DOODSROEPER − RIKA CLOETE

Doodsroeper (Afrikaans Edition) Afrikaanse eBoek

Price: Check Price
Februarie, 1861. ’n Groepie trekboere maak naby die Gamagara-rivier in die Kalahari staning. Nie ver daarvandaan nie, lê Stilbos – ’n misterieuse bos sonder voëls, maar ook die skuilplek van die Doodsroeper, ’n onaardse wese wat uitroep voordat iemand sterf. Kort voor lank word die geskende lyk van een van die boere in die bos […]

“O. So dit is hoekom jy hier is. Jy dink ek het iets daarmee te doen? Julle dink ek het hom die gif ingegee?” kom dit bitsig.

“Dit het ek nie gesê nie,” verdedig Soois. “Maar miskien weet jy iets wat my op die regte spoor kan sit. Dit is belangrik dat ek jou kant van die storie ook hoor.”

“My kant van die storie?” Dit lyk of Magrieta enige oomblik gaan uitbars van die lag. “M’y kant van die storie, neef Soois? Dit was nog nooit vir julle van belang nie. Hoekom nou ewe skielik? H’m? Waar was julle toe hy my dag na dag te lyf gegaan het? Van binne en van buite af stukkie vir stukkie verrinneweer het? Waar was julle toe? Waar was julle toe hy my kinders pimpel en pers geslaan het tot hulle amper by die dood omgedraai het? Toe hy by al wat vrou is, loop lê het om sy luste te bevredig? Het julle toe omgegee? Het julle toe gekeer? En nou moet geregtigheid kastig geskied sodat julle snags met skoon gewetes kan gaan slaap? Te hel met julle, Soois Bruwer.”

So vinnig as wat die uitbarsting begin het, kom dit tot ’n einde en Magrieta word weer kalm. Sy lyk oud en voos.

“Ek weet dit is vir jou moeilik, Magrieta,” sê Soois. Hy probeer om simpatiek te wees, maar hy weet sy woorde klink hol. Hoe troos ’n mens in elk geval iemand met soveel bitterheid en pyn? Is dit hoegenaamd die moeite werd om te probeer as die oorsaak van al die ellende nou finaal uit die prentjie is?

“Hoekom laat julle nie die dooies met rus nie, neef Soois? Wat gaan dit julle tog baat? Buitendien, ons is almal beter af soos dit nou is. Rooi Willem inkluis.”

“Hoe kan jy so iets sê, Magrieta?” Soois het nie verwag dat sy die woorde sommerso reguit sou sê nie. “Jou man is wreed vermoor. En selfs al voel jy dalk hy het dit verdien, kan ons dit nie net los nie. Die skuldige moet aan die kaak gestel word.”

Dit word stil tussen hulle en hy sien hoe haar kneukels wit onder haar vel uitslaan toe sy haar vingers inmekaar klem. Toe ontspan Magrieta en laat haar hande op haar skoot rus.

“Jy is reg, neef Soois,” sug sy. “Ek het hom doodgewens. Elke dag van my bestaan het ek vir Rooi Willem Mostert doodgewens. Daaraan is ek skuldig. Ek wou hê hy moes sterf sodat ek ook tot rus kon kom. Weet jy wanneer laas het ek behoorlik geslaap? Seker nie in twintig jaar nie. En dit net as gevolg van vrees. Vrees dat hy op my gaan klim om my te dek soos ’n koei. Vrees dat daardie behaarde bojaanhande die bloed uit die are in my keel gaan pers en my ribbes inmekaar gaan druk. Dit het my dag na dag, nag na nag gery. Weet jy hoe moeg ek is? Laat ek jou vertel. Ek is tot die dood toe moeg.”

“Maar jy het nooit gepraat nie, Magrieta.”

“Wat sou dit tog help, neef Soois? In hierdie wêreld waar ’n vrou niks is nie? Waar ek niks is nie? Dit is hoekom ek nie eens probeer terugbaklei het nie. Al wat ek kon doen, was om die ander wang te draai soos wat God dit van ’n mens verwag. En selfs dit het Rooi Willem vir verset aangesien.”

“Dit is nie waar nie, Magrieta,” sê Soois. “God verwag nie van ons om net toe te laat dat ons deur ander verniel word nie. Die mens se liggaam is God se tempel en ons moet dit oppas. En jy is nie niks nie, Magrieta. Jy bly mens.”

“Dit gaan veel dieper as die liggaam, neef Soois,” verduidelik sy. “Veel, veel dieper. Dit ruk aan jou siel totdat elke greintjie selfrespek uit jou getap is. En dan help praat en keer net mooi niks.”

Soois se keel wil toetrek van die woede wat hy vir Rooi Willem voel, meer nog van die jammerte wat hy vir hierdie stukkende vrou hier voor hom het. Gestroop van hoop en sagtheid en vrouwees net omdat ’n man dit so wou. Dalk is dit tog beter dat hy dood is, die muishond. Veral vir haar.

 

Tags: ,
myafrikaans
One Comment Comments Feed:
  1. Christo

    Baie goed…maak my vel sommer kruwel want dit gebeur werklik en soveel bly net stil.

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close