Buys wen die Helgaard Steyn-prys #eBoeke

unnamed

Buys deur Willem Anker het pas die Helgaard Steyn-toekenning ontvang.

Die beoordelaars het eenparig hul bewondering vir Anker se roman uitgespreek. Dit is verlede jaar deur resensente en lesers as ’n grensverskuiwende werk ontvang.

Luidens die trust se verklaring is dit ’n roman “wat sweef tussen tonele van ekstreme brutaliteit en briljant liriese passasies, (en) word dit inderdaad ’n tipe mikrokosmos van en matriks vir die huidige, gewelddadige Suid-Afrikaanse samelewing”.

Buys is in 2014 deur Kwêla Boeke uitgegee en Anker het reeds die Universiteit van Johannesburg se prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans, asook die WA Hofmeyr-prys, k. Sello Duiker Memorial Literary Award, Hertzogprys vir prosa en die kykNET-Rapport-boekprys vir fiksie ontvang.

Die Helgaard Steyn-prys gaan op Dinsdag 22 November op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit aan Anker oorhandig word.

Die prys word in ’n vierjaarlikse siklus toegeken en roteer tussen die dissiplines: toonkunskomposisie, skilderkuns, letterkunde en beeldhoukuns.

Vorige wenners van die gesogte prys sluit in die komponis Peter Klatzow vir musiek, die kunstenaar Wim Botha vir visuele kuns en die skrywer Dan Sleigh vir romankuns.

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn (1902-1983). Die trust is genoem na dr. Steyn se vader, Helgaard Steyn, ’n oud-LPR van Bloemfontein en die jongste broer van die laaste Republikeinse president van die Oranje-Vrystaat, Marthinus Theunis Steyn.

Vanjaar se beoordelaars was proff. Henning Pieterse (sameroeper, Universiteit van die Vrystaat), Hein Viljoen (Noordwes-Universiteit) en Louise Viljoen (Universiteit van Stellenbosch).

Koop die eBoek hier!

 

BUYS: ‘n Grensroman (Afrikaans Edition)

Tags:
myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close