OP HORINGS

OP HORINGS: ‘n Satiriese speur- en avontuurverhaal (Afrikaans Edition) Afrikaanse eBoek

Price: Check Price
Veronderstelling: Wat gebeur as Suid Afrika se eerste vrouepresident ontvoer word? Laat een aand word Deedré Makeba, die eerste vrouepresident van die land, se lyfwag aangeval deur twee booswigte en word sy gekaap om in ‘n verafgeleë landelike deel van Limpopo vir die dood agtergelaat te word. So meteories was Deedré se opgang in haar […]

‘n Satiriese speur en avontuurverhaal.

Geskryf deur: Etienne N Puren

Veronderstelling: Wat gebeur as Suid Afrika se eerste vrouepresident ontvoer word?

 

Laat een aand word Deedré Makeba, die eerste vrouepresident van die land, se lyfwag aangeval deur twee booswigte en word sy gekaap om in ‘n verafgeleë landelike deel van Limpopo vir die dood agtergelaat te word. So meteories was Deedré se opgang in haar politieke party, en haar verkiesing as President van die land as gevolg van die skielike afsterf van Oudpresident Sithole, dat min mense op straat haar sou herken, wat nog van haar ongeletterde aanvallers.

Vroeg die volgende oggend word die bewustelose Deedré ontdek deur die kinders van die nabygeleë dorpie, Modubeng, waar hulle kom waterskep in die Olifantsrivier, en dra hulle haar na die dorpie se nyanga, Koko, toe.

Terug in die gange van die Uniegeboue is daar chaos wanner dit ontdek word dat Deedré spoorloos verdwyn het. Gevolglik word daar ‘n hoogs GEHEIME soektog geloots om Deedré, of haar lyk, op te spoor, met die konserwatiewe Generaal Mngomezulu (Hoof van Staf) wat ‘n staatsgreep dreig as sy nie gekry word nie. Meeste van alles vrees Simon Bhaka, die Adjunk President, dat die land ‘n revolusie in die gesig staar sou die waarheid van Deedré se verdwyning moes uitlap aan die media.

In Modubeng die volgende oggend herwin ‘n beseerde Deedré haar bewussyn en oortuig sy vir Koko, die nyanga, van wie sy in werklikheid is. Gevolglik word Koko se agtienjarige kleinseun, Tumelo, per voet na Polokwane toe gestuur om die polisie te ontbied. So afgeleë en veragterd is Modubeng dat die mense van die dorpie nie eers weet dat die vorige President (Sithole) skielik dood is nie. Nog minder dat ‘n vrou in sy plek as President ingesweer is. Hulle verdink Deedré daarvan dat sy niks meer as ‘n prostituut is nie, wat deur een van haar kliente aangerand was. Niemand meer so as die dorpie se korrupte en xenofobiese hoofman, Joseph, nie. Koko voer ook ‘n nimmereindige stryd met Joseph, wie haar daarvan verdink dat sy ‘n heks is, en doodgebrand behoort word.

In Polokwane aangekom rapporteer Tumelo sy situasie aan die polisie, maar weens die hoogsgeheime aard van die situasie is nie eens die polisie in Polokwane bewus van Deedré se verdwyning nie. In teendeel verdink hulle Tumelo daarvan dat hy ‘n poets met hulle probeer bak. Gevolglik verwys hulle hom ewe lakonies na Pretoria toe, om daar ‘vermiste presidente,’ te gaan aanmeld. Ewig voortvarend en impulsief dink Tumelo nie twee keer daaraan om ‘n geleentheid te bedel om in Pretoria, die stad van sy drome, uit te kom nie. Vir hom is alles ‘n wonderlike avontuur.

Met die hospitale en die lykshuise, die lughawens en alle grensposte negatief gerapporteer oor Deedré, besluit Simon in sy desperaatheid om die jukskeibreker en spesiale agent Pieter Brink nader te klap om die raaisel van Deedré se verdwyning op te los – baie tot Mngomezulu se afkeuring.

Gehelp deur twee uitgeslape rakkers kom Tumelo in Pretoria aan net om geweldadig deur hulle beroof te word en so te sê kaal gelos te word. Nadat hy sy bewussyn herwin het, en met hom wat lyk soos ‘n opgefoeterde straatkind, strompel Tumelo in Sammy Marx Plein in, waar soos die voorsienigheid dit sal hê, Pieter Brink (spesiale agent) en sy politiekeverslaggewer buddy Tim Diale, sit en eet. (Op hierdie stadium is Pieter nog nie bewus daarvan dat Simon hom soek, of dat Deedré weg is nie)

Deur die mis, honger en seer, nader Tumelo vir Pieter en Tim om hulp. In sy desperaatheid sê hy hulle ook dat die President seergekry het en in sy dorp is. Albei mans dink dat Tumelo maar nog net ‘n straatkind is wat hoog is op gom, maar voordat hulle vir hom ‘n paar sent kan gee, jaag die sekuriteitswag Tumelo weg. Totaal gedisoriënteerd en in die war, kruip hy in die naaste hoekie wat hy kan kry weg, en raak hy vas aan die slaap onder die trap wat oplei na Tim se koerant, die Daily Guardian toe.

Veel later daardie aand word Pieter opgespoor deur die intelligensiedienste en word hy deur sy ou vriend Simon touwysgemaak van die krisis op hande. Oorbluf deur sy toevallige raakloop van Tumelo, oorreed ‘n waagmoedige Pieter vir ‘n skeptiese Simon dat die straatkind wat hom genader het in Sammy Marx Plein die antwoord het tot die raaisel. Onmiddellik word daar ‘n soektog geloots om Tumelo op te spoor. Pieter trek ook ‘n ID kit op van Tumelo se gesig, om aan al die polisiestasies in die omgewing te distribueer. Ongelukkig werp die onmiddellike soektog geen vrugte af nie.

Terug in Modubeng word ‘n herstellende Deedré gekonfronteer met deprivasie waar sy ook al kyk. Wat haar die meeste ontstel is die tirannie van Joseph (die hoofman,) se bewind. Veral oor die wangebruik van sy kinderbruid, Thembe, wie hy getrou het onder die tradisionele gebruik van ukuthwalwa. Ook oor Joseph se duidelike antipatie teenoor Koko, wie hy daarvan beskuldig dat sy ‘n heks is.

In haar sukkelgang deur die dorp ontdek Deedré ook ‘n ou dieselkragopwekker en ‘n pomp in die dorpie, wat Koko haar vertel nie gebruik word nie omdat Joseph betaling eis vir die diesel wat gratis deur die owerhede aan die mense van die dorp geskenk was. In Deedré se poging om die sleutels van die pomphuis in die hande te kry sodat daar skoon water vir Modubeng gepomp kan word, word sy deur Joseph daarvan beskuldig dat sy niks meer is as ‘n Kwera-Kwera en ‘n hoer nie. Hy vind dit belaglik dat sy beweer dat sy die president van die land is. Om dinge erger te maak, vat Thembe die kans waar van Deedré se teenwoordigheid, om te ontsnap uit Joseph se kloue, en soek sy toevlug by Koko en Deedré.

Terug in Pretoria, vroeg die volgende oggend, ontdek Tim vir Tumelo buite sy werk. Nog steeds onbewus van Deedré se verdwyning, en die belangrikheid van Tumelo, voel Tim jammer vir die seun en neem hy hom onder na Boomstraat toe, om daar by die taxistaanplek en spazawinkels vir hom kos en ‘n paar tweedehandse klere te koop. Ook gee hy vir hom ‘n paar rand om terug huis toe te gaan. Stomgeslaan deur sulke goedertierenheid kan Tumelo eers nie vir Tim bedank nie. Nog minder om weer aan hom sy storie te probeer vertel. Wanneer hy wil, het Tim verdwyn in die besige verkeer.

Nog steeds dronkgeslaan deur sy goeie geluk besluit Tumelo dadelik dat Tim sy nuwe held is en dat hy net soos hy wil lyk en wees. Gevolglik gebruik hy van die geld wat Tim vir hom gegee het om sy hare te laat vleg deur ‘n sypaadjiehaarkapster net soos Tim sin. Uitgedos in sy nuwe klere, en met hom wat voel soos ‘n nuwe man in sy ‘new-look,’ steek hy met hernude moed die straat oor om die polisiestasie te gaan soek – reg voor Pieter se kar verby waar hy steeds opsoek is vir ‘n heel anderse seun.

Oppad polisie toe loop Tumelo een van die rakkers raak wat hom beroof het, en takel hy hom dadelik, maar voordat hy sy goed kan terugeis ontsnap die outjie en word Tumelo gearresteer vir aanranding. In aanhouding herken die polisie ook nie vir Tumelo in sy nuwe mondering nie, maar voeter hulle hom deeglik op vir ekasi-trash met attitude wanner hy aan hulle sy storie probeer vertel. Met hom wat in ‘n gemeenskaplike sel gegooi word om in die môre voor die Magistraat te verskyn, sweer Tumelo dat hy in die vervolg aan niemand anders, behalwe aan ‘n Magistraat sy storie sal vertel nie. Intussen probeer Pieter weer sy geluk by die polisiestasie, maar word hy ingelig dat niemand wat soos sy ID kit lyk nog gekry is nie.

Terug in Modubeng, met Deedré wat stadigaan aansterk, breek sy die slot van dompomphuis, en na vele gespook kry sy dit reg om die dieselkragopwekker aan die gang te kry, maar gou raak die brandstof op. Een van Joseph se vroue lap uit dat hy nog diesolien by sy huis berg. Gedurende die daaropvolgende konfrontasie met hom laat Joseph dit val dat hy weet waar, en hoe, Deedré in Pretoria gekaap was. Dit sit haar onmiddellik op haar hoede in die besef dat Joseph kontak het met haar ontvoerders. Ook sweer Joseph wraak op haar en Koko dat hulle sy gesag ondermyn, en dat hulle sy jong vrou van hom af gesteel het.

Die volgende oggend in Pretoria, word Tumelo saam met ‘n vrag aangehoudenes na die magistraatshowe geneem. Daar aangekom is die hoofrolle vol en moet hulle noodgedwonge terug geneem word na die polisieselle toe. In tussen kontak die stasiebevelvoerder vir Pieter om hom in te lig dat hulle net een buitestedelike seun opgetel het, maar dat hy niks lyk soos die ID kit nie. Pieter, met Tim by hom, haas hulle na die hof toe, net om daar te ontdek, dat in al die verwarring van oorvol howe en aangehoudenes wat  terugvervoer moet word na die aanhoudingselle, Tumelo dit reggekry het om te ontsnap. Ten minste weet hulle nou hoe die ‘nuwe,’ Tumelo lyk en oorvloei hulle Pretoria, en al die vragmotorstoppe tussen Pretoria en Polokwane met polisieoffisiere. Op vryevoet laat ‘n uitgeslape Tumelo dit nie toe dat hy vasgetrek word nie, en is hy meer as ooit gedetermineerd om terug by die huis te kom.

Gedurende Koko se vroegmoregebede onder by die rivier val Joseph se trawante haar geweldadig aan en los hulle haar na aan die dood. Die kinders word verbied om onder na die rivier toe te gaan, en roep hulle uit van die dors. Dit dryf Deedré om dinge in haar eie hande te neem en om die diesel wat Joseph onwettig berg te kommandeer. Saam met die vroue van die dorp marsjeer hulle op na sy kraal toe wat hom noop om uit hulle hande te ontsnap. Nou nog meer as ooit sweer hy wraak op Deedré, sy enigste berou, dat Koko nie al klaar bokkeveld toe is nie.

Voortvlugtig maak Tumelo sy pad na Midrand toe waar daar die naaste vragmotorstop by Maxi’s restaurant en die Caltex garage is. Hier kry hy ‘n geleentheid op na Polokwane toe.

Simon en Pieter vind uit dat Generaal Mngomezulu ‘n staatsgreep gaan uitvoer onder die dekmantel van Oudpresident Sitole se begrafenis, en word hulle ingelig deur die Generaal dat hulle tot middernag het om vorendag te kom met Deedré. Pieter se mismoedigheid verander in hoop wanner hy nuus ontvang dat Tumelo vasgetrek is in Bela-Bela. Hy en Tim jaag deur om hom op te tel, net om te ontdek dat die Generaal hulle voorgespring het en Tumelo self weggevoer het. In die daaropvolgende rusie met die stasiebevelvoerder ontdek Pieter en Tim dat wie ook al die Generaal gekaap het, dit beslis nie Tumelo was nie.

Net buite Bela-Bela besluit Tumelo om die vragmotorbestuurder in sy vertroue te neem en lap hy sy hele storie aan hom uit. Van hoe hy oploop is van die polisie af, en hoe hy gefaal het in sy missie om hulp te kry vir Deedré, die nuwe President van die land wat in sy dorpie is. Oorbluf is die skeptiese bestuurder oortuig daarvan dat Tumelo hoog is op dagga. Siende dat hy ‘n leke-prediker is, trek hy in by die garage buite Bela-Bela om die arme verdwaalde siel van Tumelo tot redding te bid.

‘n Erg terneergedrukte Pieter en Tim, oppad terug Pretoria toe, stop ook by die garage om by die Wimpy ‘n denkbeeldige laaste maal te koop voordat die Generaal sy byl op die nek van die land laat val. Daar sien Tumelo vir Pieter en Tim, sy held wie hom van kos en klere voorsien het. Eers huiwerig en verhoed deur die bestuurder om Tim ordentlik te gaan bedank vir alles wat hy vir hom gedoen het, is Tumelo nie te min genoodsaak om na Tim toe te haas. Op die manier laat Tumelo homself toe om uiteindelik gevind te word.

In Modubeng begin die terreur in erns sodra die son sak, en word Deedré en die hele dorpie aangeval deur Joseph en sy boewe, maar is hulle ter elfderuur gered deur die weermag wat opdaag, met Simon en Tumelo, en Pieter en Tim kort op hulle hakke.

 

Etienne Puren

 

 

 

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close