Wekroep oor verkragting: Netwerk24

Sy derde roman, Swartval, is sy donkerste – en mees persoonlike – oor verkragting as misdaad, sê Martin Steyn aan Elmari Rautenbach, kort nadat sy tweede, Skuldig, vir ’n ATKV-Woordveertjie in die afdeling spanningslektuur benoem is.

Verkragting is ’n tema in jou misdaadfiksie, maar jy is ook op rekord dat jy graag eendag die woordeboek sou wou oopslaan en nié die woord daarin vind nie . . .

Geweld teen vroue is inderdaad ’n sentrale kwessie in al drie my boeke. In Donker spoor word dit hoofsaaklik uit die speurder se oogpunt belig, in Skuldig konsentreer ek meer op die uitwerking wat dit op die slagoffer se naasbestaandes het, en inSwartval op wat dit aan die slagoffer self doen. My jongste verhaal word uit die hoofkarakter se perspektief vertel, wat dit meer persoonlik maak. Dis nie net die geweld/misdaad wat ondersoek word nadat dit gebeur het nie, maar ons beleef dit ook in die hier en nou sáám met die hoofkarakter.

Jy is ’n man wat grootgeword het op ’n dieet van Stephen King en jou jongste tema herinner nogal aan ’n omgekeerde weergawe van King se Misery . . . Hoekom juis King? En wat was die eerste van sy boeke wat jou onderstebo geklits het?

Ek het van jongs af in die donkerder dinge belang gestel. Op laerskool was ek en ’n vriend veral mal oor die A Nightmare on Elm Street-flieks. Toe ek op hoërskool iets by die biblioteek gaan soek het, het ek aan Stephen King gedink en The Dark Halfgevind. Dit was beter as enige gruwelfliek, want hy skep sy wêreld in jou kop; in jou verbeelding. Daarna het ek IT, The Tommyknockers en Needful Thingsgelees. Ek onthou nog IT was so ’n dik slapband met ’n illustrasie van ’n papierbootjie en drein voorop en sulke dun blaadjies; die ander twee weer sulke dik hardebande.

By King het ek die kinderlike plesier van ’n goeie storie geleer. En hoe belangrik gewone, egte karakters is. Hy is ook die bron van een van my gunsteling-aanhalings: “It’s the tale, not he who tells it.”

Hoe kom die titel en storie van Swartvalby mekaar uit?

Swartval gaan oor ’n jong vrou, Claire, wat uit haar lewe gegryp en in ’n kelder aangehou word. Daar is die letterlike swart van die kelder, want daar is nie lig tensy die ontvoerder dit inbring nie, en dis ’n val, want sy is daarin vasgevang. Die swart van die kelder word amper ’n entiteit. Dit voel partykeer vir Claire soos iets wat op haar vel kom sit; of sy vir ewig daarin sal wegval, en sy moet baklei dat haar geestelike gesondheid nie in die swart oplos nie.

Hoekom verkragting, wat so ’n ontstellende misdaad is?

Juis omdat dit my ontstel. Toe ek besluit het dis wat die storie gaan wees, wou ek ook hê dit moet ’n skop in die maag wees; ’n naakte weerspieëling van so ’n situasie, so goed as wat ek dit kon regkry. Daar is sóveel geweld teen vroue in Suid-Afrika, soveel verkragtings. Verkragting word grootliks as ’n vroulike probleem gesien, terwyl dit eintlik ’n manlike probleem is. Ons is die probleem. Mans moet betrokke raak en daaroor praat. Ons moet leer wat dit aan ’n vrou doen.

Ek was op Michelle Hattingh se bekendstelling van haar boek, I’m the Girl Who Was Raped. In ’n stadium het sy gesê sy wil nie hê haar storie moet ’n inspirasie wees nie; sy wil hê dit moet mense kwaad maak. Ons – mans – moet begin kwaad raak oor verkragting. Ek is nie iemand wat op ’n platform kan spring en mense opsweep nie, maar ek kan skryf. Ek het my bes gedoen om as ’n man hierdie storie uit ’n vrou se perspektief te skryf en te wys wat gebeur – ook ná die tyd, want verkragting het ’n blywende impak op ’n vrou. Soos Michelle in haar boek skryf: “Being raped changed me to my core.”

Hoe hanteer jy die sensitiewe gegewe van verkragting, maar bring steeds die ontsetting daarvan oor?

Die brutaliteit van geweld behoort nie verdoesel te word nie. Regte mense staan nie op en gaan net met hul lewe aan soos akteurs op TV nie. Mense moet besef watter verwoestende effek seksuele geweld op ’n mens het. Die uitdaging was om ’n balans te handhaaf tussen die beskrywing van die geweld en die binnewêreld van Claire, want dis waar die menslikheid intree; dis waar die betekenis van die geweld ontbloot word. Dis waar ons emosioneel betrokke raak.

Hanya Yanagihara, die skrywer van A Little Life, het gesê daar is nie ’n taal vir pyn nie. Stem jy saam?

As sy bedoel pyn kan nie in woorde oorgedra word nie, stem ek nie saam nie, want anders sou I’m the Girl Who Was Raped nie so ’n emosionele leeservaring gewees het nie. Of Alison Botha se I Have Life en Anchien Troskie se Dis ek, Anna. As sy bedoel pyn is ’n universele taal, dan is dit so, ja. Want ons almal ken pyn, party meer as ander.

Netwerk24

myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close