Hoofstuk 1 Liefdes #eBoeke

LIEFDES

HOOFSTUK EEN
Noodlot. Die Grieke het ‘n naam daarvoor: Moira. ʼn Mooi naam, ‘n vrou se naam. Daar was beslis ‘n vrou – en watter vrou! Maar dan was daar ook ‘n man; ‘n outjie so sexy en verleidelik as wat Theunis Stefanus Celliers al ooit in sy lewe geken het. Cassandra en Dion Papadopoulos, ‘n Griekse niggie en neef wat met mekaar kibbel en baklei soos twee gode op berg Olympus. Nou seker nog meet as ooit, dink Theunis terwyl hy agter in die streklimo sit en deur die neon strate ry op pad na die teater toe in Braaffontein. Langs hom is sy skattebol dogter Annie; twaalfjaaroud en ougat soos ‘n haasbekkie.

Annie en die chauffeur is nie die enigste wesens in die lang motorkar nie. Theunis kan voel hoe die skimme van baie mense onrustig om hom woel in die luukse fluweel. ‘n Nabyheid van geeste; hulle fluisterende stemme soos wit-geraas in sy oorsensitiewe ore, en hulle teenwoordigheid, ‘n helder lig wat van binne af op sy op sy blinde oë val. Dis nie net die spoke van die lang-vergete dooies wat by hom goël nie; soos die van die blinde siener Tiresias, en die noodlottige Oedipus van Thebe nie, maar ook dié van die lewendes – meeste van almal, sy oudste dogter Esmé. Sy dogter wie hy weggedryf het met sy hittige vergryp aan seks en drugs, en sy onverskillige dwaasheid en indiskresie. Sy oormatige trots. Vir dit het die Grieke ook ‘n woord: Sy hubris. Wie kan sy darling Esmé kwalik neem dat sy haar rug op hom gekeer het?

Dan was daar ook die balsturige spook van Dion Papadopoulos wat saamry teater toe; die parmantige twenty-something maverick wat hom van sy sinne beroof het, en wie se skoonheid die kraak in sy mondering sonder moeite uitgesnuffel het. Hoe dit gebeur het, of eerder, hoe hy kon toelaat dat die slordige verhaal enigsins plaasgevind het, weet Theunis nog steeds nie eintlik nie. Dan herinner hy homself daaraan dat mens se hart en jou drange duistere truuks met jou kan speel. Dat dit jou kan stoot in rigtings waarvan jy die eindbestemming nouliks kan droom. Tog kan hy ook nie help om te wonder of alles wat gebeur het, hoe pynlik ook al, dalk nie bestem was om te gebeur het nie, en vra hy homself vir die soveelste keer af, dat as hy in die toekoms in kon sien, hy ooit destyds in die pad sou geval het wat so aanloklik vir hom gewink het, maar dan kom hy weer tot die sober besef, dat ongeag wat die Sieners van hierdie wêreld eis, niemand, absoluut niemand, die toekoms kan voorspel nie. Beslis nie hy nie.

Ook is daar die skim van Cassandra Papadopoulos, Gautengse LUR vir Kuns en Kultuur, wat saamry in die limo. Die vrou wie hy verafgod het, en wie hy so vieslik geskend het. Ergste van almal voel Theunis die nabyheid van die skadubeeld van Bazileus Papadopoulos; meneer ‘Super Hellenic,’ self. Al hierde geeste; die lewendes en die dooies op wie sy lewe, en sy toekoms balanseer soos op ‘n wig, ry saam teater toe. Van hulle almal is dit net sy jongste dogter, sy darling Annie, wat hom nie weggesmyt het soos ‘n vrot stuk afval nie.

Die noodlot het hom ingekatrol so seker soos ‘n vangriem ‘n bulkalf grond toe bring om gebrandmerk te word. Hoe dit ook al sy, dink Theunis, hy gaan beslis nie toelaat dat die vloek van die Skikgodinne ‘n slagmes teen sy nek hou om hom gedwee na die altaar te lei soos ‘n bloedoffer nie – maak nie saak wat die noodlot bepaal, of in die sterre geskryf staan nie. Vanaand sal alles geregverdig word. Alles sal besweer word. Of so bid hy.

Dit het alles twintig maande gelede begin – die dag toe hy in Bazileus Papadopoulos se kantoor by Super Hellenic gesit het en die gig gekry het wat sy hele lewe bollemakiesie laat slaan het.

*

“Dink net Theunis – jy gee nie om dat ek jou op jou naam noem nie?” borrel Bazileus Papadopoulos, Meneer Super Hellenic ‘Kos vir die Nasie’ geesdriftig voort; sy netjiese sout-en-pepersnorretjie skoon aan’t bewe van opgewonde afwagting. “Troy, The Gladiator, Alexander the Great, almal groot box office hits. Ons show oor die legendes van Thebe gaan hulle almal ore aansit. I guarantee it will make a killing. Ek’s ‘n besigheidsman. Ek weet waarvan ek praat.”

Dit is op die punt van Theunis se tong om die grootbaas van Suider-Afrika se reuse voedsel-kettingwinkel te herinner, dat die shows waarna hy verwys deur die bank almal blockbuster Hollywood ekstravaganzas is met groot sterre wat die internasionale loket laat nova gaan – allesbehalwe rock-musicals wat vir die plaaslike mark geskep is, maar hy plaas ‘n wag voor sy mond voordat hy so faux pas begaan. Die laaste ding wat hy wil hê is om die rykste Griek in die land, wat so onverwags tot sy redding kom, reg te wys en hom miskien af te pis. Veral ook omdat Bazileus Papadopoulos sy vrou, Penny, se advertensie-agentskap se grootste kliënt is. “Dit klink beslis great Meneer Papadopoulos,” skerm Theunis, vasbeslote om oop kaarte te speel, “maar ek moet eerlik met U wees. Ek het nog nooit so groot projek aangepak nie.”

“Nonsens,” gooi Bazileus sy hande op in ‘n poging om Theunis gerus te stel. “Natuurlik kan jy dit doen. Dis net ‘n kwessie van fokus en harde werk. Wie beter as ‘n musiekster om ‘n rock-opera te skryf. Dink net aan al die dramas wat daar afgespel het in Thebe gedurende die outyd. Mens kan tot vandag toe nog nie op hulle verbeter nie. Semele en Zeus, Pentheus en Dionysos, Oedipus en Jokasta, en moenie vergeet van Tiresias, die blinde ou siener wat as beide man en vrou geleef het nie,” ryg Bazileus die mitiese name in asof hulle ou vriende is, terwyl Theunis net ‘n paar van jare gelede se lees, onthou. “Seks, bloedskande, en kindermoord. Wat kan meer opwindend wees as sulke scandals,” wil Bazileus weet terwyl hy gretig vooroorleun in sy stoel. “Veral die seks is nes baie rock-sterre se lewens, present company excluded of course,” voeg hy gou by in die lag.

“Dis baie lank gelede dat ek ‘n rock-ster was meneer Papadopoulos,” lag Theunis saam, tenspyte van sy bedenkings. Tog is hy ook gevlei dat iemand so onwaarskynlik as Bazileus Papadopoulos van hom en van sy gewese loopbaan sou weet. Nou is hy in sy dertigs, en getroud met twee dogters, en voel dit vir hom asof daar ‘n hele leeftyd verby gegaan het toe hy as ‘n jong popster met ‘n paar bubble-gum albums agter sy naam, die ganse land plat getoer het met sy band. Lekker los dae beslis, maar definitief lankal verby. “Al wat ek deesdae doen is om jingles vir advertensies te komponeer. Nie dat daar enige iets verkeerd of minderwaardig is met jingles nie,” voeg hy gou by voordat Bazileus dalk mag dink hy is ondankbaar vir die werk wat Super Hellenic hom gee deur sy vrou Penny se reklamemaatskappy. “Dit hou die pot meer as aan die kook. Dankie.”

“Once a star always a star,” vat Bazileus nie nee vir antwoord nie – nog minder koop hy Theunis se beskeide aarseling. “After all hoe anders kan dit wees? Musiek is musiek, maak nie saak waarvoor dit geskryf word nie. In my opinie is daar net goeie en slegte musiek, en wat ek van joune gehoor het dink ek dit is box-office materiaal. Anders sou jy nie nou hier gesit het nie. Vat byvoorbeeld daardie song van jou, ‘Afrodiete van my Drome,’ toe ek dít hoor het ek geweet ek het my man.”

“U ken daardie liedjie?” is Theunis verbaas dat Bazileus die ou schmaltzy ballade ken; die jeugdige prikkeling van maanverstrooide verlange.

“Maar natuurlik ken ek jou songs. My seun Dion luister die heeltyd daarna. Baie catchy as jy my vra. Dion is ‘n groot fan van jou. Hy’t nog al jou plate en plakkate. Jy was baie mooi as ek mag sê. Nog steeds,” voeg Bazileus sonder skroom by, wat Theunis weer laat dink hoe sjarmant en innemend die Griek is. “‘Jy is die Afrodiete van my Drome…’” rasper Bazileus die melodie onder sy stem, terwyl hy ingedagte staar na die oorkantste muur van sy oorvol kantoor waarteen ‘n ou gebleikte prent van die Parthenon hang tussen ʼn chaos van familiefotos; party van die mense in die wit en swart kiekies wat lyk asof hulle passasiers kon gewees het op Noag se ark. Nou eers kom Theunis agter dat die eer van plek in die kantoor aan ‘n heel skaflike skildery van ‘n sneeu bedekte berg Olympus hoort wat teen die muur agter Bazileus se lessenaar pryk. “… ‘n skim van lig. ‘n Glim in die niet… Afrodiete, orakel van my droom. Liefdeshaat van verwydedring…, ’” grom Bazileus voort voordat dat hy weer sy aandag op Theunis spits.

“Soos ek gesê het Theunis, ‘n baie catchy tune. Die woorde ook. Baie Grieks – veral die oksimoron,” lag Bazileus ingenome terwyl hy agteroor leun in sy stoel. “Sien jy, ek is nie so ‘n konserwatiewe ouman as wat julle jongmense dink nie. Ek ken vandag se musiek, en ek gaan nie nee vir ‘n antwoord vat nie,” is hy skielik weer doodernstig. “Hierdie musical gaan my bydrae wees tot die kultuur van ons land. Dit moet ons Griekse erfenis in Suid-Afrika vier. Ons moet nooit ons mites vergeet nie. In hierdie land wil mense deesdae net hulle Afrika wortels erken. Om ons Europese verlede af te maak as niksseggend, is om blind langs ‘n besige hoofweg te loop. Dit sal ‘n fout wees, en ook ‘n groot verlies as ons so ‘n ryk element van ons nasie se oorsprong sou vergeet. Hierdie land sal baie armer wees. Ons kan dit nie bekostig nie. My broersdogter, Cassandra, is altyd aan die torring met my oor juis hierdie kwessie. Nou is ek vasbeslote om iets daaraan te doen. Ek moet sê, ek voel ‘n bietjie soos Pericles van Athene wat dit ‘n lewensplig gemaak het om die kunste te bevorder. As dit nie vir hom was nie het ons vandag nie die Partenon gehad nie. Glo my, dis ‘n heerlike gevoel. Soos Andrew Carnegie gesê het, ‘om geld te maak is lekker, maar dis baie lekkerder om geld uit te gee vir goeie sake,” is Bazileus in sy skik. “Skryf vir ons ‘n hit Theunis en dit sal wees asof ons wegloop met die eerste prys op die groot fees van Dionysos in Athene. Jy weet die Grieke het in die outyd ‘n prys gegee vir die beste drama op die fees. Nes by die Olimpiese spele. Ons Grieke het nog altyd ‘n kompetisie van alles gemaak. Ek dink dis omdat ons daarvan hou om te wen.”

“Is dit nie waar van ons almal nie meneer Papadopoulos?” hou Theunis ten spyte van sy verdenkings, meer en meer van wat hy hoor.

“There you have it then. Nou verstaan jy waarom jy dit móét doen,” glip Bazileus blitsvinnig deur die gaping wat Theunis vir hom gee. “In ‘n bietjie minder as twee jaar van nou af, beplan ons om ‘n groot Griekse festival dwars oor die land te hou. Ons ‘Legendes van Thebe,’ moet die kroon van die verrigtinge wees – ‘n glamorous aand wat almal penorent sal laat sit, en waarop ons almal trots gaan wees.”

“Bietjie minder as twee jaar,” roep Theunis onwillekeurig uit, en dink hy om so ‘n groot projek aan te pak nie juis dieselfde is as om gou-gou in ‘n Super Hellenic winkel in te draf om een van laas Kersfees se gerookte hamme op special op te raap nie. “Dit gee ons bitter min tyd meneer Papadopoulos,” skerm hy.

“Ek dog jy hou van ‘n uitdaging,” kyk Bazileus hom aan asof die kontrak alreeds geteken en ‘n fait accompli is.

“Ek doen, ek doen,” is Theunis gou om te sê.

Hierdie gig was presies wat hy nodig het om hom uit die leë valgat van die sinnelose musiek wat hy deesdae moet komponeer te red, maar bietjie meer as agtien maande om ‘n volledige musiekspel te skryf was soos om die noodlot se stert te knyp, dink hy. Om mee te begin was daar ‘n berg van navorsing wat hy sal moet doen. Die legende van Oedipus onthou hy. Hy was die Freudiaanse ou wie sy pa vermoor, en sy ma getrou het. Zeus en Dionysos ken hy ook – al twee gode van die ou Grieke, maar wie de hel was Semele en Pentheus, om nog Tiresias te noem?

“Die Grieke in Kaapstad hou dieselfde tyd ook ‘n fees,” gaan Bazileus driftig voort met sy beplanning. “Ons kan ons show ook soontoe vat. Wie weet, miskien toer ons al die pad na Broadway toe. Sal dit nie grand wees nie?”

Theunis sit en luister na Bazileus met groeiende ongeloof, maar, voordat hy ‘n demper op die man sy entoesiasme kan plaas, gons die outydse interkom op Bazileus se oorvol lessenaar. Die patriarg van Super Hellenic leun vooroor en druk ‘n knoppie waarna die blikkerige stem van sy sekretaresse hom meedeel dat daar ‘n krisis besig is om te ontwikkel waaraan sy dink hy moet aandag gee.

“Jy moet nou soos Jason van ouds vir ons die Goue Vlies gaan kry Theunis,” sê Bazileus in die opstaan om hom na die deur toe te wys,” die Goue Vlies wat ons show gaan wees. Jy weet, met jou vrou wat al ons advertensies maak, en jy wat ons jingles skryf, voel ek skoon ons is familie. Ek kan regtig aan geen beter mens as jy dink om ons musical te skryf nie. Gaan dink na oor my voorstel en gee my jou antwoord, maar moenie te lank sloer nie hoor. As jy nie kans daarvoor sien nie, sê my gou sodat ek aan iemand anders die opdrag kan gee. Ek sal verstaan. After all, soos ek gesê het, I’m a businessman myself,” sê hy met super inskiklikheid, maar net vir ‘n oomblik speur Theunis ook die ongenaakbare sakeman onder die vriendelike persona van Bazileus se vaderlike welwillendheid. “Oor ‘n jaar-en-‘n-half het ons ‘n deftige premiere in die teater in Braamfontein,” borrel Bazileus voort asof hy al klaar sy uitgesoekte gaste trakteer met cocktails en calamari op die openingsaand.

“Ek beloof ek laat U so gou as moontlik weet,” skud Theunis Bazileus se hand, meer en meer ingenome met die man.

“Jy weet,” lag Bazileus terwyl hy die deur van sy kantoor oophou en Theunis gemoedelik op die skouer klop, “om jou te ontdek voel amper asof ek self ‘n orakel ontvang het. Jy en jou vrou moet tog gou by ons kom eet,” nooi hy hartlik uit by wyse van afskeid.

Soos met Hermes, die boodskapper van die gode, is daar vleuels aan Theunis se enkels wanner hy die hysbak instap op pad na sy motorkar toe wat onder in die straat geparkeer staan. Ongeag die swaar tema van die legendes van Thebe en sy aanvanklike twyfel, is hy in sy sewende hemel oor die opdrag. So ‘n gig val nie sommer aldag in ‘n mens se skoot nie, en hier daal dit van ‘n liefdadige wese in die paradys op hom neer, wat op ‘n haar soos Bazileus Papadopoulos lyk. Hy is ook bewus daarvan, dat sou hy volle reg aan hierdie kommissie laat geskiet, dit ‘n gewaarborgde mandaat na ‘n helder nuwe wêreld is – ‘n wêreld waarin hy desperaat was om sy regmatige plek in te neem – soos Bazileus gesê het; hy sal die Goue Vlies ontdek.

Meer as dit, die show sal hom instaatstel om vir ewig en altyd vaarwel te roep aan die saai bestaan van sy huidige lewe, dink hy. Sy huwelik aan ‘n tiran van ‘n vrou wat tien jaar ouer as hy is, en hulle gemeenskap van een-vlees so koud soos nat as – binne en buite die katel. Om nie eers te praat van sy skeppende werk nie; as mens hoegenaamd so ‘n verhewe woord aan die vaal formule-gedrewe rympiemusiek wat hy deesdae komponeer kan koppel; die onophoudelike uitkarring van betekenlose jingles wat baked beans en seep moet verkoop, kon netsowel deur ‘n pianola uitgetokkel word.

Die enigste ding wat sy lewe draaglik maak en waarde gee, reken Theunis terwyl hy flink aanstryk na sy netjiese rooi Alfa Spider toe, was sy twee dogters, Esmé en Annie. Hulle alleen is die onskatbare kern van sy bestaan. Die spil waarom sy lewe draai, maar ook snaaks genoeg, die rede hoekom hy in die eerste plek opgehou liedjies skryf en sing het. Vir hulle moes daar ‘n standvastige inkomste geskep word sodat hulle sonder geldelike knyp die beste kon kry wat hy kan lewer. Om dit te doen was daar ‘n prys om te betaal. Hy moes vaarwel roep aan die sorgvrye en egosentriese bestaan van ‘n popster. Nou met hierdie offer van Bazileus was daar nuwe hoop om homself en sy kuns van vooraf te herontdek, en voel hy gelukkig dat dinge definitief noordwaarts aan die op-en-op was.

So blyhartig en ingedagte soos hy is, is dit eers toe hy in sy motor klim dat hy agterkom die straat voor die hoofkantoor van Super Hellenic ongewoon stil en verlate is. Gewoonlik die tyd op ‘n Vrydag is die stad ‘n miernes van aktiwiteit, maar vandag is dit anders. Die rede is gou duidelik. Verder straatop sien hy ‘n groeiende massa werkers van Super Hellenic wat saamdrom, party met plakkate in die hand wat hoër lone en beter werksomstandighede eis. Alreeds staan die polisie nader, en hy sien selfs ‘n paar mediamense, hulle kameras aan die flits, en is dit nie lank nie of die optog begin toi-toi, en al singende die straat af in sy rigting beweeg. Tyd om pad te gee besluit hy terwyl hy haastig die sleutel draai, maar al klank wat die Alfa maak is ‘n pynlike tjank, ‘n stotter, en daarna stilte. Hy swets onder sy asem en probeer weer. Niks. Hy vloek harder en draai die sleutel weer en weer, asof uit blote herhaling, en sy eie wilskrag, die verdomde kar sal vonk vat. Intussen dans die moerige optog werkers al nader, met hulle skril gefluit en ritmiese voetestampe weergalmend teen die geboue.

Gou trek Theunis die kapsluit om die enjin oop te maak en spring hy uit die Alfa uit, maar hy kon net sowel gestaar het na die kragbron van ‘n atoomduikboot, so ingewikkeld is die chroompype en kleppe onder die kap. Voor hy weer terug in die kar kan klim om vir hulp te bel, is die opmars soos ‘n borrelende vloed op hom wat hom hopeloos en al spartelend wegsleep straataf, asof hy niks meer is as ‘n stuk dryfhout wat magteloos meegesleur word deur ‘n strydlustige golf mense nie.

*

“Is Pappa bang?” onderbreek Annie langs hom in die limousine sy gedagtesstroom.

“Meer opgewonde Skattebol,” antwoord hy, terwyl hy dink hoe goed ‘n stywe dop whiskey nou sou afgegaan het. Hy weet dat hierdie luukse motors gewoonlik met ‘n goedtoegeruste kroeg kom, maar weerhou hy homself daarvan om vir Annie te vra om vir hom twee vingers te skink. Die laaste ding wat hy wil hê is om by die teater op te daag met drank op sy asem, en dink hy dat dit al klaar genoeg is dat hy blind was, sonder dat hy nog tipsy ook moet wees. ‘n Gevalle en blinde man wat dronk by die trappe van die teater opstrompel met sy hand op die skraal skouertjie van sy jong dogter. “En senuweeagtig,” bieg hy verder aan sy hartlam.

“Ek is glad nie bang nie Papa,” vat Annie sy hand, maar kan hy voel hoe klam haar palm van senuspanning is. “Dis awesome. Papa se musical gaan ‘n groot hit wees. Ek wed Papa.” Uit die mond van suigelinge, dink hy.

So volgeskiet soos sy gemoed is deur haar onwrikbare vertroue in hom, en wat die aand dalk mag inhou, herinner hy homself weer dat niemand in die toekoms kan sien nie, Nostradamus en Siener van Rensburg nieteenstaande. Volgens die oorlewing was die enigste persoon wie dit kon doen die Pythia by die orakel van Delphi in Griekeland; die Priesteres van die god Apollo. Alleen sy kon deur die benewelde duisternis in die toekoms instaar. Van wat werklik is, en wat sal wees.

Hoe dit ook al sy, dink Theunis, al wat ‘n mens in jou eie lewe te doen staan, was om die twyfel tersyde te skyf, en net te glo dat alles op die ou-end sal uitwerk, maak nie saak wat voorafgegaan het om daarby uit te kom nie, en is hy oortuig daarvan dat Tiresias, die blinde ou siener van Thebe, heelhartiglik saam met hom sou gestem het.

Tiresias. Tiresias die man wat hy goed geleer ken het deur ‘n ou roman wat hy heel toevallig gekry het by sy dogters se skoolbazaar. Die woorde van die ou verrinneweerde boek wat hy omtrent uit sy kop uit kan opsê. Tiresias, die blinde siener van die brons-eeu wie se woorde hom bygestaan het deur al die verskriklike tye wat gevolg het.

Weke lank het Esme en Annie, en hulle beste vriendin Phumi, tweedehandse boeke in die buurt bymekaargemaak om by die skoolkermis te verkoop, met die doel om te help geld insamel vir die skool se jaarlikse musiekblyspel. Hierdie jaar Joseph and his Amazing Technicolor Dreamcoat. Soos gewoonlik het Penny gedros Kaapstad toe vir besigheid, en hom gelos om alleen te help met sy dogters se boekestalletjie.

*

Na Theunis Penny se tenk van ‘n 4X4 geparkeer het op die skoolterrein, is hy en Esme en Annie, deur ‘n jong onderwyser, wat self skaars ouer as ‘n skoolseun lyk, geneem na hulle stalletjie toe in die vierkant tussen die klaskamers.

‘n Karnaval van musiek blêr uit die luidsprekers wanneer hulle die oop tentjie hulle eie maak; reg langsaan die verversingstuin waar ‘n tienerseun, stylvol uitgedos in die jongste grunge- mode, ou vinyls spin op ‘n platespeler, terwyl hy bop op die maat van die musiek asof in opdrag voor miljoene. Oral is daar ouers, onderwysers en swerms kinders wat gasstowe aansteek vir boerewors braai, pannekoek bak en wafels maak. Om hulle is ‘n menigdom tafels oorlaai met snuisterye te verkoop, self ‘n tombola – iets wat Theunis jare laas gesien het.

Nes verwag, na ‘n haastige Esmé en Annie hom gehelp het om al die bokse ou boeke op die verskafde boktafel neer te gooi, verdwyn hulle skoonveld om hulle vriende te gaan soek, en laat hulle hom alleen agter om die leesstof op sy eie uit te pak en in kategorieë te sorteer. Nie dat hy omgee nie, daarvoor is sy gemoed te blymoedig oor die opgewekte gees van welwillendheid wat soos lag-gas hang oor die kampus. Oral groet-roep vriende en ouers mekaar in bonhomie en kameraadskap, en offer hulle wenke en raad aan almal wat die moete doen om belang te stel. Party mense praat sommer net saam, bloot net om hulle stemme te laat hoor. Vir Theunis is dit duidelik dat almal ‘n dekselse goeie tyd het.

Sy regpakwerk gedoen – romans aan die kant, ou ensiklopedieë, wat hele volumes vermis, aan daardie kant, verslete en kosbevlekte kookboeke hier, nougesette tekste oor verouderde etiket en obskure biografieë, daar. Kinderstories, speurstories, avontuurverhale, geskiedenisboeke, bundels poësie – die hele parafernalia van die menslike bestaan uitgelê op die tafel voor hom. Hy was op die punt om ‘n verdwaalde seun met wilde hare nader te roep om vir hom ‘n Coke te gaan koop toe hy agterkom dat daar nog ‘n hele doos boeke vergete onder die tafel staan.

Met die nadersleep sien hy dat die meisies nie eens pryse op die boeke gemerk het nie. Dis toe hy vergeefs soek na ‘n pen dat hy sien die vrou by die stalletjie langs syne, ‘n hele klugfantasie van skryfgoed te kope het. Elke novelty potlood het ‘n wisser boaan wat uitgesny en koddig geverf is in gedaantes van narre, oulike diertjies en cartoon-karakters; ‘n histeriese sirkus wat kleurvol penorent baljaar in ‘n fles.

Die vrou se rug is na hom toe gedraai en sy skrik effens toe hy met haar praat, net vir haar appelwange om nog rooier te bloos as wat hulle alreeds is wanneer sy hom erken. “Theunis,” is sy van stryk gegooi.

“Jammer om te pla, maar ek wonder of ek een van jou potlode kan koop.”

“Help jouself. Ons het nog nooit kennis gemaak nie. My Jacqui is in jou Annie se klas. Ek weet natuurlik wie jy is,” is haar giggel beskeie en ‘n bietjie verbouereerd. “Afrodiete van my Drome bly nog altyd een van my gunsteling songs. Voordat ek my man ontmoed het, het ek selfs een van jou plakkate teen my muur gehad.”

“Dit was ‘n lang tyd gelede,” lag Theunis gevlei. “Nou’s ek net ‘n Pa.”

“Dis rêrig jammer jy sing nie meer nie,” gryp sy die kans om kommentaar te lewer oor sy gewese loopbaan. “Ek is mal oor jou musiek, veral jou moves was nice,” voeg sy skertsend by. “Katie, Katie Siemens,” gee sy Theunis die hand. Dis plomp en sagmoederlik. “Wag tot ek Jack vertel met wie ek gepraat het. My man. Hy’s net so crazy oor jou musiek. Ons het baie gelangarm op jou songs.” Theunis lag en bedank haar en kies dan ‘n Hot Stuff potlood, en is dit asof die rooi duiweltjie vir hom knipoog.

Amper toe Theunis klaar was om die laaste van die boeke te prysmerk kom hy op ‘n ou en geskeurde slapband af wat reg onder in die boks lê. Van die boek se blaaie was gemuf, en meeste so geswel dat dit duidelik was dat wie ook al die roman laaste gelees het, hy of sy dit in die bad moes gedoen het. Die voorblad was ook in die helfte geskeur en al wat oorbly van die illustrasie was ‘n paar naakte bene van ‘n vrou wat verleidelik op ‘n soort bed, of bank lê. Nêrens kan Theunis die skrywer se naam sien nie. Ook die uitgewersblaai is weg. Hy was op die punt om die boek te snert toe hy dowwe woorde in potlood geskryf in die kantlyn van die eerste bladsy sien. Dit lees ‘Tiresias,’ en in hakkies agteraan ‘Oedipus.’

Hoog in sy noppies met die toeval, wil Theunis dadelik agteroor sit en begin lees, net om deur Esmé en haar kroos vriende gesteur te word. “Pa, hierdie is Dean Henning,” stel sy trots ‘n jong seun aan hom voor, haar gesig gloeiend en hubaar, en vir ‘n oomblik is Theunis gegooi deur die volwasse vrou wat reeds in haar jong lyf deurskemer. Langs haar staan die objek van haar betowering, en met die eerste oogopslag kan hy sien hoekom sy so versot is op die jongkalant. Dean is pragtig; sy blonde hare gevleg in ‘n Afrika styl wat sy gesig perfek raam. “Dean, dis my pa, Theunis.”

“Hallo meneer Celliers,” is Dean se glimlag oop, en met goeie maniere wat hom weerhou om Theunis op die naam te noem, soos Esmé hom genooi het om te doen.

“Juffrou Engelbrecht het die rolverdeling van Joseph and his Amazing Technicolor Dreamcoat op die kennisgewing bord geplak,” grens Esmé aan dweep oor haar kêrel. “En Dean speel die hoofrol.”

“Ons is ook in die konsert,” val Phumi, Esmé se beste maaitjie, haar in die rede.

“Dean het ‘n cool stem,” kwetter Esmé onverpoos voort. “Pa moet hom hoor sing. Hy’s al klaar ‘n ster. Ek het hom belowe Pa sal vir hom ‘n paar liedjies skryf.”

“Ons sal sien,” is Theunis gou om wal te gooi. “Veels geluk aan julle almal. Wanneer begin hulle repeteer?” maar voor hy ‘n antwoord kan kry word Esmé en haar vriende weggevoer deur ‘n troep ywerige jong aspirant akteurs in ‘n babbel van intrige, met Annie en haar veel jonger vriende in die volgstroom agterna. “O Dean, Dean,” sug sy in ‘n grap-beswyming, haar twee vlegsels aan’t ontrafel, maar al wat Annie vir haar komiese tergery kry is ‘n bitsige kyk van Esmé af wat duidelik sê: Skoert!

Na die kermis in die kar, en ook later die middag terug by die huis is die twee nog steeds in mekaar se hare. Esmé dikbek oor sy die heeldag ‘n stertjie in Annie gehad het, en Annie op haar beurt, astrant en beslis op ‘n sugar-high van al die koeldrank en lekkers wat sy heeldag dag onophoudelik ingeprop het asof daar nie ‘n more is nie.

“Dis nou genoeg julle twee,” kan Theunis nie langer die stryery vat nie. “Ek het ‘n heerlike dag gehad. Hoekom kan julle ook nie?”

“Ja maar pa, sy wil my nie uitlos nie,” wil Esmé nog teen kibbel.

“Ek sê mos, dis nou genoeg,” sit hy sy voet neer.

Nie lank daarna nie soek albei die meisies toevlug in die privaatheid van hulle slaapkamers, wat Theunis genadiglik aan die vrede van ‘n stil huis oorlaat. Behalwe om rond te flits tussen die baie herhalings op die TV kanale het hy niks om sy hande besig te hou nie. Uiteindelik besluit hy om ‘n spitsjaar bottel wyn te onkurk, en te onspan met sy verfrommelde ou roman.

*

Van Tiresias van Thebe, seun van Abraham van Tirus. Aan Stephanos van Chios, seun van Zagreus. Wees gegroet.

Vergewe my vergryp aan jou privaatheid Stephanos, maar ek stuur my skriba Yashma, wat ook my oë en hande is, met hierdie skrewe.

Ek het gistermiddag jou opvoering op die Kadmia bygewoon. Jy sal my heelmoontlik nie tussen al jou bewonderaars onthou nie, maar ek was die blinde ouman wat agter in die megaron gesit het en nie kon ophou grens en stotter oor jou voordrag en sang nie. Laat my toe om jou spoedig gerus te stel Stephanos, my tranedal was nie as gevolg van verdriet nie. Nog minder was dit die getjank van ‘n seniele ouman wat sommer meer huil oor niks nie. Nee, die oorsaak van my diepe ontroering was my hoë ekstase oor jou poësie. Verskoon die hiperbool, maar dit is hoe ek werklik voel oor jou opvoering. Skoonheid het my nog altyd pynlik betower. Wees my genadig – dié keer ‘n oksimoron. Ek was nog altyd ‘n mens wat geneig is om oorboord te gaan met my emosies.

Jy is ‘n skitterende digter Stephanos, en watter voordrag! Daardie stem! Orpheus self sou jou beny het. Stephanos, beteken ‘blommekrans van die oorwinnaar,’ en moet ek jou meedeel dat jy in elke opsig gestalte aan jou naam gee. Waarlik, jou kuns is kampioen!

Die laaste keer wat ek sulke verruklike sang gehoor het, was in die paleis van Koning Hiram van Tirus. Ook besonders eenkeer tydens ‘n stralende sonsondergang langs die murmelende see by Zephyrus-Halikarnassos.

Na jou vertoning wou ek myself aan jou kom voorstel, maar ek het die druk van soveel mense om jou gevoel, wat vir ‘n rukkie ook deel wou hé aan jou sonskyn, dat ek dit goedgedink het om my eerder skaars te hou, totdat ek soos nou, vir jou kon skryf.

Neem die woord van ‘n ou en gesoute seevaarder soos ek ten harte, jou vertolking van Jason en sy Argonoute – van hoe hulle oor die see van Marmora gevaar het, om deur die smaltes van die Pontus na Kolkis te seil opsoek na die Goue Vlies, niks minder was as wonderebaarlik nie. Jy is werklik geseën deur die muse Kalliope. Toe ek jonk was en my oë nog kon sien, het ek telkemale juis oor daardie einste waters gevaar. Jou foutlose vertolking vertel die waarheid. Wanneer die seestrome van die onstuimige gety jou skuit beetpak en woes rondsleep voel dit werklik asof die seemonster Kraken self die kiel van jou boot in sy tentakels beet het. Op sulke oomblikke is geen seil, spier of roeispaan ‘n dooie slaaf werd nie. Die watervloed sleep mens so ongenaakbaar mee dat dit lyk asof die hoë kranse van die Bosporus regstaan om siel en skip te verpletter teen die rotse. Geen wonder die Euxine word die Swartsee genoem nie. Dit is so gedoop omdat daar al so baie drankoffers van wyn deur dankbare matrose soos ek daarin gegiet is, as dankbetuig aan die Gode vir ons oorlewing.

Ek weet jy het maar ‘n kort rukkie gelede hier in ons stad met sy sewe poorte aangekom maar laat my toe om jou weer te verseker, dat tenspyte van die huidige spanning wat hoogloop in die stad, jy ‘n geëerde gas hier by ons is in Thebe.

Jy het seker al agtergekom dat die hof van Koning Eteokles, seun van Oedipus, nie juis ‘n paleis is wat se mure gekroon is met vrede nie. Inteendeel, soos die hele Achaje, skree die Kadmia in letsels van geweld, en dra dit die rougewaad van leed. Ek wil jou nie afskrik nie, maar jou so lank as moontlik hier in ons midde hou, maar ek moet jou ook terselfde tyd waarsku. Die God Ares is besig om sy oorlogsharnas blink te vryf. Sy lemme is al klaar skerp geslyp. Oorlog pyl op ons af so meedoënloos soos ‘n arend ‘n dassie verslind. Ek vrees vir jou veiligheid Stephanos. Inderdaad, ek vrees vir die veiligheid van ons hele stad.

Wat ek jou vertel is nie die gebrabbel van ‘n verskrikte en blinde ouman wat bang is vir die naderende dood nie, maar my waarskuwing is gegrond op standvastige redes. Nog meer so dat ek myself blameer vir die verskrikking wat nou op ons afstorm. Ja, ek, Tiresias, ridder en koopman van Thebe, wie ook bekend staan as ‘n siener, het in my jeug dit durf waag om die Gode te probeer uitoorlê. Om hulle te probeer fnuik deur die afdwing van my eie wil. Ek wou die Gode ore aansit deur hulle te beproef, maar al wat ek reggekry het, is slegs om verdriet en ellende te saai. Dit mag ‘n leeftyd vat, maar die Gode slaap nie.

Vir my is daar net een gebied waarin die mensdom meer bevoeg is as die Goddelike wesens op berg Olympus, en dit is die vermoë om pyn en lyding te skep. Helaas, daarin is ons meer as bekwaam. Ja, ek, Tiresias, wat gedink het ek kon die kleed uitrafel wat die Skikgodinne vir ons weef, maar slegs ontdek het dat die Gode op hulle beurt vir my ‘n poets gebak het. Dat ek niks meer vir die Allerhoogstes is nie, as ‘n speelpop wie se oë uit is.

Dit gesê, hoeveelkeer het ek al gehoor hoe mense spog, dat as die digters maar net van húlle lyding moes geweet het; van hoe die bitter teenspoed húlle bestaan ‘n hel gemaak het, sou daar sulke verse oor hulle gedig kon word, dat selfs die trane van Afrodiete oor die dood van haar geliefde Adonis, as vreugdesang sou klink teenoor die tragiese relaas van hulle lewens.

Dan is daar ook daardie jammerlike siele wat mens sonder versuim laat weet hoe goed en barmhartig hulle vir hul medemens is, maar kla dat hulle nooit deur die Gode beloon word vir hulle ontferming nie, en dan in hulle hoogmoed die digters maan om aan die wêreld te verkondig hoe edel hulle is.

Ergste van almal is daardie weerbarstige bekvegters wat eenvoudig nie kan ophou spog oor hulle brawe dade nie. Van hoe vreesloos hulle is, en dat met die aanhoor van hulle durf, die digters hulle sou kon verhef tot die panteon van die onsterflike helde. Watter belaglike trots. Watter snert van almal wat wil eis dat die digters hulle lof so moet besing!

So vêr dit my aangaan, Stephanos, bid ek eerder dat ek ‘n obskure dood êrens moet sterf, en vir my as om deur die winde weggewarrel te word om neer te sif waar dit wil, voordat ek so verwaand is om ‘n rapsodie van my eie armsalige lewe te wil staan en maak.

Tog verdoesel dit nie die feit dat ek die rampspoedige oorsaak van baie smart en lyding in Thebe was nie, en nes die mense waarmee ek nounet die spot gedryf het, ek ook ‘n diep behoefde het om te bieg aan iemand soos jy, voordat ek die gryslande van die hiernamaals betree waar die siele van die afgestorwenes vir ewig dwaal. Ja ek was die oorsaak dat my seun Theaggalos van my gevlug het – gevlug het soos ‘n banneling uit ‘n stad, weg van die boesem van sy liefdevolle vader af. My dapper seun Theaggalos. In watter veraf land bevind hy homself vandag, kan ek nog steeds nie help om te wonder nie? Die Gode behoed Stephanos, maar miskien lê hy iewers dood; vergete in ‘n ongemerkte graf, terwyl ek hier sit en dié brief aan jou dikteer. My seun pragtige Theaggalos vergeet? Nooit. Die gedagte is te bitter om te kontempleer.

Meer nog. Ek was ook die oorsaak vir die tragiese verblinding en dood van ‘n eerbare en goeie man. ‘n Man wat net soos ek, sy kinders op sy hande gedra het, en sy stad lief gehad het.

Daardie man was my boesemvriend, ons eertyds en nou onslape koning, Oedipus, seun van Laus en kleinseun van Labdakos. Wat die erger maak, is dat dit my liefde vir hom was wat my in opstand laat kom het teen die Gode se wil. Dat dit die liefde was wat my gedwing het om so ‘n godslasterlike sonde te pleeg! Is dit nie vreemd nie Stephanos, dat dit so baiemaal juis die liefde is wat geboorte gee aan bittere leed? Die liefde wat geluk moet voortbring, maar in my geval slegs tragedie gebaar het. Somtyds kan ek nie help om tot die slotsom te kom dat die Gode dolos speel met ons lewens nie.

Dit was my liefde vir my seun wat hom van my af weggedryf het. Die liefde wat my ore toegestop het vir die woorde van die Sybel by Delphi. So ook die einste liefde wat my die moed en krag gegee het om die Gode te durf uitdaag. Die liefde wat ‘n duisend maskers dra.

Laat my toe liewe Stephanos – ek hoop nie jy gee om dat ek jou so intiem aanspreek nie – om aan jou die gebeure te vertel waarom ons nou op die randjie van oorlog staan, en hoekom ek myself verskuldig vir die huidige ellende van Thebe, van my huis, en ook die huis van Labdakos.

Voordat jy die indruk kry dat my storie net ‘n relaas van rampspoed en verdoemenis is, laat ek jou dadelik gerusstel my vriend. Die verhaal het glad nie so afgeskop nie. Inteendeel, die begin daarvan was ‘n avontuur. ‘n Ekspedisie in die onbekende in om handel te dryf en skatte te vergader. Ek was jonk, skaars agtienjaaroud, en vol waagmoed en lus vir die lewe.

*

Dis ‘n triestige dag wanneer ek en my matrose ons twee skuite optrek teen die strandgruis van Aulus, seepoort van Boeothia, ‘n land ryk in grootvee. ‘n Galei en ‘n vragboot is al twee skepe wat ek beskikbaar het, want die res van my vloot van sewe bote lê nog steeds in die droogdokke van Tirus, stad van my geboorte, waar hulle geskraap, gekalfater en geteer word vir die somershandelsreise wat spoedig nader.

Soos gebruiklik giet ons ‘n drankoffer op die strand aan Baal-Shamem, God van Storms wat die Achaeërs Zeus noem. Die gesig van berg Messapion, wat waghou oor Aulos, is gesluier in flardes reën, maar dank die Opperste, ons is veilig terug op land. ‘n Entjie verder weg van ons sit ‘n groep vissermanne mislik gehurk om rokende vure, en bekyk hulle ons met agterdog, terwyl die ma’s hulle dogters beskerm teen my mans se lustige belangstelling.

Vlaag na vlaag reën waai deur die nou seestraat van Euripos en oor die wit skuimende golwe sodat die eiland van Eubea lyk soos ‘n boeg van ‘n magtige skip wat sink en rys deur die deinings van ‘n verwoede see.

Die winter is nog nie heeltemal verby, en het die vaarseisoen nog nie eintlik begin nie. Ook is ek ten volle bewus van die feit dat dit waaglustig is om so vroeg die gevaarlike seeweë aan te durf, maar ek is jonk en het nog sig in my oë, en ywerig om die sewe-poortige stad van Thebe, wat ‘n entjie verder binnelands lê, te verken vir besigheid. Thebe; die stad wat my voorouer, die Fenisiër Kadmos van Tirus, gevestig het as ‘n kolonie, en vir wie se boorlinge hy die gawe van skrif gebring het. Hierdie land waar die einste Kadmos, voorgeslag aan my moeder se kant, na sy suster Europa kom soek het, en waar Apollo die draaktande begrawe het om so die grond vrugbaar te maak.

Ongeag my stam se verbintenis aan Thebe, is dit handel wat my na hierdie oewers bring. In Tirus het woord my bereik dat Labdakos, Koning van Thebe, in ‘n groot oorlog gewikkel is met Koning Aegeos van Athene, en dat Thebe se voorraad van tin en koper, vir hulle wapentuig, laag loop. Hulle het ook salpeter nodig om die blaasoonde witwarm te laat glooi vir die saamsmelt van die brons-allooi.

Elk van ons, met ‘n oliekleed styf om ons gedraai teen die reën, probeer ek en my kaptein, Suf, tevergeefs om donkies te huur vir die tog op na Thebe toe. Die enkele esel wat die vissermanne beskikbaar het, is so brandmaer dat die patetiese ploeter lyk of hy sal omkap Elisium toe met die eerste piets van die lat. Dis te sê as daar ooit plek vir diere in die hemel is. Ek weet die Egiptenare glo vas daaraan.

Uiteindelik besluit ek om slegs vergesel deur twee van my sterkste matrose, voet in die pad te slaan na Thebe toe. Hulle is ook albei baie vaardig met die lem. Suf, en die res van die maanskappe, bly agter in Aulos om waak te hou oor ons skepe met hulle kosbare vrag.

Tenspyte van ons leermantels, is ons deurdrenk wanneer ons uiteindelik voor die Proetid hek, wat Oos oor die seestraat van Euripos uitkyk, buite Thebe opdaag. Behalwe vir die bibberende wagte wat die poort beman, skyn die stad verlate te wees. Die stank wat oor alles hang is ook naarmakend, met skelettalehonde, en grommendevarke wat rondsnuffel in ‘n hoop vrot afval digby die hek. Die strate wat oploop na die Kadmia, soos hulle hier in Thebe hul akropolis noem, is labirinties – nou en kronkelend soos die Styx. Meeste is ongekei en modderig van die nimmereindigende reën wat sonder ophou neersif.

In die verlate agora, is daar net ‘n paar brawe smouse wat onder sopnat afdakke skuil; ook ‘n paar wulpse kanniedood sloeries wat met hulle rûe vasgedruk staan teen die muur van ‘n huis waar hulle skuiling soek onder die druppende daklyste, en ons trakteer met lek-soene wanneer ons verby haas. Verrassend, êrens in die vaalgrou stad, hoor ek die hartstogtelike melodie van ‘n enkele fluit, wat soos die lied van ‘n gevange voël, opklink in die swaar hemele in.

Aan my moederskoot het ek baie maal hoor vertel van Thebe, en kan ek nie verstaan waarom die stad so verwaarloos is nie. Soveel so dat ek op die punt staan om terug te draai na my skepe toe, maar dan herinner ek myself dat ek te vêr oor ‘n gevaarlike see geseil het om nou die tou op te gooi. Selfs al is die dag oortrokke kan ek sien dat die ligging van die stad manjifiek is. Buite die hoë mure rol die groen weilande van Boeothia weg tot doer by die voetheuwels van berg Kithaeron met sy denbedekte flanke. Verder nog in die wasige suide in, rys berg Pastra op; die landpoort wat na Attika en Athene toe lei. Geen wonder dat die God Apollo sy draaktande juis hier gesaai het nie, en wat my voorvader Kadmos oortuig het om ook hier wortel te skiet. Op eerste sig besef ek dat Boeothia ‘n land ryk is sonder ewe, en blaas dit ‘n bietjie moed in my in

By die Kadmia aangekom is ons weereens teleurgestel. Die enkele poort wat toegang gee tot die paleis op die akropolis is diggegrendel. Die wagte bo op die muur roep af na ons toe om eerder op ‘n ander dag ‘n oudiënsie te versoek met Koning Labdakos. Ek skop vas en weier om terug te draai. Ook beveel ek een van my mans om as my boodskapper op te tree, en beveel hom om in so luid ‘n stem as moontlik aan te kondig dat Zebulon, koopman van Tirus, seun van Abraham, in die buik van sy skepe, koper en tin berg, wat gebring word as beskerming vir die stad in sy uur van nood. Ek weet dit is ‘n oordrewe en ook uitspattige eis, nietemin werp dit vrugte af, en is dit nie lank nie of die paleismeester self verskyn op die borswering en beveel hy die wagte om die hekke oop te swaai.

Nes die stad, is die Kadmia gedemp, met net hier en daar ‘n enkele slaaf wat steels rondsluip asof hulle nie bestaan nie. Ander bediendes weer skuil in verborge hoeke, terwyl hulle gebede prewel onder hulle asems. Wierook brand op die altaar voor die trappe wat oplei na die megaron, en van iewers diep binne die paleis klink daar ‘n klaaglied op. Dit word gemymer eerder as gekerm, asof daar dood naby is, maar nog nie heeltemal opgedaag het nie.

Oor ‘n beker warm gekruide wyn, met ‘n stem wat mompel van aandoening, verduidelik die paleismeester, ‘n skraal ougeraamte met die toepaslike naam van Gamias, vir my dat Koning Labdakos se einde spoedig naderstaan, en dat hy alreeds nie kan sien nie, en nog minder kan praat. Dit sou beter wees, stel hy voor, dat ek eerder afgaan na die landpoort by berg Pastra toe, waar Labdakos se seun, Prins Laus, met ‘n phalanx van die leer, die pas beskerm teen ‘n paar stropers van Athene. “ ‘n Paar stropers?” sink my hart in teleurstelling. Het ek dan tevergeefs die winterstorms uitgedaag om hierheen te vaar? Ek het ‘n oorlog verwag, en al wat ek in Thebe kry is blykbaar niks meer as ‘n onbenullige skermutseling tussen twee slegte bure nie. “So, behalwe vir ‘n bietjie spiere bol, is daar geen oorlog tussen Thebe en Athene nie?” wil ek van Gamias weet.

“Oorlog? Die Gode behoed. Nee heer Zebulon,” verseker die ouman my asof hy goeie nuus vir my gee. Miskien goed vir hom, maar beslis sleg vir my. “Dis maar net die jaarlikse bendes van Athene wat kom om ons jong mans en vroue te kaap om weg te voer as tribuut aan die Midas van Kreta. Dit is wat Prins Laus ontydig wegneem van die stad af, terwyl sy vader op sterwe lê,” rol die trane oor die ouman se kadawerwange en in sy grys toiing-baard in.

As kind het my pa by menigmaal vertel van die groot Minos op Kreta. Van hoe hy ‘n skat van mense in die vorm van maagde en jong seuns eis van al die eilandstede in die Ciklade wat aan hom onderdanig is. In Knossos word die seuns geforseer om tussen die lang horings, en oor die rûe van bulle te salto, om so die heilige Minotaurus, die half-mens half-stier, te eer. Van hoe die seuns meermale gly, en hulle buike oopgeskeur word deur die horings van die bulle sodat hulle ingewande bloeiend op die sand uitstort. Alles begelei deur die ekstase en verrukking van die skare. Dis vir dié rede dat my vader geweier het om my ooit saam met hom na Knossos te neem op een van sy handelstogte – ongeag van hoe ek hom ook al gesmeek het om hom te vergesel. My vader Abraham was bevrees, dat sou my lyfwag sy hoede vir net ‘n rukkie laat sak, ek ook miskien ontvoer sou word om as menseoffer geskenk te word aan die Minotaurus in sy lêplek; die donker labirint diep onder die grond.

Dit was nie die einde van sy stories nie. My vader het ook vertel van hoe hy gesien het hoe wriemelende slange aan die geverfde borste van die vroue van Kreta soog, en in afgryse aanskou hoe angsgillendemeisies weggesleep word om in die donker spelonk gegooi te word, om daar wie-weet-hoe gebruik te word deur wie-weet-wat?

Ek weet die Ciklade staan onder die hegemonie van die Minos omdat sy vloot galeie gereeld die waters van die eilande patrolleer teen seerowers, maar dat die stad Athene ook onderdanig is aan die Minos is nuus vir my. Met Gamias se versekering dat daar nie oorlog is tussen Thebe en Athene nie, maar net die gewone jaarlikse klopjagte om kinders te buit, is dit duidelik vir my dat Thebe min vooruitsigte bied vir besigheid.

“As dit alles is soos jy sê, het ek verniet hierheen gevaar,” kom ek tot die slotsom, en gooi ek die laaste van my wyn af, vasbeslote om terug te seil na Tirus toe.

“O nee geagte Zebulon,” is die paleismeester gretig om my gerus te stel. “Inderdaad, ons voorraad koper en tin is uitgeput, en moet dringend aangevul word. Maar helaas, U sal moet wag vir die terugkeer van prins Laus. Of as U haastig is, stel ek voor U reis af na hom toe waar hy gekamp lê by Pastra.”

Ek is oortuig dat ek onmiddellik terug moet gaan Tirus toe, maar die weer het so sleg gedraai dat ons noodgedwonge vir ‘n wyle in Boeothia sal moet vertoef totdat dit lig.

*

Vergewe my dat ek my relaas moes onderbreek het Stephanos, maar die vele take om ‘n landgoed te bestuur is nimmereindig. Ek is verheug dat jy van die wyn en olywe, en ook van die kaas en gepekelde uie hou wat ek vir jou gestuur het saam met Yashma. Ek wil nie spog nie, maar dis alles die produk van my eie landgoed wat hier langs die ewig-vloeiende Esopus rivier lê. Soos gesê word in die land van die Lotus-eters, ‘My fees is jou banket.’ Ek was nog altyd versot om aan te sit by ‘n goeie maal, en al moet ek die gevaar loop om my eie beul te blaas, sal jy geen beter drank en spys in Boeothia vind as wat ek self hier op my plaas verbou nie.

Ek stem ook heelhartig met jou saam dat my skriba en boodskapper, Yashma, ‘n lieflike jong kêrel is, en ja, soos jy, beaam baie sy skoonheid. Blind soos ek is, kan ek dit self nie sien nie, maar ek hoor dit in sy stem, en voel dit aan in sy weë. In die land van Samaria is daar ‘n gesegde, ‘’n Mooi gesig kan nie ‘n lelike siel huisves nie.’ Wanneer dit kom by Yashma, word daar geen groter waarheid gepraat nie. Ongelukkig moet ek ook bieg, dat die idioom nie altyd van toepassing is nie. Uit bittere ondervinding, het ek gevind dat dit meestal die mooistes is wat die wreedste seermaak, maar laat ek nie my storie vooruitloop nie.

Ek dink nie Yashma het ‘n enkele bose haar op sy fraai kop nie. As mens in ag neem waarvan Suf, my getroue kaptein hom gered het, is dit soveel meer verbasend. Mitanni, Yashma se geboorte stad, was deur die Assiriërs aangepor om in opstand te kom teen die Hittiete. Ek hoef nie vir jou te sê wat met ‘n ooglike seun soos Yashma gebeur wanner ‘n stad geplunder word deur besete soldate met net een ding op die hart nie. Suf het hom van daardie gruwel gered toe die Hittiete wraak geneem het op Mitanni. Hy het hom hierheen gebring om my oë en my stilus te wees. Yashma is slim en ‘n uitstekende skrywer van Fenicies. Hy ken ook die taal van die Arkadiërs en het selfs ‘n sweempie van die Egiptiese tekens onder die knie.

Ek is ook verjeug om te verneem dat jy meer wil hoor van ons gewese Koning Oedipus en my aandeel en skuld in sy tragedie.

*

Soos ek reeds vertel het Stephanos, was dit nat en mislik in Thebe, en behalwe om te wag vir die terugkeer van prins Laus, is ek in ‘n vreemde stad met geen afleiding nie. Ek is behoorlik vasgekeer in Boeothia deur die gure weer, ‘n koning wat op sterwe lê, en al die burgers snoesig toegegrendel agter hulle deure. Nie juis ‘n opwindende vooruitsig vir ‘n ywerige jongmens soos ek was in my jeug nie. Nie dat ek in die kort rukkie wat ek reeds in Thebe was, enige iets tintelend gewaar het vir ‘n man met my smake nie. Behalwe vir die afgeleefde snolle in die Agora, is daar niks vir die oog nie. Dié hoere mag miskien my matrose vir ‘n wyle gelukkig hou, maar hulle is definitief nie my pot nie.

Daar is niks anders wat my te doen staan nie, behalwe om te besluit om tog die bul by die horings te pak en af te reis waar Prins Laus by Pastra gekampeer is. Ek beplan om die vinnigste vervoer moontlik te bekom, my metale te handel, en dan die modder van hierdie ellendige stad van my sandale te vee, en te skoert. Op so ‘n manier, my liewe Stephanos, het ek noodlottig die pad geval na die voorsiening toe.

Ek het vertrek op ‘n reis wat my hele lewe sou verander, want daar op die grens van Boeothia en Attika is my lot in klip gebeitel, so seker soos ‘n naam op ‘n grafsteen staan.

Het ek my lewe oorgehad, en weet wat ek nou weet, sou ek steeds in daardie pad geval het wat lei na Athene, wanneer my elke instink my gemaan het om dadelik terug te keer Tirus toe? Dit weet ek werklikwaar nie? Wie kan die toekoms voorspel? In my opinie – niemand nie. Of soos ek al reeds vir jou gesê het; miskien net die Pythia by Delphi, of moontlik die Hoë Priester van Amen by die oase van Siwah in die wildernis van Egipte. Maar ek was jonk en vol ambisie om die erfgoed wat my vader Abraham my nagelaat het ‘n duisendmaal te vermenigvuldig. Net soos Jason waaroor jy dig, het ek ook my eie Goue Vlies begeer.

*

Met ‘n halfbottelwyn agter die blad, en die woelige gedoentes van die dag wat uiteindelik sy tol eis, kyk Theunis se oë skeef wanneer hy besluit om te gaan inkruip vir die nag, maar eers gaan loer hy in by Esmé en Annie.

Sy oudste lê vas aan die slaap, haar mond nog steeds in haar kies getrek van haar kibbelry met Annie gedurende die dag. Dan soen hy haar liggies op die wang en word haar gesig meteens sag, soos die pienk roos in die glasvaas langs haar bed.

In die slaapkamer langsaan lê Annie oopgeskop met haar storieboek op haar bors laat val, en haar leeslamp nog helder aan die brand. Versigtig om haar nie wakker te maak nie, sit hy haar boek neer op die bedtafel en trek hy haar Wonder Woman duvet op oor haar borsie. Vir ‘n wyle staan hy en kyk na haar rustige asemhaling, haar gesig salig van onskuld met haar blonde hare ‘n verwarring op die kussing.

Skielik wel die liefde vir sy kinders in sy hart in op, maar eerder dat die besef daarvan die knaende onsekerheid van sy bestaan stil laat word, vererger dit slegs die kommer wat ‘n tydlank al by hom goël; die gevoel dat, behalwe vir sy dogters, die betekenisloosheid van sy werk en sy lewe dreig om hom te verswelg; ‘n diep twyfel in homself oor sy skeppende vermoeë en talente. Partymaal voel dit vir hom of sy vroëere loopbaan maar net ‘n verskietendester was wat kort en helder geblits het, om gou uit te brand tot kool. Nou daar, maar snel verby, en wonder hy of wat hy voel bedoel word met die middeljarekrisis, maar dan herinner hy hom dat hy nog veels te jonk is vir sy hormone om nou so amok te maak met hom, en vermoed hy dat sy vertwyfeling van ‘n veel dieper aard afkomstig is as net sy kliere. Vir hom voel dit asof daar ‘n soort donker iewers in hom opgekuil lê wat stadigaan besig was om sy selfvertroue af te takel. Dat hy nutteloos was, en met hom sy kuns ook uitgewas is; ‘n swart drie-kop hond wat in sy psige skuil, en hom bangmaak dat sy oorspronklikheid miskien iets van die verlede is, en twyfel hy of hy die kontrak wat Bazileus hom aangebied het moet aanvaar ingeval hy ‘n gemors daarvan gaan maak.

Dan skud hy die sluipende vrees van hom af as oorbodig, en soen hy Annie saggies nag voordat hy haar deur op ‘n skrefie toetrek.

myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close