Fantasie in 2016

Rachelle du Bois

Laas jaar het vir my op ‘n hoë noot begin met die skryf en uitgee van twee fantasieverhale in Afrikaans. Ek het my hand gewaag aan iets wat vir my splinternuut was en my eerste tree gegee met DIE VITA FAKTOR. Ek het dit so geniet dat ek toe sommer voortgaan en DIE LUCERNA FAKTOR ook skryf.
Die fantasie genre is nog relatief nuut in Afrikaans en die moontlikhede is groot. Dis ook vir mý nuut en daar het vir my ‘n nuwe wêreld van moontlikhede oopgegaan.

Hoekom fantasie?

Ek het ʼn goeie verbeelding – soos enige skrywer. Ek lees en kyk wyd en is oop vir nuwe idees en konsepte. Daar is natuurlik onbeperkte beweegruimte in die fantasie genre om my verbeelding vrye teuels te gee. Enigiets kan werk, enigiets is moontlik, al die inligting en kennis is daar buite. Ek moes dit net vat en saamsnoer in ʼn lekker storie gevul met interessante karakters, gebeurlikhede en ook ʼn goeie skoot humor.

Ek het die twee boeke in die Faktor-reeks geskryf omdat ek gereed was vir iets nuuts na 12 liefdesromans uit my pen. Ek het besluit dis tyd om my skryf- en storievaardigheid uit te brei en die fantasiewêreld was ʼn aantreklike alternatief.

Waar kom ek aan my karakters?

Die tegnologie neem mens op verbeeldingsvlugte waar die mees onwaarskynlike karakters tot lewe geroep kan word. Bring hulle aarde toe, klee hulle met beide menslike en bo-aardse eienskappe en laat hulle in ʼn denkbeeldige plek weg van die aarde af woon. En daar begin jou karakter ontwikkel in iemand wat jy later soos die palm van jou hand ken.

Waar kom ek aan die titels van die boeke?

Die titel het eers werklik in my gedagtes gevestig na ek Die Vita Faktor klaar geskryf het. My vraag aan myself was: waaroor gaan die boek werklik? Dit gaan oor die lewe en die dood. Oor die Ryk van Sapientia, wat vir die lewe staan -Vita beteken Lewe – teenoor Timor en Tenebris – die plek van die dood.

Die Lucerna Faktor gaan oor lig en donker. Die Ryk van Lig (Lucerna beteken lamp) wat teenoor Timor en sy Ryk van Falsum en die duisternis staan. In Die Lucerna Faktor het ek voortgebou op die grondslag wat ek in die eerste boek gelê het met die bestaande karakters en het daarby twee nuwe karakters geskep, Falco Scuro en die Ligblom, Clara Lux. Die omgewing bly dieselfde en natuurlik is die duistere en uiters vermaaklike Timor ook deurlopend teenwoordig.

Hoe ontwikkel ek intrige en karakters?

Ek begin deur die sinopsis te skryf en dan die spieëloomblik waar die hoofkarakter teen homself te staan kom reg in die middel van die boek. Van daar af weet ek waaroor die boek handel en wie die karakters is. Ek gebruik ʼn raamwerk met mylpale waartussen die intrige ontvou en die karakters ontwikkel.

Ek het geweet Marcus de Virtus (Die Vita Faktor) is meer as waarvan hy bewus is en het die storie dus uit hierdie kernvraag ontwikkel: “Is hy van sy sinne beroof of is daar waarlik iets meer, iets buite hierdie oomblik, asemteug, plek en tyd?”
In Die Lucerna Faktor kom Falco Scuro voor sy eie donkerheid te staan met die kernvraag: Hoe het hy hier gekom? By hierdie punt waar hy so verdwaal het in sy eie donkerte? Van daar af ontwikkel die storie weerskante toe.

Hoe belangrik is die skurke in my verhaal?

Sonder die skurk is daar nie ʼn storie nie. In Die Faktor-reeks speel Timor ʼn sleutelrol met sy onheiligheid. Hy span ook saam om die humor te laat werk.

Meer oor die hoofkarakters

In DIE VITA FAKTOR is die hoofkarakter Marcus de Winter, ʼn koppige man wat weet wat hy wil hê en hy weet hy wil niks te doen hê met die vreemde dinge wat skielik met hom gebeur nie. Hy laat hom nie gebruik nie en hy laat hom nie voorsê nie. Hy bied hewig weerstand teen die gedagte dat hy van elders afkomstig is, tot die bewyse van ʼn ander bestaan op ʼn ander plek nie meer ontken kan word nie. Toe hy eers besef dat hy vir groter dinge bestem is, werp hy hom hart en siel in sy taak. Hy is immers die Opperbeskermer van die Ryk van Sapientia. (https://www.amazon.com/dp/B01FWLXH3S)

DIE LUCERNA FAKTOR se Falco Scuro is ‘n baie sterk, manlike karakter wat sy verantwoordelikheid om lig aan die ander ryke te verskaf, baie ernstig opneem. Toe die onhebbelike Timor die lig uit Lucerna steel, sak die duisternis oor Falco se ryk en die ander ryke toe. Falco se karakter is sterk en gevaarlik, onwrikbaar en passievol. Toe Timor dit waag om die Ligblom van Lucerna, Clara Lux, te ontvoer, ontstaan daar chaos met ‘n woedende Falco op Timor se spoor. Maar wat gebeur toe Clara vir Timor ontglip en verdwyn? (https://www.amazon.com/dp/B01FUNBS5C )

Elke boek bring sy eie vreugde. Ek is baie dankbaar en so opgewonde oor hierdie sprong na ʼn heeltemal nuwe wêreld. Ek hoop jy gaan die twee boekies lees en dit saam met my geniet.

 

Rachelle du Bois

OMNIBUS 4: DIE FAKTOR FANTASIE-REEKS (Afrikaans Edition)

Rachelle
Rachelle du Bois is in Modimole (eertydse Nylstroom) gebore en woon steeds in Suid-Afrika in Mpumalanga saam met haar gesin. Sy het haar eerste boek op tienjarige ouderdom gelees en sy lees nog steeds gemiddeld een boek elke twee dae. (Ja, sy slaap en skryf ook soms!) Soos ʼn spons neem sy alles op en in, maar sy glo daar kom ʼn tyd in enige mens se lewe wat jy moet begin teruggee. Sy het nog nooit soveel vreugde en pret gehad soos juis nou nie. Sy gebruik die skrywersnaam Rachelle du Bois ter wille van haar kinders se pleidooie! Sy skryf en voltooi haar eerste volledige liefdesnovelle in Augustus 2013, waarna sy vyftien ander boeke skryf in beide Afrikaans en Engels. Dit sluit twee fantasieverhale in. Twee van haar liefdesromans/novelles is komies van aard, vol guitigheid, stuitigheid, lag en pret. Die ander boeke is van ʼn meer ernstige aard en spreek werklike lewenskwessies aan. Sy probeer haar verhale eerlik hou en sy skryf uit die hart oor die lewe, oor lief en leed, oor lag en huil. Haar karakters leef in hierdie eeu en beleef pyn en swaarkry, hulle lag en speel en het lief sonder skroom. Hulle vind romanse in elke faset van die lewe. Hulle oorleef omdat hulle kies om voluit te lewe. Haar doel is om bewustheid van die mens se innerlike krag te kweek, om haar lesers diep te laat delf op soek na die kern van die self, om opnuut die wonder van menswees en van die liefde te ontdek. Sy deel allerlei interessante dinge oor haar werk, deel haar wysheid en insig, die wonder van die gedig. Vir meer inligting oor haar Afrikaanse boeke, besoek https://rachelledubois.com/nuwe-boeke/

Sorry, user comments are closed for this post.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close