Seks, leuens en die internet deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie

Riette Rust Resensies

Seks, leuens en die internet is ’n memoire waarin Erla-Mari Diedericks oopkop skryf oor haar ervaring van aanlyn afsprake en haar hunkering na ’n sielsgenoot. Kyk jy egter dieper, handel die memoire eerder en eerstens oor ’n 50-plusser se soeke na haarself.  

Diedericks is ’n joernalis, onder meer bekend vir haar ietwat kontroversiële (maar gewilde) rubrieke op Netwerk24. Sy het reeds ander boeke op haar kerfstok: Sin, Sushi and Survival, V-verhale en Still Standing. Seks is ’n gewilde tema. 

In haar nuwe memoire belig sy die uitdagings wat vroue ná 50 ervaar. Warm gloede en die verlies aan ’n geliefde ouer is voorbeelde. In “Waarskuwing en voorwoord” lei jy reeds af waaroor die boek handel. Diedericks skryf: “Ek is oorgewig en onderbetaald. Ek het artritis in my knieë en arms en klim soos ’n krap teen trappe af. Ek ontdek elke dag plooie op my gesig wat nie aan lag toegeskryf kan word nie. Ek piepie deesdae wanneer ek nies. Ek is steeds bang vir spinnekoppe en vaste verhoudings …”

Hoewel die memoire ’n hartseer ondertoon het, is dit meestal vrek snaaks. Diedericks het dit byvoorbeeld teen mans wat, voordat hulle nog ’n potensiële liefdesmaat ken, vir haar name soos Bokkie of Girl toevoeg. Sy noem hulle tog nie “Bleskoppie of Varknekkie” nie, reken sy.

Om aanlyn afspake te maak, is deesdae algemeen, al waarsku ons voorgeslag  daarteen. Die skrywer se ma is eweneens skepties: “… hoe julle mekaar kan raakruik op daai webwerwe weet die vader alleen,” sê sy. Tyd om ’n potensiële geliefde in die werklike lewe raak te ruik, is daar vir sakevroue meestal nie. Daarby wil nie elkeen in klubs en kroeë rondhang nie.

Die sogenaamde dating scene het die afgelope tien jaar inderdaad verander. Verby is die dae toe net ryk, slim, gesofistikeerdes ADSL-lyne gehad het. Die gevaar dat jy ’n psigopaat kan raakkliek is nou werklikheid. Diedericks skryf dat sy eerstens oplet na ’n man se taalgebruik. Sy “kyk nie eens” na een wat nie kan spel nie. Veiligheidsonthalwe hoort jy natuurlik ook kontakte in ’n openbare plek soos ’n restaurant te ontmoet. 

Lees verder

https://myafrikaans.com/product/seks-leuens-en-die-internet-afrikaans-edition/

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close