Droomman aan boord (Afrikaans Edition) 1

Uittreksel uit Droomman aan boord deur Elsa Hamersma #eBoeke

Toe hulle op twee behoorlike stoele regop langs mekaar sit en na die horison kyk waar die oranje stadig in purper vervloei, voel Victoria steeds of haar binnekant bewe. Die glas wyn wat hy vir haar aangee, vat sy versigtig sodat hulle vingers nie raak nie.

“Op ’n wonderskone aand op die Queen Mary. Ek is weer bevoorreg om te kan klink met die mooiste vrou aan boord.”

Sy verstaan nie waarom hy haar soveel komplimente gee nie. Dit is die derde keer wat hy haar vertel dat sy vir hom mooi is. Kan dit werklik wees dat hy haar só sien? ’n Bottersagte gevoel van geluk streel deur haar. Sy lig haar oë na syne om die heildronk te erken en haar glas teen syne te klink. “Op vrede en vreugde,” sê sy sag.

“Ja, dat die wêreld ’n beter plek sal wees vir ons kinders se kinders.”

“Ons kinders.” Sy proe-proe aan die woorde. “Wil jy eendag kinders hê? As jy groot is?” Sy probeer die geselskap op ’n ligter noot kry, maar besef te laat dat hulle nou op selfs ernstiger terrein is.

“Nee,” sê hy en kyk oor die see. “Daarom is ek die geswore oujongkêrel van my familie.”

“O! Hoe so?”

“Omdat die wêreld in so ’n gemors is. Dit gaan nie goed op moeder aarde nie en een probleem is klaar oorbevolking. Natuurlik kan ’n mens trou sonder om kinders te hê, maar selfs al kom ek met ’n vrou só ooreen, voel sy dalk later anders . . . Boonop is geen voorbehoeding een honderd persent doeltreffend nie.”

Sy sluk swaar. Dis nogal ’n jammerte. ’n Verlies vir die vrouegeslag. “Kyk net hoe mooi het die water na pienk verkleur.” Sy wys oor die oseaan voor hulle.

“Ek het mos gesê dis mooier buite as binne.”

“Waar’s Bartho? Is hy by die skemerkelkie? Of weet jy al weer nie waar hy is nie? Ek sou gedink het dat hy ook die sonsondergang sou wou geniet.” Sy moet op Bartho konsentreer.

Victoria skrik amper toe Lukas aan die lag gaan.

“Jy’s ’n snaakse mensie, weet jy dit? Jy is absoluut oortuig dat Bartho my saamgebring het op die boot om hom op te pas. En jy laat geen ander variasie daarvan toe nie.”

“Ek is nie snaaks nie.” Van mooi na snaaks. Sy verstaan glad nie wat hy so amusant vind nie.

“Nie snaaks, ha-ha, nie,” stel hy haar gerus. “Vreemd snaaks omdat jy besluit het dat Bartho my hulp nodig het en my ‘gehuur’ het om hom op te pas.” Sy vingers maak die aanhalingstekens in die lug.

“Seker nie gehuur nie. Doen mens nie sulke goed vir jou broer of suster uit liefde nie?” vra sy ietwat verward. Sy het skielik besef dat sy seker nie ’n ekspert is op verhoudings tussen sibbe nie. Maar sy en Belle sou mekaar versorg het soos Belle inderwaarheid nou doen. Miskien nie daadwerklik nie, korrigeer sy haarself, want sy is darem nie in ’n rolstoel nie, en dit was ook nie die veronderstelling dat Belle haar dag en nag sal oppas nie.

“Oor Bartho hoef jy jou nie te bekommer nie. Hy is groot en sterk genoeg om na homself om te sien. Hy verwag ook niks meer van my as wat ek reeds doen nie.”

Sy sit haar glas neer, want sy wil nie met hom stry nie. “Ons sal moet ingaan. My ouers, Bartho en Belle wag seker al almal in die restaurant vir ons.”

“Of ons kan hier bly en die aand in stilte geniet.”

“Nee, eh . . . ek kan nie. Belle sal my kom soek en my ma-hulle wil ten minste een keer per dag sien dat ek nog lewe.”

Sy gesig kry ’n nadenkende trek. “Hulle is baie beskermend teenoor jou.”

“Ja.” Dit help nie om dit te ontken nie. Sy haat die gevoel dat hulle haar oppas. Op die boot waar hulle haar daagliks sien, is dit erger. Sy staan op uit die stoel, maar swik effens op haar hoë hakke.

Lukas was in die proses om op te staan en spring vorentoe om haar te help. Toe Victoria haar kom kry, staan sy in die kring van sy arms, hulle lywe feitlik teenmekaar.

“Jou skoene is mooi, maar die hakke is gevaarlik hoog.” Sy stem is naby haar oor. Onverwags lig hy sy hand en druk haar hare agter haar oor in. Van haar oor af trek sy vinger ’n brandende streep oor haar wang en dan laer, oor haar nek.

Dit voel asof die laaste druppel bloed in haar lyf na haar kop toe stroom. Logika en rede vlieg op gretige vlerke weg. Al wat sy sien, is dat Lukas se mond skaars sentimeters van hare af is en dat die effense donker skadu oor sy bolip baie manlik en aantreklik is.

Sy hou op dink toe sy lippe liggies oor hare vee.

“Jy is vreemd snaaks en baie mooi,” sê hy grof en staan gou terug, amper asof hy haar gedagtes kan lees. “Miskien is jy reg en moet ek nou dadelik gaan kyk wat my broer doen en of hy regkom.”

“Dankie vir die wyn.” Haar mond gaan oop om nog iets te sê, maar sy kan aan niks dink nie. As sy nie nou loop nie, gaan sy ’n gek van haarself maak. Hom om sy nek gryp en daardie warm mond van hom soen totdat sy uitasem is en te moeg om ’n voet te versit.

Hy laat haar sonder kommentaar gaan.

 

Koop die eBoek hier.

Droomman aan boord (Afrikaans Edition)

Tags:
myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close