tuislandresensie650

Boekresensie: Tuisland deur Karin Brynard in LitNet

Afrikaans, jou lekker ding!

Met hierdie uitroep maak ‘n mens Karin Brynard se nuwe spanningsroman toe. Sy buig die taal en speel daarmee tot jou tone omkrul van plesierigheid … “Suster, moenie vir jou laat omtiep deur die benoudigheide nie. Dinge sal weer mooikom vorentoe.”

Terwyl jy jou egter nog verlustig in die taal, klap die storie jou soos ‘n goeie smoelslaner. Vir dié wat nie weet nie, dis daardie swingel van die hekpaal waarmee ‘n konsertinahek toegemaak word. Ook bekend as ‘n bekneuker. Want hierdie boek laat hom nie sommer net toemaak nie.

Soos met haar vorige twee boeke, Plaasmoord en Onse Vaders, beloof die titel reeds dat hierdie een meer as net nog ‘n spanningsroman is. Tuisland is ‘n woord wat swaar dra aan betekenis en ‘n mens besef gou dit is die sleutel tot die boek.

“Hy sê ons sal weer ronderibbes loop. Op ons eie grond met spekvet diere. Maar kyk waar loop ons, meneer Poliesman. Agterder as agter, uit ons hoewe uit. En nou’s dit te laat vir ons. Ons sterf hôrgalôs uit. Minder opregte boesmans oor as arnosters.”

Uit die mond van die leier van die Khomani-San, oom Windvoet !Kgau.

Die tema van ontheemding, verlies aan taal, kultuur en menswaardigheid word deur die hele verhaal geweef.

Jannas, ‘n wit vrou wat lank reeds tussen die Boesmans woon en werk, verduidelik dit so:

“Maar die Boesmans hier … Wat jy hier sien … Dis, dis … Hoe kan ek dit stel? ‘n Kultuur … taal, alles wat jou maak wie jy is. Wat jou selfrespek gee en jou bind aan ‘n groep, ‘n plek, jou identiteit, jou siel. Hierdie mense is van alles beroof.”

Dit is egter ‘n tema met vele gesigte. Terwyl die Boesmans hunker na eie grond, reken die wit boer wat op sterwe lê: “En die plaas … Ag, dis net grond. Niemand besit dit regtig nie. Net die herinner … jou herinneringe …”

Dis dan ook nie net die tema wat vele gesigte het nie. Selfs die San-naam wat deesdae algemeen gebruik word, is vir sommige ‘n skelwoord en hulle verkies die naam Boesman.

Die verskille tussen die groepe sny egter dieper as net die naam. Elke groepering het sy eie verwagting en siening oor die pad vorentoe. Die agristam wil boer, die kuriostam maak ‘n lewe uit toerisme en die jagterstam wil teruggaan na ‘n vol jagter-gaarder-bestaan.

Dit klink na ‘n goeie plan, selfs edel, maar soos Heilna Wannenburg sê:

“Terugtrek na ‘n jagter/versamelaar-bestaan. En wat maak almal dan skierlik met hulle selfoonpaaimente? Dis een ding om ertappels en hoenderpote te koop met jou goevernment grant. Maar om dag vir dag te skarrel agter velduintjies aan. Vrek van die honger in die droogtejare. Ek weet nie.”

Een van die verhaal se sterk punte is die feit dat niemand ontsien word nie, en dat daar nie maklike antwoorde gegee word nie.

Die Boesmans wat geglo het daar is snare van lig wat alles bind, die mens, die natuur, die aarde, is nie engele nie, soos Jannas probeer verduidelik. “Hulle drink te veel en neem ongelukkige besluite, maar hulle is nie moorddadige mense nie.”

En so het elke groep karakters of individue hulle eie hebbelikhede, geraamtes en sondes. Jy kry hulle lief ondanks hul menswees.

Karin Brynard se karakterisering is in die kol. Sy beskik oor ‘n besonderse vermoë om lyf aan ‘n karakter te gee, en elkeen se unieke stem oortuig.

Kytie vee met haar duim oor die meisiekind se bolip waar ‘n snotstreep dreig om in haar mond in te loop. Sy’s erg verwaarloos, dit kan jy op ‘n myl sien. Al ruik sy so vars soos ‘n blom. Daar sit klaar ‘n eeu se leef in daai onpaar oë, elke een met sy eie kleur. Dryf soos twee waterputte in haar smal gesiggie.

Die meeste karakters is nuut vir die leser, maar daar is ook ‘n bekende of twee.

Albertus Beeslaar, die hoofkarakter in Brynard se vorige twee boeke, is terug in Tuisland.

In Johannesburg wag ‘n nuwe werk en ‘n babadogtertjie vir Beeslaar. En dalk die geleentheid om die bande met sy kind se ma, Gerda, op te tel. Hy is haastig om daar te kom.

Hy kies ongelukkig die verkeerde dag om sy bedanking by generaal Mogale op Upington te gaan indien. Daar is ‘n man in die Kalahari dood, net nog een van ‘n hele paar sterftes die afgelope tyd in dié gebied. Volgens gerugte het die plaaslike polisiekaptein op Witdraai, Kappies de Vos, hom nie juis verwerdig om die sake te ondersoek nie. Die Boesmans is ongelukkig en nou ondersoek ‘n prokureur, Silwer Bladbeen, hul klagtes.

Mogale is nie hierdie week lus vir moeilikheid op sy voorstoep nie. Na jare se onderhandelinge en baie moeite is daar tussen verskillende rolspelers ‘n ooreenkoms oor grondbesit bereik. Om dit te vier word ‘n groot funksie beplan – daar is sprake dat selfs die President, en belangrike amptenare van die Verenigde Nasies, die geleentheid in die Kalahari gaan bywoon.

Mogale wil hê Beeslaar moet net ‘n vinnige besoek daar bring, seker maak almal is tevrede, en dan sal hy sy ontslag teken.

Beeslaar se sake werk helaas selde so netjies uit. Sy moeilikheid begin sommer vroeg al toe hy op ‘n godverlate stuk pad ‘n papwiel kry en ontdek dat sy kollega, die bekkige sersant Ghaap, nie sy bakkie se domkrag teruggesit het nadat hy dit geleen het nie.

In die Kalahari aangekom, verdiep die intrige baie vinnig. Sommer met Beeslaar se intrap word Kappies de Vos, die Crocodile Dundee van die Kalahari en alombekende drinker en rokjagter, met ‘n mes aangeval en moet daar inderhaas met hom Upington toe gejaag word.

Mogale besluit om vir Beeslaar hulp te stuur. Nie net sy twee sersante, Ghaap en Pyl nie, maar ook die knap, maar hardegat luitenant-kolonel Cordelia Koekoes Mentoor.

Met haar aankoms is dit al duidelik dat Koekoes Mentoor ‘n geraamte in die kas het wat sy teen elke prys daar gaan probeer hou. Tot so ‘n mate dat sy nie na goeie raad of rede wil luister nie.

Terwyl Beeslaar, Mentoor en hulle kollegas probeer om al die raaisels op te los en die verdagte aan te keer, vlug Kytie Rooi met ‘n jong kind aan die hand uit Upington. Al wat sy weet, is dat sy in die Kalahari by die medisynevrou Antas heenkome vir haar en die kind sal vind.

Kytie is ‘n skoonmaker by ‘n luukse gastehuis op die dorp. ‘n Goeie en betroubare werker. As sy nie teruggegaan het na die Duitser se kamer toe om die mop te gaan haal nie, was sy nou by die huis. Sy kon dalk gemaak het of sy nie sien nie, maar dis nie so eenvoudig nie. Jy moes. Kytie, jy móés. Jy’t dan gesien wat daar gebeur het, jy móés! Vir sommige dinge kan jy nie jou oë toemaak nie, nie terwyl kleintyd se spoke nog in jou rondloop nie.

Die omgewing waar hierdie verhaal afspeel, is ‘n besonderse wêreld en die manier waarop die skrywer dit inklee, maak dat dit nog ‘n karakter word. En soos met die ander karakters is daar nie ‘n maklike pad deur die landskap nie. Dit mergel jou uit, en net die volgende oomblik bekoor dit jou. ‘n Subtiele sinspeling op ‘n mens se verhouding met die groter Suid-Afrika ook …

Brynard se navorsing vir hierdie verhaal is baie deeglik, maar sy wend dit slim aan. Dit belemmer geensins ‘n goeie storie nie.

Daar is baie storielyne wat soos wildspore heen en weer oor die duine loop. Sommige is duideliker as ander, sommige eindig sonder dat ‘n mens werklik weet waarheen hulle lei. Een so ‘n storielyn is Beeslaar en Gerda. Hy is duidelik hoopvol dat daar vir hulle ‘n toekoms saam is, maar die paar telefoonoproepe tussen hulle dra vir my nie veel by tot die verhaal nie.

Daar kon dalk ook ‘n karakter of twee minder gewees het. Koekoes Mentoor kon dalk een minder wilde jaagtog onderneem het en nou en dan dalk ‘n bietjie na rede geluister het. En die verwysing na Orania is een van die minder duidelike spore.

Hier en daar is ook ‘n teenstrydigheid of herhaling waaroor ‘n mens nie seker is nie, soos Beeslaar wat vir generaal Mogale sê hy wil nog daardie selfde dag Johannesburg toe ry en hy beplan nie om terug te kom nie. Daar word ook spesifiek melding gemaak van sy splinternuwe tweedehandse bakkie wat hy vir hom gekoop het, maar ‘n paar bladsye verder “sit hy op een van die mees godverlate vlaktes op aarde, en meantime moes hy op ‘n vliegtuig Johannesburg toe gesit het om ‘n nuwe lewe te begin”.

Van die verleidelike openingsin af: “Dit is tydens een van die Kalahari se rasende Februarie-storms dat Kytie Rooi ‘n moord pleeg”, tot aan die einde van die verhaal is ‘n mens bewus van die stem en hand van ‘n besonder knap storieverteller. Hierdie boek vestig Karin Brynard nog meer as een van Suid-Afrika se interessante, dapper en begaafde skrywers. Sy skrik nie om moeilike onderwerpe oop te krap nie, of haar lesers uit te daag nie.

Lesers van spanningsverhale, en ook diegene wat hou van iets meer om die lyf, sal beslis hierdie boek geniet, en vir ‘n lang ruk nog daaraan kan herkou.

Ek het skaars die boek toegemaak of ek het weer Seko se stem van vooraf begin lees.  En daar klap die bekneuker my weer.

Wilna Adriaanse

Resensies

 

myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close