Nuut van Lapa November 2016

Lapa se  mandjie loop oor vir die Kersmark

Daar is drie spanningsverhale en talle liefdesverhale om van te kies.
Isa Konrad se Moord op Karibib is ’n klassieke whodunnit in die styl van Agatha Christie, maar wees gewaarsku, Die Soenoffer is een van die donkerste boeke wat nog in Afrikaans verskyn het. Dit is briljant, maar nie vir mense met sagte mae nie.
Gelukkig is Chanette Paul se Boheem, wat nou weer uitgegee word, ’n lekkerleesboek.
Natuurlik spog ons ook met ons liefdesverhale: Vier Romanzas, ’n Romanza-omnibus én ’n Romana-Tydskrif, alles in een maand. Dis mos ons ding!
Hulle skeep nie die kleingoed af nie. Daar is baie boekies vir blinkogies.
As jy in niefiksie belangstel, loer asseblief na die humoristiese hofbeskrywings in Genade! EdeLAGbare wat deur RSG se Ian Wessels saamgestel is. Ons het ook twee ander boeke wat allerlei inspirasie bied.

Fiksie

Moord op Karibib
Isa Konrad
Spannig
ISBN 9780799381825

Dit is Nuwejaar. Alet is besig om te vlug. Daar is niks om te vier nie. Al wat sy, blou oog en al, in die spieël aan haarself moet erken, is dat haar huwelik ’n hengse fout was. Alet stop op Karibib, ’n gehuggie in Namibië; oftewel moedverloor se vlakte, so lyk dit vir haar.
Hier word sy die ooggetuie van ’n motorongeluk en kort daarna sterf die man wat sy uit die wrak gehelp het. Die polisie besef dis moord. Nou sít Alet op Karibib en sy word gekonfronteer met die spoor van droefheid en verwerping wat die vermoorde agtergelaat het: ’n Vrou wat haar toevlug tot drank neem, ’n minnares wat veel meer as ’n verhouding voor oë het en ’n kind wat deur sy pa ontken is, dit is maar ’n paar van die goed wat sy oopvlek deur te luister.
In die Namibiese landskap word inspekteur Con Dorfling ook deel van Alet se lewe, die broeiende man met die min woorde en wonde van sy eie.
Isa Konrad se sagte hand speel met vroulike intuïsie, iets wat uiteindelik maak dat die moordenaars (natuurlik) aan die pen kan ry. Moord op Karibib is ’n klassieke whodunnit, so reg in die kraal van mense wat Agatha Christie se slim speletjies met leidrade geniet het.

Die soenoffer (Afrikaans Edition) 1

Die Soenoffer

Isa Konrad
Spanning
ISBN 9780799352061

Op nege is sy ’n reeksmoordenaarm maar wie is sy regtig?
’n Verwaarloosde dogtertjie, net vier jaar oud, word in Soutpansbergweg gevind. Sy weet nie waar sy woon nie, of waar haar ma is nie. Wat agter hierdie kind lê en wat nog sou kom, is te gruwelik om te beskryf. Die leser weet wel: Teen die ouderdom van nege is hierdie meisie reeds ’n reeksmoordenaar en die tronk wag.
Wessel Janke, ’n bekende joernalis, word baie jare later Pretoria toe gestuur om ’n onderhoud met haar te voer. Hy verwag om ’n monster te leer ken, maar Isobel Swart is ’n doodgewone vrou, ’n toegewyde ma vir haar kind. Haar verhaal trek hom in, dit verswelg hom.

Boheem (Afrikaans Edition) 1

Boheem
Chanette Paul
Spanning
ISBN 9780799381474

Katrien Bresselaar het voorheen al weggekom met moord. Die halwe vingerafdruk op die moordwapen is hare.
Drie jaar later beland sy, nou bekend as Kayla Cilliers, op Bohemia, ’n kunstenaarskolonie waar Rose-Anne Lockwood ’n prutpot geskep het wat een of ander tyd moet oorkook. Onder die kreatiewe oppervlak sied dit – Judy wat stemme van die Anderkant hoor; Lente opgevreet deur jaloesie; Seth en sy Gesie, wat gesigte sien; Alwyn, is sy muse kwyt; Hendrik en Leen, Justin en snobistiese Bonnie … Dan is daar Mitch Lockwood, wat alles bymekaar moet hou.
Dis hier waar Kayla vir die tweede keer in haar lewe op ’n lyk afkom en haar vingerafdruk is weer op die moordwapen.

Wilde Hawer
Madelie Human
Romanse
ISBN 9780799381818

LAPA Uitgewers is baie trots op ons Romanza-reeks, daarom is dit ’n vreugde om hierdie lekkerleesomnibus op die vakansiemark los te laat. Wilde hawer bevat drie van Madelie Human se vorige Romanzas: Om Ben lief te hê, Om Dirk te tem en Om Kobus te ken.
Om Ben lief te hê: Hy’t haar een nag, tien jaar gelede, liefgehad en toe weggesmyt. Noudat sy terug is op die plaas, is Ben Louw ook daar.
Om Dirk te tem: Keer op keer laat Dirk Degenaar Marica voel asof sy oor ’n afgrond tuimel. Die ses maande wat sy by hom in die huis bly om, ná sy ongeluk, vir hom fisioterapie te gee, is toe vir hóm lank genoeg om haar in sý web te kry.
Om Kobus te ken: Toe Sureta hom bitter nodig gehad het, het hy spore gemaak, nou trek Kobus Hattingh sommer by haar in, wil hy huisie-huisie speel; kwansuis om sy seun te leer ken.

RomanzaLiefde
Verskeie outeurs
’n Tydskrif vol Romanses
ISSN: 2518-4644

LAPA Uitgewers is baie trots op ’n splinternuwe toevoeging tot ons Romanza-reeks. RomanzaLiefde is ’n tydskrif wat vanaf 28 November in Checkers, Clicks, Pick n Pay en CNA te koop gaan wees. Dit is gemik op lesers van die liefde.
RomanzaLiefde is ’n omibus van drie liefdesnovellettes en een bonuskortverhaal. Dit is ’n bekostigbare produk. Lesers kan dit in die motor, op die Gautrain of in ’n taxi op pad werk toe lees.
RomanzaLiefde verskyn kwartaalliks. Vanaf 28 November 2016 sal die eerste uitgawe van RomanzaLiefde op die rakke wees. Dit bevat verhale deur Bernette Bergenthuin, Madelie Human, Dina Botha en Joanna Alexander. Joanna het die Kuier / LAPA / PEN Afrikaans-kortverhaalkompetisie gewen.

Projek Ware Liefde
Marilé Cloete
Romanse
ISBN 9780799381382

Christine staan in die son en omkom van die dors, maar Dennis nooi haar nie by sy huis in nie. Hy kan nie onthou dat hulle ’n afspraak het, maar hy weet verseker: Christine is die prinses van sy nuwe fantasieverhaal.

Liefste Kollega
Joléne De Koningh
Romanse
ISBN 9780799381399

Daar is ’n vonk tussen haar en die nuwe baas. Ani weet haar hart is in gevaar. Wanneer Igna haar volgens ’n ou Suid-Amerikaanse wyse vra om te trou, het sy tien dae om hom die jawoord te gee.

Vuurvliegie
Frenette Van Wyk
Romanse
ISBN 9780799381405

Xanthe is in die Amazone om haar vriendin se troue af te neem. Die oomblik wat sy in Bence se oerwoudgroen oë kyk, raak haar knieë lam. Wanneer hulle egter in mekaar se geselskap is, spat die vonke behoorlik.

Liefde in September
Alta Steyn
Romanse
ISBN 9780799381412

Sewe jaar gelede het Dewildt Janine se hart gesteel. Nou steel hy haar erflating, iets wat sy hom nooit sal vergewe nie. Hul bestee egter baie tyd saam en sy besef Dewildt is nie net enige man nie − hy is haar hartsgenoot.

Kinderboeke
Towertapyt – 32 stories van rondom die wêreld
Wendy Maartens
Illustreerder: Johan Strauss
Kinderboek
ISBN 9780799379181

Kom reis saam op ’n towertapyt en ontdek kinders van regoor die wêreld se gunstelingstories!
Vind uit waarom Dassie nie ’n stert het nie (Suid-Afrika), word opnuut bekoor deur die geliefde sprokie van Doringrosie (Frankryk), kom stap saam met die drie Rammetjies Rof oor die nare ou trol se brug (Noorweë) en vind uit wat gebeur wanneer ses blinde mans op ’n dag ’n olifant teëkom (Indië).
In hierdie boek vol pragtige illustrasies het meesterstorieverteller Wendy Maartens 33 klassieke stories bymekaargemaak wat al eeue lank in verskillende lande vertel word. Daar is stories uit elke uithoek van die wêreld – van Duitsland tot Denemarke, Italië tot Israel, Egipte tot Groenland, ’n fantastiese geskenk vir enige jong storieliefhebber!
Kyk net: Soedan – Die lelike meisie; Egipte – Die dosyn eiers; Algerië – Sarifa en die wit kalf; Benin – Wie se voetspore is dit?; Ethiopië – Die geheim om altyd beeldskoon te bly ; Suid-Afrika – Waarom Dassie nie ’n stert het nie; Noord-Amerika – Hoe die oseaan ontstaan het; Meksiko – Die dag toe musiek aarde toe gekom het; Colombië – Die verlore vriend ; Ierland – Jack die Dwaler; Engeland – Wat ’n vrou die graagste wil hê; Noorweë – Die drie Rammetjies Rof; Groenland – Die arme weeskind; Estonië – Die meer wat weggevlieg het; Denemarke – Die vuurhoutjie-meisie; Hongarye – Die rooi skoentjie ; Duitsland – Vyf nare dierasies; Nederland – Die vrygewige Sint Nikolaas; Frankryk – Doringrosie; Griekeland – Pandora se kissie; Albanië – Die bedelaar en die paradys; België – Die dankbare diere; Spanje – Die soldaatjie wat koning gekraai het; Italië – Franciskus, die groot dierevriend; Israel – Optelgoed is hougoed; Ceylon – Die haas op die maan; Indië – Ses blinde mans en ’n olifant; Viëtnam – Klipberg se geskenk; Birma – Mejuffrou Muis se bruidegom; China – Die bord met die blou wilgerpatroon; Rusland – Die vrou wat so baie gepraat het; Australië – Die reënboogslang; Polenisië – Die dag toe die son sy voete begin sleep het.

Moenie Hierdie Boek Eet Nie! – ’n Rympie Vir Elke Dag
Jaco Jacobs
Illustreerder: Zinelda McDonald
Kinderboek
ISBN 9780799379211

Wat soek ’n haai in die skool se swembad? Hoe lank is ’n weerwolf se humeur? Is enige iets erger as skottelgoed was? Wat is ’n huis sonder ’n moeder? Is ’n draak die perfekte troeteldier? Wat soek jou ouma op die Pick n Pay se dak? Hoekom dra bere nie klere nie? Wat sou gebeur het as die maan ’n pizza was? Waarom is daar so min rympies oor erdvarke? Bestaan daar iets soos ’n spaghettiboom? Wat moet jy doen as ’n renoster jou jaag? Hoe klink die perfekte monsterbrul? Wat eet Dracula vir nagereg? Kan jy jou eie elmboog lek?
Jy sal die antwoorde op al hierdie vrae in dié lawwe lekkerlagboek vind. Moenie hierdie boek eet nie! bevat 365 rympies, plus ’n bonusrympie vir ’n skrikkeljaar, wat kinders én grootmense heeljaar sal laat skaterlag.
Daar’s rympies, lawwe limerieke, heerlike haikoes en tawwe tongknopers! Jaco Jacobs se GROOTSTE en SNAAKSSTE rympiebundel OOIT is ’n moet-hê-boek vir elke kind se boekrak!

Slimkop! Opwindende eksperimente vir jong wetenskaplikes
Koproduksie
Kinderboek
ISBN 9780799380064
R260.00
Maak jou eie glibberige slym, bou ’n sonnestelsel met rubberrekkies, laat ’n seepaangedrewe bootjie seil, en bou ’n vulkaan wat skouspelagtig uitbars. Jy sal al hierdie eksperimente en nog baie meer in hierdie fantastiese boek vir jong wetenskaplikes kry!
Slimkop! bevat 28 briljante projekte, met illustrasies wat alles stap vir stap verduidelik, alledaagse bestanddele wat in en om die huis verkrygbaar is, en verstommende foto’s wat jou van die begin tot die einde leiding gee. Die wetenskap agter elke eksperiment word ook verduidelik, en daar is voorbeelde uit die regte wêreld wat jou sal help om wetenskaplike beginsels beter te verstaan.
Slimkop! is perfek vir jong wetenskaplikes en handwerk-entoesiaste. Dit sal die jongspan ure lank besig hou.

Grom
Jaco Jacobs
Illustreerder: Karen Lilje
Kinderboek
ISBN 9780799379136

Party oggende voel Emma brommerig en grommerig. Sy is nie lus om op te staan nie. Sy is nie lus vir pap nie. Sy is nie lus om met haar boetie te speel nie.
Een oggend, toe Emma in die spieël kyk, sien sy iets baie vreemds: Sy het snorbaarde, haar hele lyf is vol kolle, haar neus wikkel en wriemel, haar vel kriewel en kielie, haar oë blits en haar tande flits in die spieël! Emma verander in ’n LUIPERD! Kort voor lank moet almal uit haar pad bly. Ouma dink die luiperd hoort in die dieretuin, maar Emma se boetie het gelukkig ’n slim plan.
Elke kleuter, ook hulle Ma en Pa, sal identifiseer met hierdie prettige prenteboek oor daardie brommerige, grommerige oggende wanneer almal jou eerder met rus moet laat!

Z is vir Zackie (3) Die beste boomhuis
Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen
Kinderboek
ISBN 9780799379921

Zackie en Vincent bou ’n boomhuis. Dit gaan die beste boomhuis in Granaatstraat wees! Zackie se suster en haar maat wil ook daarin speel, maar Zackie en Vincent is nie lus om op pienk kussings rond te sit en met teestelle te speel nie. Daarom maak hulle ’n bordjie waarop staan: GEEN MEISIES! Sal hulle die meisies uit hul boomhuis kan hou?

Z is vir Zackie (4) Die perfekte pizza
Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen
Kinderboek

ISBN 9780799379020
Zackie en Vincent gaan saam mark toe. Die mark is groot pret. Daar is allerhande oulike stalletjies waar hulle kan rondsnuffel en daar is lekker kos. Ons maats kan nie wag om die heerlike pizza te proe nie. Anton, die grootste boelie in die skool, is ook by die mark en hy is ook lus vir pizza! Hoe gaan Zackie keer dat Anton die pizza opeet?
’n Hondjie vir Sherise
Koproduksie
Kinderboek
ISBN 9780799380040

Sherise is baie skaam en vergeetagtig. Sy het al selfs haar tandeborsel en skooltrui verloor!
Dit is nie so erg om ’n skooltrui te verloor nie, maar Sherise wil baie graag ’n hondjie hê en ’n mens kan nie jou hondjie verloor nie! Daarom is Sherise baie opgewonde toe sy die geleentheid kry om na hulle bure se Labrador-hondjie, Jasper, te kyk. Nou kan sy bewys dat sy verantwoordelik genoeg is om ’n hondjie van haar eie te hê.
Dan besef Sherise dat sy nie sommer enige hondjie wil hê nie ─ sy wil vir Jasper hê!

’n Ponie vir Karla
Koproduksie
Kinderboek
ISBN 9780799380057

Karla het die beste present ooit gekry ─ haar eie ponie! Kaneel is ’n pragtige, goudbruin ponie met ’n wit bles. Karla en Kaneel kom baie goed oor die weg. Sy kan nie wag dat die vakansie aanbreek sodat sy haar ponie beter kan leer ken nie.
Dan kondig Karla se ouers aan dat hulle gaan skei en dat alles verander. Skielik sien Karla nie meer uit na die somervakansie nie. Sy wens alles kon dieselfde bly. Wat Karla nie weet nie, is dat daar hierdie vakansie ook nuwe ontdekkings en heerlike verrassings op haar wag.

Niefiksie
Genade! EdeLAGbare: Humor en die hof
Ian Wessels (Samesteller)
Humor
ISBN 9780799379655

In Genade! EdeLAGbare oortref Ian Wessels en die RSG-luisteraars hulself met lekkerlag en lekkerlees hofhumor. Regters, landdroste, staatsaanklaers, advokate, prokureurs, tolke, polisiemanne, spietkops, maatskaplike werkers, getuies en almal wat al paaie met die hof gekruis het, is gewillige “slagoffers” van dié skreeusnaakse bydraes.
Ian Wessels se doel was om ’n humoristiese werk, met behulp van RSG-luisteraars se bydraes, saam te stel. Sommige bydraes laat vergange tye van polisiepatrollies te perd of te fiets herleef, terwyl ander met deernis kyk na dié mense vir wie die reguit paadjie of “de smalle weg” darem net te eentonig is.
Uittreksel: ’n Boer se bakkie word gesteel, maar die prokureur karnuffel hom so onder kruisverhoor dat hy later vir sy vrou vertel: “Gaats, Mammie, ek was later nie eers meer seker of ek ooit ’n bakkie gehad het nie!”

Doen dit weer so
Vrouekeur
Wenke
ISBN 9780799379839
R125.00
Doen dit wéér só, is nog ’n samestelling uit Vrouekeur-tydskrif se gewilde wenkerubriek. Die wenwenke kom weer uit lesers se penne. Van regoor die land kom hulle – briewe met die beste wenke; kure vir kwinte en kwale en raad vir allerlei probleme in die huis, van motte, miere, miet en muf tot raad vir ’n skoon matras, spogkoeke en ’n skottelgoedwasser wat soos ’n splinternuwe sikspens lyk en ruik.
Die idee is om so min produkte as moontlik vir so veel take as moontlik in te span. Teen R125,00 per kopie is Doen dit wéér só boonop uitstekende waarde – ’n puik belegging.
Die vorige boek, Doen dit só, het 22 keer die Nielsen top 100 gehaal, so gewild was dit. Hierdie een behoort ook weer van die rakke te vlieg
Zerelda Esterhuizen werk al langer as tien jaar by Vrouekeur. Sy het in die Kaap grootgeword, in Pretoria joernalistiek gestudeer en bly nou op Krugersdorp saam met haar man en twee kinders. Haar passie is skryf, of dit nou vir die weeklikse wenkerubriek, haar blog of artikels is.

Vrouekeur kreatiewe en inspirerende jaarbeplanner
Vrouekeur
Jaarbeplanner
ISBN 9780799379846

Vrouekeur is ’n populêre gesinstydskrif wat elke week ’n inspirerende rubriek deur Janine Bevolo-Manders publiseer. Die rubrieke het ’n Christelike inslag en bied raad, hoop en inspirasie. Die Vrouekeur kreatiewe & inspirerende jaarbeplanner bestaan uit ’n versameling van Janine se boodskappe, verpak in die vorm van ’n nuttige jaarbeplanner met oorspronklike illustrasies deur Rina Burger, ’n plaaslike kunstenaar, en illustreerder van die blitsverkoper ROUGE, inkleurboek vir grootmense.
Vroue kan boek hou van hulle afsprake, inspirasie put uit Janine se praktiese raad en lekker sit en inkleur wanneer daar ’n los oomblik is.

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close