Suikersoetsonde eBoek #eBoeke

Suikersoetsonde (Afrikaans Edition)

Price: Check Price
Zelda Fourie betrap haar man saam met sy minnares in hul slaapkamer toe sy onverwags van ’n oorsese besoek aan hul seun terugkeer Suid-Afrika toe. Sy word gekonfronteer met skuldgevoelens oor ’n huwelik van oor die twintig jaar wat nou aan skerwe lê. Sy het geglo dat sy alles gedoen en gegee het om vir […]

Ilse de Korte

Resensies

2017-01-03

Ek is mal oor romantiese fiksie. En boeke oor vampiere. En meisies wat deur ridders gered word. En spookstories en car chases in flieks met Jason Stratham. So ek is goed met die opskorting van ongeloof, of “suspension of disbelief”. Ek kan my totaal en al verloor in ’n storie en wil meestal verdrink in die gelukkige einde, want wie wil nou nie ontsnap van die daaglikse werklikhede van ons bisarre wêreld nie.

Om daardie rede, soveel soos ek mal is oor sogenaamde groot literatuur en dit ook my werk is om mal te wees daaroor, so mal is ek oor liefdesverhale. Suikersoetsonde van Dina Botha is die perfekte voorbeeld van so ’n lekker ontsnap in die wêreld van die heldin in. Met meer as 50 romanses agter haar naam en ’n paar Kaapse en SuperRomanzas daarby, weet Botha beslis hoe. Sy is in 2013 met ’n ATKV-Woordveertjie vir romanses bekroon en ek is net so half jaloers dat haar boeke gereeld ’n draai op Nielsen se Top 100-lys maak. Nie net dit nie, sy is ook nou ’n voltydse skrywer.

As ek ’n boek vir die plesier lees, moet ek doelbewus die akademikus en skrywer in my afskakel. Ek hou nie daarvan om te peuter met my romanses nie! Hiermee waarsku ek dus: as jy net wil lekker lees, gryp Suikersoetsonde, gaan trek jouself gemaklik op jou bank in en hou dadelik op om hierdie resensie te lees. Want nou gaan ek noodgedwonge krap waar dit miskien nie jeuk nie.

Die boek begin met ’n bang. Ek het letterlik na my asem gesnak toe ek die eerste paar bladsye lees en my ingeleef in die emosies van die hoofkarakter, Zelda. Dis ’n meesleurende storie en ek wou heeltyd weet wat gebeur volgende. Daar was egter ’n paar goedjies wat gekrap het.

Met die openingstoneel vervies onse Zelda haar dat iemand haar as “tannie” aanspreek. Dit het egter veroorsaak dat ek gedink het Zelda is diep middeljarig en dalk net so effe geset. Vir bladsye het ek gewonder hoe op aarde sy lyk. Watter kleur is haar hare, hoe trek sy aan dat mense haar “tannie” genoem het en hoe lyk haar tannierige lyf? Stelselmatig het ek wel oor sowat 200 bladsye agtergekom sy is blond en inderdaad baie mooi gebou en presies my eie ouderdom, wat nou nie juis diep middeljarig is nie. Omdat ek daarvan hou om my in die lewe van die heldin in te leef, sou dit lekker gewees het om vroeg reeds ’n effens duideliker prentjie van haar te gehad het en nie eers op bl 191 uit te vind dat sy ’n dominee se dogter is en uiters konserwatief grootgeword het nie.

Dit gesê, Botha raak ’n paar ernstige temas aan. Iets waarvan ek altyd hou in ’n boek. Al wil ek ontsnap en ontspan, is ’n lekker skeutjie sosiale kommentaar nie onwelkom nie. En hier het ons te doen met ernstige sosiale kwessies, naamlik egbreuk, egskeiding, mishandeling en emosionele aftakeling. Temas waaroor ek baie sterk voel. En daar besef ek: die feit dat ons nie vir Zelda kan “sien” nie, is dalk geheel en al opsetlik. Sy word so afgetakel in haar huwelik en word so as vanselfsprekend aanvaar deur haar aaklige man, Derrick, dat sy naderhand onsigbaar word. G’n wonder sy is aanvanklik ’n amorfe karakter sonder veel van ’n persoonlikheid nie.

Van die ander karakters bly ook vir my redelik plat en tweedimensioneel. Annette, Zelda se buurvrou en beste vriendin, kom byna voor of sy vir Zelda irriteer met haar ge-kooie en herinner meer aan antie Stienie uit Agter elke man of tante Dolores uit 7de laan as sy inval met ’n “hallo buurvrou”. Paula, haar ander goeie vriendin, verdwyn letterlik vir die hele middelste deel van die boek. Met rede, maar dit val by as effens raar.

Ons held Frans Jordaan het so ’n ietsie van Christian Grey van 50 Shades in hom, behalwe vir die afwesigheid van swepe en speelkamers. Hy is drop-dead gorgeous, sterk en suksesvol, met ’n effens donker verlede, en help Zelda op haar pad na heelwording en genesing. Dit is vir my net effentjies jammer dat ’n man weereens so ’n groot rol speel in Zelda se ontdekking van haarself, maar aan die ander kant is ons nie hier besig met chick-lit nie. Ook nie met ’n Jane Austen-roman nie, en die konstante ge-meneer en -mevrou tussen Zelda en Frans kom baie onnatuurlik voor en is nie hoe ek my eweknieë sou aanspreek nie. En op daai noot: sou ’n spietkop sê dat hy “genoop voel” om haar te arresteer?

 

Tags: , ,
myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close