Afrikaanse eBoek

Die Faktor Fantasie-reeks in Afrikaans

DIE FAKTOR FANTASIE-REEKS

Die jaar 2016 het vir my op ʼn hoë noot begin met die uitgee van twee fantasieverhale in Afrikaans. Die Vita Faktor was die eerste boekie in die reeks en ook my eerste poging in die fantasiegenre. Die Lucerna Faktor het kort op die hakke hiervan gevolg.

Na twaalf liefdesromans en novelles was ek lus om my hand aan iets anders te waag en hier is dan nou die vrugte van my verbeeldingsvlugte.

En wat ʼn vlug was dit nie.

In DIE VITA FAKTOR kry die wonderlikste karakters hul beslag. Hier betree ons die wêreld van Sapientia saam met Marcus de Virtus. Hy beleef allerhande vreemde gebeurtenisse wat hom hier op aarde te beurt val.

Sonder ʼn skurk is daar natuurlik nie ʼn storie nie, en die liegbek Timor speel ʼn sleutelrol met sy onheiligheid.

Net toe ek dink ek het met die bose Timor in Die Vita Faktor afgereken, toe maak hy weer sy verskyning in DIE LUCERNA FAKTOR en krap die Ryk van Lig so deurmekaar dat die duisternis op al die planete neerdaal. Hy waag dit om die Ligblom te steel, maar hy het hom met Falco Scuro misreken.

Waar kom ek aan al die karakters? Die tegnologie neem mens op verbeeldingsvlugte waar die mees onwaarskynlike karakters tot lewe geroep kan word. Bring hulle aarde toe, klee hulle met beide menslike en bo-aardse eienskappe en laat hulle in ʼn denkbeeldige plek weg van die aarde af woon. En daar begin jou karakter ontwikkel in iemand wat jy later soos die palm van jou hand ken.

Daar is natuurlik onbeperkte beweegruimte in die fantasie genre om die verbeelding vrye teuels te gee. Enigiets kan werk, enigiets is moontlik, al die inligting en kennis is daar buite. Dit moet dit net gevat en saamgesnoer word in ʼn lekker storie gevul met interessante karakters, gebeurlikhede en ook ʼn goeie skoot humor.

Ek het dit probeer doen in hierdie twee prettige fantasieverhale en het besluit om die boeke ook in die OMNIBUS 4: DIE FAKTOR FANTASIE-REEKS saam te vat.

OMNIBUS 4: DIE FAKTOR FANTASIE-REEKS (Afrikaans Edition)

Kom lees gerus wat sê lesers hiervan:

DIE VITA FAKTOR
Ek het onlangs Rachelle du Bois se heerlike debuut-fantasieverhaal, Die Vita Faktor, gelees en baie geniet. Die skryfster se verbeelding ken geen perke nie en sy gaan so gemaklik met die genre om dat mens sou dink sy is ʼn ou hand as dit by die skryf van fantasie kom. Dis ʼn voorreg om ʼn fantasieverhaal in Afrikaans te kan lees en ek hoop die skryfster kry die ondersteuning én erkenning wat sy verdien. Ek glo sy gaan ʼn hele klomp aanhangers werf. Ek is ook verheug om te verneem dat Die Vita Faktor die eerste boek in ʼn reeks is. Ek gaan beslis op die uitkyk wees vir die daaropvolgende boeke ook.

Louise Viljoen

Kort beskrywing

Marcus de Virtus voer ʼn rustige bestaan as ʼn suksesvolle kunstenaar op die dorpie Duiwelspiek in die ooste van Mpumalanga. Op ʼn dag ry ʼn taxi hom raak in die straat voor sy ateljee. Wanneer hy sy bewussyn in die hospitaal herwin, ontdek hy tot sy skok en ontsteltenis dat hy oor die vermoë beskik om onsigbaar te raak. Nog ander baie vreemde dinge gebeur met hom.

Daar is ʼn misterieuse vrou by sy bed met opvallende oë wat net soos syne lyk. Amandelvormige viooltjieblou oë. Presies nes syne. Wie is hierdie vrou met haar goue hare en geheimsinnige optrede? Sy oorreed hom om saam met haar te gaan. Sy neem hom op ʼn reis wat sy lewe handomkeer verander.

Die Vita Faktor neem oor en Marcus bevind homself meteens in twee wêrelde. Hy is nie meer seker wie of wat hy is nie. Sy alleen kan die raaisel van die Vita Faktor ontsluit, en hy moet haar noodgedwonge volg om ’n verklaring te vind vir die skokkende en ontstellende gebeure wat sy lewe oorgeneem het.

Is hy van sy sinne beroof of is daar waarlik iets meer, iets buite hierdie oomblik, asemteug, plek en tyd?

DIE LUCERNA FAKTOR

Rachelle du Bois doen dit weer! Hierdie talentvolle skrywer se 13de eBoek, Die Lucerna Faktor, die tweede boek in die opwindende Faktor Fantasie-reeks, is tans te koop.

Du Bois se verbeelding ken geen perke nie. Haar verhale is skoon, propvol avontuur, malse humor, liefde en heerlike fantasie. Ondersteun gerus hierdie onafhanklike skrywer. Afrikaans kan doen met skrywers soos sy.

Hier volg ʼn paar proetjies uit Die Lucerna Faktor:

Uittreksel:

“Klompies klein, knikkende kopbeentjies met klappende kakebene en knopperige knieë hardloop met litterige lyfies aan losserige lasse die hele Tenebris vol. Timor vryf verward oor sy ken en druk sy hand teen sy voorkop. Miskien is hy koorsig? Maar nee, sy voorkop is koel. Word hy dan nou stapelgek? Waar kom die spul grillerige geraamtetjies vandaan? Hy gil geskok toe van hulle op hom afstorm en hul ratelende tande in sy maer kuite inslaan. Hy spring en klap, trap hoog en laag, maar die benerige vingertjies gryp en klou vir ʼn vale.”

Uittreksel:

“Sy haal diep asem, word stil, roerloos, terwyl sy haar wortels uitstoot in die sagte, diep vrugbaarheid van die Aarde in. Sy lig haar arms en die groen sap van die lewe styg in haar lyf op tot sy ʼn stam vorm. Haar arms word sagte groen spriete en haar hande verander in teer nuwe blare wat stadig oopvou.
Daar vorm ʼn klein bloeisel, eers byna onsigbaar. Dit word groter, tot een vir een wasagtige blaar oopvou óm die sysagte kroonblare wat skitterend oopkelk asof daar ʼn lig van binne skyn. Die blom verhelder steeds tot kleurvolle, glansende spirale stadig daarom kolk en die hele reënwoud naderhand lyk asof dit deur die noorderligte verlig word.
Die skouspel duur nie lank nie. Die Lig verdof stadig, misterieus, tot net klein ligpuntjies meteens swiepende in die rondte tol in ʼn mal dans van kleurstrepe teen die donker.”

Uittreksel:

“Die slagslaners slaan op tromme, terwyl hulle kleurvolle pruike in alle windrigtings swaai. Snaarplukkers leun in ekstase agteroor tot hulle koppe byna aan die grond raak, terwyl die instrumente in hul benerige hande grom, huil en bewe. Die agtergrondkwakers het elkeen ʼn stormbord waarop hulle met kort stokkies tik. Voor elkeen is daar ʼn klankversterker wat hulle gille tot by die laaste linie van die verslae besoekers en deelnemers aan die Spele laat trek. Dan val die skreeubekke weg; hulle hardloop heen en weer, trippel, gil en skreeu by ronde bolle in wat op stokkies gemonteer is.”

Louise Viljoen

Kort beskrywing

Clara Lux is die Ligblom van die Ryk van Lucerna wat Lig verskaf aan die heelal. Haar taak is om haar Lig te laat skyn op die Waarheid, maar Timor van Falsum, die Ryk van Leuens, het ander planne. Hy waag dit om Lucerna binne te val en die Ligblom te steel in die afwesigheid van die heerser van Lucerna, Falco Scuro.
Die Donker Valk se lewensasem is gesteel – sy Lig is weg. Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte? Nie net is sy ryk duister nie, hy is in homself donker. Hy neem ʼn eed dat hy vir Clara Lux, die Draer van Lig, sal vind en terug sal bring na waar sy hoort. Timor, die Opperheer van Leuens, beter vlug, want Falco Scuro sweer dat hy hom gaan vernietig. Sal Falco daarin slaag om sy geliefde Clara te vind voordat die bose Timor haar Lig vir altyd verdoof?

Die versameling is nou beskikbaar by:

https://www.amazon.com/dp/B01N0A2D8D

Tags: , , , ,
Rachelle
Rachelle du Bois is in Modimole (eertydse Nylstroom) gebore en woon steeds in Suid-Afrika in Mpumalanga saam met haar gesin. Sy het haar eerste boek op tienjarige ouderdom gelees en sy lees nog steeds gemiddeld een boek elke twee dae. (Ja, sy slaap en skryf ook soms!) Soos ʼn spons neem sy alles op en in, maar sy glo daar kom ʼn tyd in enige mens se lewe wat jy moet begin teruggee. Sy het nog nooit soveel vreugde en pret gehad soos juis nou nie. Sy gebruik die skrywersnaam Rachelle du Bois ter wille van haar kinders se pleidooie! Sy skryf en voltooi haar eerste volledige liefdesnovelle in Augustus 2013, waarna sy vyftien ander boeke skryf in beide Afrikaans en Engels. Dit sluit twee fantasieverhale in. Twee van haar liefdesromans/novelles is komies van aard, vol guitigheid, stuitigheid, lag en pret. Die ander boeke is van ʼn meer ernstige aard en spreek werklike lewenskwessies aan. Sy probeer haar verhale eerlik hou en sy skryf uit die hart oor die lewe, oor lief en leed, oor lag en huil. Haar karakters leef in hierdie eeu en beleef pyn en swaarkry, hulle lag en speel en het lief sonder skroom. Hulle vind romanse in elke faset van die lewe. Hulle oorleef omdat hulle kies om voluit te lewe. Haar doel is om bewustheid van die mens se innerlike krag te kweek, om haar lesers diep te laat delf op soek na die kern van die self, om opnuut die wonder van menswees en van die liefde te ontdek. Sy deel allerlei interessante dinge oor haar werk, deel haar wysheid en insig, die wonder van die gedig. Vir meer inligting oor haar Afrikaanse boeke, besoek https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close