Web deur Naomi Meyer, ‘n resensie #eBoeke

Web (Afrikaans Edition) Afrikaanse eBoek

Price: Check Price
Sophia se kind is weg. Dalk is sy self óók weg. Haar man is by haar in hul huisie langs Cloetesville, maar sy wonder nietemin soms waar hy is. Sophia droom van Pompeii en van wegloop – weg van elke dag se sleur by die sukkelende webwerf, die baie werkspolitiek en haar man se speurderwerk […]

Deborah Steinmair 

Ons almal wil graag die soort boek skryf wat die werklikheid laat vervaag; wat vir ’n paar uur die werklikheid vervang, die werklikheid wórd. Ons wil vermaak, maar ons wil ook graag relevant en universeel wees. Min van ons kry dit reg, want die narratief bly dikwels om die eie klein werklikheid tjommel soos ’n lang Facebook-inskrywing. Hoe skryf ’n mens oor dit wat jy ken sonder dat dit net ’n gesprek met eensgesindes of met mense in dieselfde situasie as jy word?

Naomi Meyer slaag dawerend daarin. Sy span haar web wyd en geslepe, bykans ongesiens, soos dit hoort. As jy dit nog oorweeg om ’n paar paragrawe oor teetyd te lees, word jy eensklaps toegestrik in die taai, verleidelike spinnerak van ’n storie wat hoor en sien laat vergaan, soos dit hoort.

En in ons aandagafleibare samelewing wil dit gedoen wees.

Die verhaal speel in Stellenbosch af, daardie hutspot van gepolariseerde mikrokosmosse. Die hoofkarakter, Sophia, is enigeen en niemand nie: ’n moeë vrou en moeder in ’n vaal jas, haar lewe ingesluk deur kinders, werk (wat heeldag voor ’n rekenaar sit behels) en skuld – in al sy vorme. Dit terwyl die naamborde langs haar lewenspad teen  ‘n duiselingwekkende snelheid verbyskiet en sy droom oor Portugal, vryheid, opsies. Sy en haar man, wat eens gereis en hard gelag het, woon in ’n te klein huis, werk vir te min geld, het skuld in euro’s, kan nie die rys in Woolworths of nuwe skooltasse bekostig nie, en is nooit meer alleen nie.

Sophia het min tot geen vriende nie en pas nie in die kliek van gym-mammas nie. Sy het ’n wakker, aweregse brein en dink dat sy graag aan een van die mammas se bruingebrande been sonder ’n sweem van selluliet sou wou vat om te voel of dit regtig ’n mens is. Sy voel totaal oorweldig en ontoegerus vir moederskap. Sy praat wanneer sy moes stilgebly het en bly stil wanneer sy moet praat. Sy fantaseer oor haar jeugliefde en oor wegloop. Sy is ’n sigeuner uitgedos in burgerdrag.

Op ’n dag verdwyn haar dogtertjie Magriet van die kleuterskool se speelterrein. Magriet is bruin in ’n wit gesin; sy is in Ierland aangeneem. Sy baklei met haar boetie, wat graag zombi’s afmaai in rekenaarspeletjies. Sy begeer maatjies en ’n iPad. Sy is sewe en gesels al op die internet.

Van hierdie punt af torring alles vinnig los, soos die studente-opstande wat die dorp laat smeul en die vlamme wat naderkom. Die beeld van Pompeii duik vroeg in die boek en telkemale op: die stad wat onder ’n kombers van lawa-as begrawe is sodat almal vir ewig in hul alledaagse take versteen is.

Soos dit kuns betaam, hou die boek die spieël op na ons gefragmenteerde samelewing, ons chaotiese, waansinnige land, waar mense vir mekaar onsigbaar is. “Ons leef elkeen in ons eie bubble.” Waar geweld en vernietiging immer ná aan die oppervlak broei: “Daar bestaan nie iets soos beheer nie, Mathys. Daar is net verlies en chaos.”

Daar is uiteenlopende karakters, soos Trouw, Sophia se baas met haar bemarkingskemas, haar shrink en haar swak vir onvanpaste mans, Candice, die verbete deeltydse huishulp, Jackson, ’n straatslaper en bedelaar met sy eie geskiedenis, Vincent, ook dakloos en woedend, Stephen, Candice se gevaarlike skoonseun, Bok, Trouw se vriend met sy OCD, sy honger na die donker web en na mag, Nikodemus die misdaadskrywer wat glo dat daar in ’n moordverhaal altyd ’n menigte skuldiges is, die vasberade vryer Anders Bester. Google, soekenjins, die tentakels van die wêreldwye web is ook karakters.

lees verder

Tags:
myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close