Die skaalmodel (Afrikaans Edition) 1

Boekresensie: Die skaalmodel deur Anneli Groenewald

Francois Verster

Resensies

Die skaalmodel (Afrikaans Edition)

 

Oor hierdie roman is reeds resensies geskryf, so ek veroorloof myself om eerder ‘n bespreking as ’n formele resensie aan te bied. Elke resensent en inderdaad leser benader boeke uit ‘n eie perspektief en myne sal wees as ‘n argivaris wat ook sy hand aan fiksie waag.

Wat dadelik tref, is die ongewone en dus heel vars inslag, naamlik dat Die skaalmodel grootliks ‘n alleenspraak is, behalwe vir die postmodernistiese aanwending van onder meer e-posse tussen ene meneer Johannes Schoonwinkel en juffrou Berdina Visagie, laasgenoemde die hoofkarakter. Hierdeur breek die skrywer, en haar stem, juffrou Visagie, die monotoon van die hoofkarakterperspektief.

Nogal ‘n uitdaging hierdie, en elke leser sal moet besluit of dit genoegsaam gedoen is – vir my was dit net-net so, want my gedagtes het telkens gedwaal en ek het myself betrap dat ek dalk hiperkrities begin word, oor tegniese aspekte soos wat die verskil is tussen ‘n argivaris, ‘n museumbestuurder, voorheen ‘n kurator genoem (in die geval van kunsmusea word “direkteur” meestal gebruik) en les bes ‘n bibliotekaris. Die skrywer verwar wel die leser deur hierdie posbenamings en hulle onderskeie pligte wisselend aan te wend. Sy praat ook van die “Suid-Afrikaanse Argief”, wat nie bestaan nie – sy noem self by haar bronnelys dat sy uit die SA Nasionale Biblioteek (korrekte benaming) gedelf het en dis ook waar mnr Schoonwinkel (daar was wel al ‘n mnr Stef Schoeman by die Kaapse Argief; klink dié twee name dalk toevallig nogal eenders?) en haar “argivaris” sou beswaarlik koerantknipsels uit 1983 by ‘n staatsargief vind, terwyl sy soektog (namens haar) na berigte, almal uit dieselfde jaar vreemd lank neem: as hy een in 1983 kon vind, sou hy almal bymekaar gevind het en gelyktydig aangestuur het, nie stuk-stuk soos in die boek gebeur nie.

Maar kom ons kry eers hierdie olifant in die oopte: argivarisse werk met dokumente, die primêre bronne waaraan bona fide navorsers die grootste waarde heg. Bibliotekarisse werk meestal met sekondêre, oftewel gepubliseerde bronne (soos haar Johannes Schoonwinkel blykbaar doen) en museumbestuurders werk meestal met artefakte, dus voorwerpe soos modelle (soos juffrou Visagie wel doen). Dit beteken nie hulle kan nie ook met ander (aanvullende) bronne werk nie, maar dis allermins hulle pligsbeskrywings.

Ek noem dit omdat hierdie aspekte van die boek sentraal staan en dit oor geloofwaardigheid gaan – die blote gebruik en verwysings na bronne in die teks, soveel te meer die bronnelys agterin, sinspeel juis op geloofwaardigheid van die milieu wat die skrywer probeer skep het. Historiese romans soos Kringe in ‘n bos, Eilande en Buys getuig ook van die essensie van historiese begronding waarop deeglike navorsing berus. Vir die leser is dit immers belangrik om sodoende die onbekende “werklikheid” van ‘n vroeëre tydperk te “ervaar” – ‘n essensiële verskil tussen ‘n historiese roman en ‘n fantasieroman.

Nietemin, soos elke leser sy/haar in die leefwêreld van juffrou Visagie probeer indompel, het ek het my eie ervaringswêreld (en hindernisse teen die suspension of disbelief) probeer uitsluit, soos met die olifant, maar sekere aspekte van die boek het bly terg: Juffrou Berdina Visagie klink ook soos ‘n juffrou Martie Visagie van Mosselbaai wat ek ken en wat inderdaad nie ‘n argivaris was nie, maar ‘n bibliotekaris – en sy trek sterk na Die skaalmodel se karakter, so ek bly sien haar en hoor haar selfs – en ek ken ‘n Bertdene van Sittert Laubscher wat ‘n museumbestuurder op Ceres is. Maar Bertdene is dalk die antitese van Berdina. Magtag, sou die skrywer hulle geken het?, wonder ek terwyl ek die hoofkarakter se uitgesponne en dikwels selfbejammerende betoog (die voorsitter van die komitee wat haar verhoor het moes Job se geduld gehad het as sy aanhou met “vrou-alleen” en dat niemand sal agterkom as sy dood lê in die museum nie) deurworstel. Die dele waar juffrou Visage oor die aantreklike pottebakker Sofia praat, het darem vir opkikkering gesorg, asook die verwysings na die tragiese lot van Skipskop.

Skipskop en Distrik Ses

Skipskop, sê die hoofkarakter met deernis, dog nie oorsentimenteel nie – sy probeer self stewig vasskop teen sentimentaliteit, soos dit ‘n rekordhouer van die verlede betaam – se geskiedenis moet nie verlore gaan nie, nes dié van Distrik Ses. Dit moet objektief gedokumenteer word, soveel as menslik moontlik. Plig voor sentiment, soos sy dit doen. Reg so, en sy is ook korrek dat ons musea baie meer moet besoek en waardeer. Hierdie versugting en bewusmaking daaroor is vir my die grootste waarde van die boek, en ek sou graag wou weet of die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp, waar hierdie boek hoofsaaklik afspeel, méér besoek word ná die verskyning van Die skaalmodel. Maar ek loop my storie, soos juffrou Visagie soms maak (en erken), vooruit.

Oor Skipskop self voel ek dat die skrywer se verwysing na die vrou wat ‘n paar boekies kom neersit het en juffrou Visagie wat hulle sommer in ‘n boks gemerk “nutteloos” gaan druk, nogal aandui op die aanvanklike misgissing wat sy het van die waarde van daardie boek. Haar vooroordele had sy ook, of is dit meer myne? My eie ervaring kleur my perspektief hier ietwat, want ek was betrokke by daardie boek, Deur die Duineveld na Skipskop (2004) deur mev Brönnhilde Ekermans – nie by die navorsing of skryf daarvan nie, maar ek het die meeste van die illustrasies daarin gemaak en die teks gelees. As iemand wat beide geskiedenis en kultuurgeskiedenis bestudeer het, kan ek wel getuig van die deeglike en professionele wyse waarop dit aangebied is. Juffrou Visagie meld wel dat sy “swaar daarop gesteun” het. Dit dan net vir ‘n bietjie agtergrond oor die navoringsaspek, wat ‘n belangrike een is by enige historiese roman.

Die boek herinner aan etlike ander romans en intertekstuele verwysings kom inderdaad voor. Joan Hambidge noem in haar resensie oa dat Orhan Pamuk se Istanbul: Memories and the City(2006) in die bibliografie vermeld word. Sy skryf ook “Dit is ’n belangrike kode vir hierdie roman: Pamuk het immers ’n hele museum gebou rondom ’n roman, The Museum of Innocence (2008).” Vir my, wat baie in buitestanderfigure belangstel, herinner Die skaalmodel nogal aan Albert Camus se L’Étranger (The outsider, 1942), ook omdat sy hoofkarakter, Meursault, aan bevooroordeelde mense verantwoording moes doen.

Die vooroordele van gemeenskappe speel natuurlik ‘n sentrale rol in talle romans, soos Hans du Plessis se Tussen die klippe (2016) en Pieter Haasbroek se Oemkontoe van die nasie (2001), waar ook tribunale en howe ter sprake kom. In Die skaalmodel is die hoofkarakter egter nie die werklike uitgeworpene nie, al is sy ‘n alleenmens en ‘n buitestander op die dorp, maar dalk ook uit eie keuse.

Hier is dit eerder die aweregse Sofia (selfs Jesebel en Delila genoem) wat ‘n soort sondebokslagoffer is. In meer as een opsig. Ook kyk ‘n mens die indruk dat die museum, Skipskop, en die skaalmodel self – “karakters” is wat meer simpatie as juffrou Visagie verdien, sy wat verbete onafhanklik is as mens, dog pleit vir hulp by die museum. Soos die kunstenaar is sy ‘n sterk vrou, wat sekerlik ook nie bonuspunte sal verdien in ‘n plekkie met tradisonele idees oor genderrolle nie.

Maar ek het ‘n broertjie dood aan resensente wat stories en karakters in fyn detail ontleed en die storie in die proses verklap – waarom sal die leser R240 vir die boek betaal as ek dit namens hom/haar lees en oorvertel? So terug na wat vir my uitgestaan het by die lees van die teks. Eerstens is Berdina Visagie ‘n oortuigende oujongnooi-museumwerker, hoewel miskien effens van ‘n karikatuur, veral wat haar manier van praat betref. Dis sekerlik hoe die oningeligte publiek die Hekwagters van Gister beskou. Al weet ons tog elke mens is die somtotaal van veel meer as die uiterlike; die cliché is selde geregverdig. En karikature is gewoonlik snaaks, maar leen hulle nie tot karakterontwikkeling nie. Het Berdina toe wel van gedaante verwissel? Tog ja, danksy veral Sofia het sy uit haar jonkvrouskas geklim in haar kruistog om “voete in die museum” te kry … maar laat ek nie die storie bederf nie.

Verder, is die humor in die boek geslaagd? Dikwels wel, soos haar uitbeelding van die talle skeepstragedies (Daar is ‘n tekening van die Birkenhead op die voorblad, die stranding – “Women and children first!” – word treffend in die werklike museum uitgebeeld) aan daardie gevaarlike kus: “Hoe drinkbaar nog sou u reken, Meneer die Voorsitter, is tee nadat dit in die see geval het? Stel u voor! ’n Overbergse Tea Party op Waenhuiskrans,” spot Juffrou Visagie.

Ander kere is dit effe geforseerd, maar dit kan aan (be)droë Berdina se nogtans geborstrokte humorsin toegeskryf word. Die skrywer het haarself wel verwis van die omstandighede in ‘n tipiese museum – die stofallergie van die bestuurder daar en dat besoekers nie wil lees nie, sodat lang byskrifte min nut het, asook die statiese aard van outydse uitstallings en die ewigdurende klankbandjie met seegeluide wat meeste mense wat dit elke dag moet aanhoor sal mal maak.

Ook word die vooroordele – eintlik verkramptheid en sosiale geslotenheid van die (deursnee) kleinburgerlike plattelanders suiwer uitgebeeld – die skrywer as boorling van daardie geweste sal hulle kén. Dog vir my raak die storie erg lank (216 bladsye in totaal) om uit te vind wie die “bedenklike” karakters is waarmee die hoofkarakter “heul”, wat presies verkeerd gegaan het en wat met juffrou Berdina Visagie gaan gebeur. Uiteindelik vind ek die ontknoping helaas onbevredigend, juis hieroor, en ek weerhou my met moeite om nie te sê presies hoekom, want ek het belowe om nie die einde weg te gee nie.

Bron

 

myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close