Pienkes du Plessis gesels oor sy nuwe boek Ons Camino : uit Weg
Deur Erns Grundling
Die Camino in Spanje lok jaarliks byna ’n kwartmiljoen mense. Pienkes du Plessis en sy vrou het 330 km tussen León en Santiago de Compostela gestap. Pienkes vertel vir ons meer oor sy pelgrimstog en nuwe boek.
Waar het jy die eerste keer van die Camino gehoor?
Soos die meeste mense het ek en my vrou, Lizzie, maar net vaagweg ‘geweet’ van die Camino, maar dis toe ons toevallig met ’n paar Camino-stappers aan die gesels raak dat dit ons avontuurlus begin prikkel het. Die boek wat waarskynlik die grootste invloed op ons besluitneming gehad het, was die intieme ontboeseming van die diep gelowige en dierbare ou oom, Ermanno Aiello van Somerset-Wes. Hy het die boek Forever a Pilgrim geskryf. Die eenvoud, ootmoed en die liefde vir sy God en vir sy vrou was ’n openbaring. Só, het ek gedink, lyk die binnekant van ’n rêrige pelgrim.
Wat het jou laat besluit om op tagtig hierdie pelgrimstog te gaan stap?
Ek en Lizzie is nou nie eintlik vreemdelinge vir sport en stap en sulke dinge nie. Ek bly in ’n groterige, sterkerige lyf, sonder siektes. Maar darem met ’n paar kwesplekke, letsels uit ’n woelige jongtyd. Vlak voor die Camino het die kardioloog met ’n pasaangeër aangehardloop gekom. Grootskrik was nie die woord nie.
Waarom dink jy gryp die eeue oue, mistieke Camino die afgelope tyd soveel se verbeelding aan?
Mense stap die Spaanse Camino al vir 1 200 jaar – aanvanklik met die uitsluitlike doel om by die Apostel Jakobus se graf in Santiago uit te kom en só vergifnis vir hulle sondes te bekom. Pelgrims was hulle, of dan peregrinos.
Volgens inligting het daar reeds in die 12de eeu ’n halfmiljoen pelgrims per jaar hierdie pelgrimsreis gestap. In die Middeleeue was daar by die toegewyde Katoliek ’n obsessie om by Jakobus se beendere uit te kom. Verflenterd, honger, siek, maar biddend het hulle die tog aangepak, en in hulle duisende van koue of hitte of ander ontberings op die lang pad omgekom. Hulle belewenisse het in status en intensiteit gegroei tot byna magiese formaat, in so ’n mate dat behalwe Jakobus se eie 16 wonderwerke wat hy op die tog geskep het, daar ’n duisternis ander wonderwerke ook ontstaan het.
Mettertyd het die tog egter in gewildheid afgeneem, tot so ’n mate dat enkele jare gelede, hier in die vroeë negentigs van die vorige eeu, daar maar sowat 600 pelgrims in ’n hele jaar die tog voltooi het. Nietemin het die misterie en mistiek van die Camino bly voortbestaan, en skielik het die getalle weer begin groei en is daar tans bykans 250 000 stappers per jaar wat die tog aanpak. Maar daar het nou ’n nuwe soort stapper bygekom – die avontuurlustige, die groene, dalk een met geld, met ’n straler op Santiago se lughawe, ’n peregrino wat met gesag kan praat oor die filosofie, die wetenskap, ’n nie-Katoliek, ’n ongelowige in baie gevalle. En almal, voor die voet, op soek na die mistiek van die Camino de Santiago.
Pienkes, ek deel jou sentiment. Ek en my man as 60+ het die Camino del Norte van Irun na Santiago Compostello voltooi. Ons het vir n tweede keer gegaan en weer die laaste 300 km van die Del Norte gedoen. In April pak ons die Portugese roete uit Lisabon na Santiago aan. Elke keer was n nuwe ervaring, wat net ons liefde vir hierdie pragtige hartlike mense van wie ons so baie van eenvoud kan leer. Die Camino maak n merk op jou siel!
Maree Smit
Keetmanshoop
Namibia