kykNET-Rapport Boekpryse: LitNet

Die kortlyste vir vanjaar se kykNET-Rapportpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, is pas bekend gemaak. Vanjaar sluit die pryse, afgesien van die kategorieë vir fiksie, niefiksie en film, ook twee resensiepryse in. Daarbenewens word die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuutroman in Afrikaans ook by die prysfunksie op Erfenisdag, 24 September 2016 in Kaapstad toegeken.

Die boekprys-kortlyste bevat die name van gevestigde sowel as nuwe skrywers, met Lien Botha wat haar met die distopiese Wonderboom op die kortlys bevind vir sowel die gesogte hoofprys vir fiksie as die prys vir beste debuutroman. By die pryse vir boekresensent van die jaar is Jean Meiring in sowel die fiksie- as niefiksiekategorie benoem. Vir al die pryse het werk wat in 2015 gepubliseer is, in aanmerking gekom.

Hettie Scholtz, sameroeper vir die drie hoofboekpryse, sê die boeke-oes van 2015 getuig van ’n indrukwekkende aanbod in ’n “klein” taal met ’n klein maar getroue mark. “Ons skrywers verdien lof vir hul besondere bydrae tot die literêre en geskiedkundige relevansie van die Afrikaanse taal juis in ’n tyd wat Afrikaans se rol as wetenskapstaal bedreig word.

“Enkele fiksietitels toon die allure van vernuwende prosa (Debbie Loots, Tinus Horn, Lien Botha) en die satiriese aanslag by onder andere Deborah Steinmair, Schalk Schoombie en Johan Fourie vind byval, maar behalwe in die kategorie vir film, kyk heelparty skrywers in albei genres steeds meer terug as wat hulle vorentoe beur. By die fiksie is die grootste sirkel van die Venn-diagram, soos te verwagte, iets wat mens rofweg urban angst kan noem, aldus keurder Frederik de Jager.”

Sy sê die klem by niefiksie val steeds op historiese werk, insluitend die meer onlangse geskiedenis van die laat 1970’s en veral die 1980’s. Verder terug is daar ook interessante boeke oor steeds belangrike geskiedkundige figure en gebeurtenisse wat getuig van ’n fyn balans tussen diepgaande navorsing en toeganklikheid vir ’n breë leserspubliek.

“Die wêreld van die Afrikaanse boek bly op ’n paar uitsonderings na besonder wit, wat skrywers maar ook tematiek betref. Anemarie Jansen en Chris Schoeman se werk is in laasgenoemde opsig belangrike ankers, hoewel hulle nie die enigste skrywers is wat die kompleksiteit van ons sosiale milieu ontgin nie. Ander skrywers (Dana Snyman, Koos Kombuis, Dirk Mudge, Niël Barnard) toon ’n goeie oog en aanvoeling vir hierdie dimensie, selfs al is dit slegs op die marge van hulle tematiek.”

Die genre speur- en spanningsfiksie kry steeds meer momentum. Daar is ook goeie bydraes deur veral vroueskrywers wat moeilike temas ontgin in die tradisie van ondersoekende joernalistiek (Carla van der Spuy, Juliana Coetzer).

Scholtz sê die keurders was aangenaam verras met die hoë gehalte van veral die boeke op die kortlyste (Francis Galloway en Karel Schoeman se boeke verdien ook vermelding), skrywers wie se werk internasionaal kan meeding. “Sien ons ’n nuwe golf van die dik boek? word gevra. Dit word verwelkom in ons tyd van blitsvermaak en krimpende aandagspan, maar dan moet dit uiteraard énduit boeiend wees.”

Die kykNET-Rapport-kortlyste vir 2016 (alfabeties) is soos volg:

FIKSIE

  • Lien Botha: Wonderboom (Queillerie)

Wonderboom (Afrikaans Edition)

  • Alexander Strachan: Brandwaterkom (Tafelberg)

Brandwaterkom (Afrikaans Edition)

  • Ingrid Winterbach: Vlakwater (Human & Rousseau)

Vlakwater (Afrikaans Edition)

 

NIEFIKSIE

  • Ena Jansen: Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Protea)
  • Nicol Stassen: Die Dorslandtrek 1874-1881 (Protea)
  • Carel van der Merwe: Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (Human & Rousseau)

FILM

  • Jaco Jacobs: ’n Goeie dag vir boomklim (Lapa)

‘n Goeie dag vir boomklim (Afrikaans Edition)

  • Chris Karsten: Die verdwyning van Billy Katz (Human & Rousseau)

Die verdwyning van Billy Katz (Afrikaans Edition)

 

  • Deon Meyer: Ikarus (Human & Rousseau)

Ikarus (Afrikaans Edition)

https://www.litnet.co.za/kyknet-rapport-boekpryse-kortlyste-hier/

Tags:
myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close