Elf dae in Parys (Afrikaans Edition) 1

Boekresensie: Elf dae in Parys deur Elizabeth Wasserman #eboek

Henriëtte Loubser
Resensies
2016-09-30

Koop die Afrikaanse eBoek hier!

Elf dae in Parys (Afrikaans Edition)

Teorieë oor die opvoedkundige waarde van fiktiewe tekste was sekerlik lank laas so van toepassing soos met hierdie boek deur Elizabeth Wasserman. Elf dae in Parys is ’n heerlike versmelting van feit en fiksie wat die leser met ’n gevoel van genoegdoening laat. Jy kén nou vir Parys, en die beste van alles is jy wil teruggaan soontoe, want daardie stad betower. Die skrywer begogel en verwar die sinne, so wees gewaarsku: “Parys kan jou oorweldig. Dit word Stendhal sindroom genoem – jou sintuie raak oorhoeks en jy voel skoon beneweld.”

Op haar ouma se aandrang, en as geskenk vir haar 16de verjaardag, gaan Emma op ’n taaltoer na Parys. Haar beste vriendin, Salome, kan nie saamgaan nie en aanvanklik is sy min lus vir die hele gedoente. Maar dis ver van die huis af en dis wat sy dalk nodig het: om weg te kom van haar ouers se mislukte huwelik en die spanning wat dit bring. Elf dae in die Stad van Lig en Liefde lê voor en Emma kon nie anders as om uit te sien na ’n tydjie waar sy haar nie oor haar ma hoef te bekommer nie.

’n Paar van haar reisgenote gee haar ’n pyn, soos die oppervlakkige Clarissa en haar “giggelende maskarabende”, maar haar vriendskap met die eksotiese Afrika-prinses Tombisa groei gaandeweg. So reis die groep na Frankryk – sewentien kinders uit verskillende skole, en vier onderwysers, en die avontuur begin.

Elizabeth Wasserman is geen groentjie as dit by die skryf van uitmuntende kinderverhale kom nie. Haar wetenskaplike agtergrond as patoloog en as professor in geneeskundige mikrobiologie het, veral met die Anna Atoom-reeks (2011 en 2012), vir ’n vervloeiing van feit en fiksie gesorg. Daar is ook haar Speurhond Willem-reeks (2010–2012), Die Dingesfabriek-boeke (2013), asook die wonderlike Professor Sabatina se groot wetenskapboek (2014). Laasgenoemde is ’n feiteboek wat soos ’n storieboek lees. Wasserman het die kuns bemeester om feitekennis prettig aan jong lesers oor te dra en sodoende op te voed sonder dat hulle dit agterkom.

Elf dae in Parys is ’n jeugroman, maar selfs volwasse lesers sal dit geniet. Weer eens slaag die skrywer daarin om ladings feitelike inligting op so ’n wyse aan te bied dat dit soomloos deel van die verhaalgebeure word. Emma leer Parys ken. Dikwels flits sy op ’n motorfiets saam met die aantreklike Luc deur die strate. Hy is die seun van madame Flaubert, by wie die groep tuisgaan. Hy wys vir haar skatte uit wat gewone reisigers na Parys nie sou ontdek nie. Emma leer ken “’n stad vol ou stories”, soos dat Chez Flaubert geleë is in ’n steeg digby die plek waar die wolwe snags die stad binnekom. Benewens die Franse cuisine en die kultuur en gewoontes van die Parysenaars, maak sy kennis met besienswaardighede met indrukwekkende, ou argitektuur, die betowering van musiek en dan natuurlik die kuns. In die Musée d’Orsay kruis haar pad met dié van ’n ondeunde sater en sy oulike beertjies. Want sien, sy is die muse van die kunste wat met ’n baie spesifieke doel na Parys gestuur is. ’n Doel waarvan net haar rare ouma Hebsodemma weet. Sy word onbewustelik deel van ’n oeroue ritueel om die magiese krag van die stad te bewaar, maar dit is ook die rede waarom sy in gevaarlike situasies beland.

Mitiese figure, grillerige katakombes, nagtelike gesluip, gevegte om die besit van ou-ou sleutels en ontmoetings met Pan, die bosgod, is deel van die spannende, opwindende verhaalgebeure.

Elf dae in Parys is waarskynlik geskryf met ’n spesifieke leser in gedagte: ’n intelligente, nuuskierige een en moontlik een wat Frans as skoolvak neem. Die taalgebruik is gesofistikeerd, met net hier en daar ’n blertsie tienertaal. Dit mag dalk nie jou trae leser inspireer om die boek van die rak af te gryp nie, tog is hierdie boek ’n voorbeeld van die tipiese jeugverhaal met sy gebruiklike karakters: die gekwelde protagonis (Emma), die (moontlike) geliefde (Luc), die vriende (Thombi en Kim) en die vyande (Clarissa en die maskarabende; die boewe). Die verhaal sny tienerkwessies soos gebroke gesinstrukture en ’n soeke na die liefde en aanvaarding van vriende aan. Dit is ook deurspek van lekker spannende kinkels.

Vir ’n liefhebber van die geskrewe woord, vir ’n leser wat daarvan hou om in betowerende verhaalgebeure te verdwaal, is Elf dae ’n moet-lees. Met aangrypende taalgebruik soos hierdie, waarvan die teks deurspek is, kan dit nie anders as om leesgenot te verskaf nie: “Die suiwer vioolklanke ryg deur die kombers van lawaai wat die stad oortrek … haar brein torring die note los van die rumoer om haar …” Mooier kan dit nie!

Elf dae in Parys trek jou in, dit sleur mee, dit verskerp jou sinne en dit laat jou met die nodige kennis oor wat om met jou volgende besoek aan Parys te gaan doen.

Boekresensie: Elf dae in Parys deur Elizabeth Wasserman

Tags:
myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close