kuns van ’n goeie storielyn, genoeg kinkels en draaie om die leser se aandag gevange te hou en verdagtes wat almal ewe veel motief tot moord het.

Die boek is ’n lekker toevoeging tot enige boekrak en sal ewe veel deur mans en vroue geniet word.

Bron

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close