Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen: ’n resensie
Die vyfde Aspoester (Afrikaans Edition)
Price: Check PriceJan Vermeulen is alombekend en -gewild vir sy jeugverhale. So deeglik het hy die genre onder die knie dat hy gereeld toekennings vir sy skryfwerk vir jongmense inpalm. Aan die begin van die jaar het hy LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2017 met Oopmond gewen, nadat hy in 2015 dieselfde kompetisie met Asem gewen het. Dit is maar enkele van die pryse wat pronk op sy indrukwekkende skryf-CV, wat ook ’n internasionale erkennings of twee bevat.
Dit is dan geen wonder dat Vermeulen besluit het om sy net wyer te span en in ander, onbekender waters vis te probeer vang nie. As mens een mark oorwin het, kan jy tog sekerlik probeer om ander lesers ook te wen vir jou saak?
Sy debuut vir volwassenes, Die vyfde Aspoester, verklap reeds met eerste oogopslag dat dit geen kinderverhaal gaan wees nie, maar beslis iets meer sinister. Die woordjie “vermoor” op die voorblad maak dit verder duidelik dat sy mark vir hierdie boek eerder whiskeydrinkers as pienk-melkskommel-genieters is en dat hy moontlik mik om homself op die vinniggroeiende lys van plaaslike misdaadskrywers te posisioneer. Hierdie lys, wat maar skrams was ’n paar jaar gelede, het soos ’n semi-outomatiese wapen in die hand van ’n kroek ontplof en ’n “welbewus-van-die-dreigende-kompetisie” Deon Meyer van sy troon as vetoreghouer van die krimi afgeskiet. Daar is nou misdaadverhale te kies en te keur. Lojale lesers bly lief vir Meyer, maar niemand hoef meer te wag vir Bennie Griessel om sy speurwerk te doen nie. Verslaafdes van die genre kan hulle tande in onder meer Irma Venter, Chris Karsten en Piet Steyn se volronde verhale met ongesond-lekker karakters inslaan. En elke dag word dié lys van interessante karakters en stories langer. Daar is stewige kompetisie vir Meyer, en ek is seker hy is dankbaar daaroor.