LitNet Akademies-resensie-essay: Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, redakteur Francis Galloway

Henning Snyman

Resensies

Koop die eBoek hier #eBoek

Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P Brink & Ingrid Jonker (Afrikaans Edition)

Die liefdesbriewe tussen André Brink en Ingrid Jonker is vir die eerste keer hier saamgebundel. Die verhouding tussen die twee skrywers het nog altyd opslae gemaak in die literêre gesprek, al is die verhouding lank reeds iets van die verlede en is albei skrywers sedertdien oorlede. Die uiteindelike verskyning van hierdie briewe in een bundel is in sigself ’n groot onderwerp in die letterkundewêreld en by die algemene publiek. Albei was jonk toe hulle ’n verhouding aangegaan het: Brink ongeveer 27 en Jonker 28. Jonker het op 19 Julie 1965 in die see by Drieankerbaai verdrink en Brink is betreklik onlangs op ouderdom 79 oorlede aan boord ’n vlug van Nederland na Suid-Afrika. Alhoewel Brink reeds die briewe vir publikasie aangebied het, het dit postuum verskyn. Die boek kan dus baie objektief gelees en beoordeel word, al was die briewe hoogs persoonlik.

Die poëtiese titel kan gelees word as die vlam van passie en liefde wat onvervuld brand in die sneeu van verlies en wanhoop. Ten spyte van die enorme invloed wat die verhouding op albei se lewens en werk, veral Brink s’n, gehad het, was dit uiteindelik tog ’n futiele verhouding. Iets van hierdie wrangheid blyk uit die volgende aanhaling uit ’n brief van 25 Augustus 1963: “Liefling, liefling, dis die héél swaarste tyd vir ons dié. Dit eis meer van ons as enigiets anders. Ons sal ietsmoet vind as ons nie albei ten gronde wil gaan aan negatiewe hunkering en eensaamheid nie. Ons moet iets hieruit haal wat positief is” (Brink).

Brink en Jonker gesels met mekaar oor hulle skryfwerk – sy oor poësie, hy oor prosa. Die leser kry inligting oor Lobola vir die lewe, meer oor Die ambassadeur en nog meer direk oor die ontstaan en ontwikkeling van Orgie, wat Brink beskryf as “ons boek”. Van Jonker kry ons geringe inligting oor Rook en oker wat uiteindelik haar beste bundel sou wees.

Oor die boekemaakproses word redelik uitvoerig vertel en uitgewersfigure soos Koos Human, Bartho Smit, Chris Barnard en John Malherbe word dikwels betrek. Soms is dit bloot vaktegnies, soms oor emosionele belewenisse en partykeer ongeduld en heelwat venyn. Die gesprek handel dikwels oor literêre pryse en die gewone relletjies wat daarmee saamhang. Die simpatieke rol van Freda Linde (by John Malherbe) word ook goed belig.

Brink skryf byvoorbeeld oor Orgie: “Ek is in my skik. Ek dink hy’t al meer ’n musikale konstruksie gekry, waar die emosionele, irrasionele, ‘non-signifikatiewe’ indruk van die woorde belangriker is as die logiese, waar simbole, woorde, sinsflardes soos klein musiektematjies terugkeer, en waar ek eintlik nie, soos in gewone prosa, één lyn of een rytjie note op ’n slag hanteer nie, maar probeer werk in akkoorde” (30 Okt 1963). Brink was hier in die vroeë fase van sy skryfkuns en het probeer eksperimenteel skryf. Van ’n leser se kant is dit jammer dat van sy groter romans en latere werke nie hier al ter sprake was nie. Die skrywer se siening van sy eie vroeë werk is nietemin uiters nuttig vir die student van die letterkunde, ook by die lees van sy latere werk.

Francis Galloway het ’n reusetaak verrig met die saamstel van hierdie briewe (in chronologiese volgorde). Tipografies is daar vir my een probleem, naamlik dat die inleiding deur Willie Burger as’t ware onaangekondig verskyn. ’n Klein indeks sou die teoretiese inleiding beter kon skei van die titelblad en ook weer van die briewe. Andersins is die boek mooi versorg, ook met die klompie pragtige foto’s in die middel. Daar is net genoeg foto’s, nie te min en nie te veel nie.

Vlam in die sneeu leen hom tot verskillende benaderings, want daar is outobiografie, geskiedenis, briefliteratuur, persoonlike elemente, biegbriewe, beskouings oor letterkunde en literatore en ander skrywers. Ook tergende elemente soos lojaliteit, die versorging van die kinders en die blootlê van soveel intimiteit. Heelwat vrae dring aan op spekulatiewe antwoorde: Het die afsluit van die verhouding ’n rol gespeel in Jonker se selfdood? Hoe het dit Brink se loopbaan beïnvloed? Het Jonker se inspirasie vir skryf daardeur ’n knou gekry? En hoe het dit ander mense geraak?

https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-vlam-in-die-sneeu-die-liefdesbriewe-van-andre-p-brink-en-ingrid-jonker-redakteur-francis-galloway/

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close