Drieklank – Ida Stols
Drieklank (Afrikaans Edition)
Price: Check PriceHOOFSTUK 1
Allison kry net nie die ongemaklike sensasie wat al langs haar ruggraat afloop, afgeskud nie. Dae lank probeer sy dit al omseil – weke selfs.
Gewoonlik geniet Allison dit om Sondae die erediens by te woon. Dis nou die kere wat hulle daar uitkom. Met twee klein kindertjies en al hulle ander verpligtinge kan hulle onmoontlik nie élke Sondag daar wees nie. Maar, gelukkig verstaan die Here dit. Of so het sy tot onlangs gedink.
Om kerk toe te gaan, kalmeer haar. Die absoluut perfekte stilte vooraf praat met haar, en die voorspelbare ritme van gebeure vat haar terug in tyd, terug tot by die sorgeloosheid van haar kinderjare. Boonop voel sy altyd beter as sy daar was, en neem haar soms stilletjies voor om meer gereeld by die diens uit te kom. Om meer te bid, meer Bybel te lees. Sy het wel nog nie daarby uitgekom nie, maar dis net ’n kwessie van tyd.
Ja, sy het nog altyd geweet hulle is bevoorreg, die kerk is goed – stabiel, en voordelig vir die hele gesin.
“Ma-ma-ma-ma!” Die geluid vanaf die agtersitplek ruk haar terug na die hede, en sy trap skerp rem om haar draai te kry by die Spar se ingang in.
“Hallo, Cara’tjie, Mamma hoor jou!” Allison is mal daaroor om te sien – en te hoor – hoe haar babadogter op haar stem reageer.
“Mamma is hieeeeer …”
Die laaste diens waarby sy was, het net alles kom omkrap, dink Allison geïrriteerd. Die nuwe predikant het gepreek oor hoe om die Here se stem te hoor, en hoe jy weet dat jy ’n persoonlike verhouding met Hom het. Vanselfsprekend het sy sekerheid oor albei – sy is immers al baie jare gered.
Glo sy in Jesus? Natuurlik. Sal sy hemel toe gaan as sy vanaand doodgaan? Beslis. Die antwoord was haar lewe lank nog dieselfde.
Maar iets in die nuwe predikant se stem het haar kriewelrig laat voel. Die manier waarop hy die vrae gevra het, die voorbeelde wat hy gebruik het – sy kan nie haar vinger daarop lê nie, maar dit het haar eenvoudig dwars in die krop gesteek.
Wat was die vers wat hy aangehaal het toe sy hom ná die diens gaan konfronteer het? Iets van die Here wat haar hartseer in geluk gaan verander. Maar dit was meer outyds, soos woorde in die Bybel soms is. In elk geval, hy het aangedring daarop om dit vir haar neer te skryf – dit is uit iewers in die Psalms, dink sy. Toe hy die kaartjie in haar hand toevou, was sy oë vlamblou van intensiteit: “Hou dit veilig, dis die Here wat met jou praat,” het hy gesê. Allison het haar oë laat sak, ongemaklik vinnig die kaartjie in die afkondigingsblaadjie ingedruk, en haar uit die voete gemaak.
Die papiertjie behoort nog daar te wees, voor in haar Bybel wat sy op die rak naby die voordeur bêre, sodat sy dit nie hoef te soek as hulle weer kerk toe gaan nie. Mens moet georganiseerd wees.
Sy moet erken, Arno se reaksie op haar klagte oor die nuwe predikant het haar ’n bietjie onkant gevang. Haar mond plooi in ‘n effense glimlaggie wanneer sy aan haar man dink – ná agt jaar van getroude lewe maak hy nog steeds haar knieë lam!
Toe sy met hom deel dat sy beslis die afgetrede predi¬kant bo die nuwe een verkies, het hy haar ’n rukkie swyend aangekyk, en toe iets gesê van die Here wat soms op vreemde maniere met ons werk. Voor sy kon vra wat hy bedoel, is hulle onderbreek.
Natúúrlik, besef Allison skielik. Dis wat pla! Sy wonder die hele tyd wat Arno bedoel het, en omdat sy nie weet nie, bly dit in haar onderbewussyn vassteek. Sy is seker dat, sodra hulle gesels het en die onsekerheid opgeklaar is, hierdie voortslepende onrustigheid in haar eenvoudig sal verdwyn. Dankie tog!
Allison voel sommer al klaar beter. Vanaand sal sy vir hulle ’n lekker koppie warm sjokolade ingooi as die kinders in die bed is, en alles uitpluis …
Isabella vryf stadig oor haar pynlike bene. Dit is effens bewolk en daar is ’n koel trekkie in die lug. Sy wens sy kon die Hou sonnetjie se hitte vasvang en soos ’n karos om haar bene vou. Dalk sou dit die seer vir ’n rukkie kon afweer.
Sy kyk afgetrokke hoe haar hand – met die bruin vlekke op – groot sirkelbewegings op haar been maak, en glimlag by die herinnering aan haar skoonma se grappie van baie jare gelede: “Wanneer weet jy die ouderdom het jou ingehaal? Wanneer jy jou trui aantrek en jy sien jou ma se hande deur die moue steek.” Haar skoonma – sjoe, sy het in maande (of is dit jare?) nie aan haar gedink nie. Die tyd is geneig om inmekaar te loop vandat sy hier is.
Die klok lui hard in die gang, sy tel haar Bybel van haar skoot af op en sit dit op die klein tafeltjie neer. Dan staan sy versigtig op vir ete en wag ’n paar sekondes vir die styfheid in haar bene om skiet te gee. Soja. Dit voel beter.
Dit ruik om haar na snuif en skoonmaakmiddels, dink Isabella. Maar steeds verdring dit nie die vae urienreuk wat in die lug hang nie. Gemeng met die visgeur van middagete, laat dit haar maag draai. Snaaks dat sy die reuk in die ouetehuis maar net nie gewoond kan raak nie.
Haar gedagtes gaan terug na die plaas en sy ruik weer die donker bruin grond na 11 geelperskereën. Vars, vol belofte. Ai, dit bly maar die lekkerste reuk in die wêreld! Sy wonder of sy ooit weer die voorreg sal hê om dit in te adem.
Oudergewoonte loop Isabella vir Stoffel in die gang raak -ja-nee, daar sit hy, regop in sy stoel, op sy pos, soos altyd. Stoffel is uitgevat in sy beste pak, hoed op die kop, kierie in die hand, al wagtende op sy dogter. Isabella begin die oorbekende dialoog om hom in die eetsaal te kry.
“My neus sê vir my ons kry vis vandag, Stoffel. Sal jy omgee as ek saam met jou stap? Dis darem soveel geselliger om saam met iemand daar aan te kom.”
Verpleegster Jordaan loop verby, groet vriendelik en knipoog vir Isabella. “Ek sien julle tweetjies is al op pad eetsaal toe. Mooi so. Lekker eet!” Oor Stoffel se skouer vorm haar lippe ’n geluidlose “dankie”.
“Vertel my weer hoe lekker jy laas by jou dogter gekuier het,” por Isabella hom aan en begin haar geoefende “h’m” hier en daar toe Stoffel met skielike entoesiasme aan die gesels raak.
Stoffel se laaste kuier by sy dogter was voor Isabella se aankoms in die tehuis drie jaar gelede, en sy ken die detail goed. Sy stap immers daagliks saam met hom dieselfde paadjie eetsaal toe.
“Here,” bid sy by haarself, “werk tog in sy dogter se hart en laat sy vir Stoffel bel. Ek het al moed opgegee dat sy hom sal kom besoek – of kom haal vir ʼn kuier by haar – maar bel is darem seker maklik genoeg? Dit sal soveel vir hom beteken. En help my verstaan, om nie te oordeel nie, Here. Dankie, Jesus.”
Sy maak haar reg om met meer aandag na Stoffel te begin luister, wetende dat die laaste paar reëls van die storie nou naby is. Maar dan, uit die bloute, sien sy ’n beeld van Stoffel as ’n jong man, veeljonger as nou. Sy skouers is fors, sy hare kort geskeer en hy is pynlik netjies aangetrek. By hom is ’n opgeskote dogter – omtrent dertien jaar oud – en die wreedheid in sy uitdrukking toe hy op haar afstorm, laat Isabella haar asem skerp intrek. Dit was net ’n flits – ’n breukdeel van ’n sekonde – maar die beeld is so helder en werklik in haar gemoed dat sy sukkel om terug te kom na die hede.
‘Joe-hooooee! Isabella! Is alles reg?”
Isabella haal diep asem en dwing haar om op Marie, haar vriendin van kamer 202, te konsentreer. Marie is altyd vroeg en sy sit aan dieselfde etenstafel as Isabella en Stoffel. “Hallo, Marie. Ek is jammer, ek was net ’n bietjie ingedagte. Wat het jy gesê?”
Die beeld sal moet wag. Sy eet, en wag geduldig vir die poeding van jellie en vla. Dis eers toe sy vir Stoffel op sy sitplek in die gang los op pad terug na haar kamer, dat sy weer vir sy dogter begin bid.
“Ag, Here, maak haar hart sag. Stuur tog iemand om haar van vergifnis te leer, en gee haar die krag om dit te doen. Maak haar gesond, Here. Wees U self by haar en troos haar. En werk ook in Stoffel se hart. Dankie, Jesus.”
Isabella het lankal opgehou om vir ander mense te probeer verduidelik van die beelde wat sy sien. Dit verwar hulle, maak hulle boonop lugtig vir haar. Daar het selfs, toe sy nog jonk en onwys was, in die plaasgemeenskap stories rondgeloop dat sy met die helm gebore is. Ja-nee, haar geselsies oor die prentjies en woorde in haar kop is beslis nie goed ontvang nie.
Later het sy geleer om liewer stil te bly oor wat sy sien. Bowendien het dit haar self etlike jare gevat om te besef dat dit die Here se manier is om met haar te praat, om vir haar te wys hoe sy moet bid. Ander mense verstaan dit bloot nie.
Behalwe Hugo. Dankie tog vir Hugo! Die Here het haar bederf en vir haar ’n kleinseun gegee wat verstaan. Sy hoef nie vir Hugo te verduidelik, of met ompaaie te praat nie. Sy vertel hom bloot wat die beeld of woord was, en hulle bid saam daaroor. Sy moet tog onthou om vir hom van Stoffel en sy dogter te vertel.
Waar kan die verdomde geboortesertifikaat tog wees?
Kiara sit haar hande op haar heupe en laat haar oë oor die rye papiersakke, bokse, boeke, stapeltjies kleinighede en weggooigoed voor haar gly. Naald en gare, wierook, skilderverf, sigarette – alles veg vir ’n plekkie op die oorvol rak. Dis nogal ’n interessante versameling, glimlag sy by haarself. Judoklere uit haar vroeë twintigs lê langs die Boeddha-beeldjie wat die kortstondige soeke na vrede in haar middel dertigs verteenwoordig. Onvoltooide mosaïek- projekte, uitgedroogde buisies verf, ’n raket. Iewers moet haar boeke oor meditasie en Hindoeïsme ook nog wees, maar sy sien hulle nie nou nie.
Net so wel. Georganiseerde godsdiens doen dit nie vir haar nie. Mind control, breinspoeling, dis wat dit is. Daai issue het sy baie jare terug reeds vir haar uitgemaak. Hoekom anders word klein Moslems groot Moslems, en bly menige sogenaamde Christene jare lank uit skuldgevoel op die kerkbanke sit? Programmering, dis wat.
In elk geval, dit bring haar nog glad nie nader aan die verlêde geboortesertifikaat nie.
Soms erken sy aan haarself dat orde haar lewe makliker sou kon maak. Maar net soms. Net die gedagte aan die verstikkende georganiseerdheid van haar grootworddae is genoeg om haar aspris nog ’n paar goed te laat rondstaan en -lê. En behoede die een wat waag om haar openlik aan te vat oor haar chaotiese huis! Sy het met die jare geleer dat haar tong ’n magtige wapen is. Sy kan haar opponent met berekende akkuraatheid in fyn repies opskeur. Die mense om haar weet al van beter as om met haar skoor te soek.
Kiara sê ’n kragwoord toe sy haar kaal voet teen een van die bokse op die vloer stamp, vryf haar toon en vee spinnerakke uit die pad om by die klein leertjie in die hoek uit te kom. Plaas sy lankal onthou het van die leer, mind you. Dan kon sy die gesoekery gouer agter die rug gekry het. Hoekom die galery se eienaar ook nou skielik ʼn afskrif van haar geboortesertifikaat wil hê, sal net hy weet. Sy het mos ’n ID, magtig!
Die armbande aan haar arm klingel saggies toe sy nog ’n sak van die rak af haal. Vir die soveelste keer hoop sy dit is uiteindelik die regte een.
Die son reflekteer blokke lig teen die muur en teken interessante lyne tot op die vloer. Sy hou haar kop skuins, gun haar ’n oomblik om dit te waardeer. Kiara hou van die rykheid van die kleure wat sy die mure in die garage geverf het, die oordadigheid daarvan. Dit pas haar. Pers, rooi, oranje, blou. Vir ander is dit te erg, maar sy hou daarvan. In elk geval, as jy nie daarvan hou nie, deal with it. Dis haar houding deesdae. Sy is lankal verby die punt om haarself te probeer verander net om vir ander aanvaarbaar te probeer wees.
Sy trek haar neus op vir die inhoud van die sak – dis oud, oukei. Miskien dan tog die moeite werd om deur te gaan – haar geboortesertifikaat gaan immers nie nuut wees nie.
Sy gaan sit by die eetkamertafel en gooi alles met een beweging op die rooibruin houtblad uit. Waar kom die ou sak vandaan? ’n Hoërskoolrapport, vergeel en dof, laat sy eenkant val. Sy hoef dit nie oop te maak om te onthou hoeveel rooi kringetjies daarin is nie. En hoeveel pakke slae haar rapporte haar besorg het nie! Nie vandag nie, Kiara, nie vandag nie.
Dan vou sy nog ’n bladsy oop. Dit was om ’n foto gevou en sy laat dié summier val toe sy die gesig daarop sien. Wat? Sy dog sy het van elke laaste foto van die ou bliksem ontslae geraak toe sy haar vyf jaar terug finaal van hom afgesny het. Maar nee, hier staan hy wragtig vir haar en glimlag op die foto. Gif. Asof hy ooit veel gehad het om oor te glimlag.
Net toe sy na die foto gryp om dit op te frommel en weg te gooi, sien sy die bekende handskrif agterop. Stoffel Geldenhuys – in sy groot, oorversekerde letters geskryf. Sy laat los weer die foto en stap kombuis toe om die tamatiesous vir die pasta te gaan roer.
Dêmmit.
Kiara vat ’n groot sluk rooiwyn en pak dan verbete alles weg om vir vanaand se gaste tafel te dek.
Te hel met die geboortesertifikaat, besluit sy. As die galery-man nie haar skilderye daarsonder wil aanvaar nie, is dit sy loss. Dis in elk geval nie asof sy die geld nodig het nie – dis die een ding waarvoor haar liewe pappie wel goed was. Hy kon geld maak.
Sy haal nog ’n bottel wyn uit en maak dit oop om asem te haal. Een bottel gaan beslis nie vanaand genoeg wees nie.
Allison klim uit en balanseer ʼn wriemelende Cara op haar heup toe Rikus vra: “Kan ek blou roomys kry, Mamma? Assebliiiiiieeeef!”
Haar selfoon lui en sy antwoord net-net voordat die boodskap begin speel. Dis Ena, sien Allison. “Hallo, my liewe sussie! Gaan dit goed met jou?” Allison sien altyd uit na die amper-daaglikse geselsie met haar ouer suster.
“Allison. Dis so lekker om jou stem te hoor.” Ena klink verlig.
“My aarde … Wat het ek gedoen om so ʼn verwelkoming te kry.” Allison terg Ena graag. Sy verlekker haar gewoonlik in hoe maklik dit is om haar sus se been te trek.
Ena se sagte stem loop oor van bekommernis: “Ek het die hele nag vir jou gebid.”
Allison rol haar oë en moet ʼn oomblik op haar tong byt om die stygende ongeduld te onderdruk voordat sy antwoord. Wat gaan aan met almal vandag? As dit nie die nuwe predikant se vreemde woorde is wat haar steeds omkrap nie, moet sy hoor haar suster bid vir haar. Deur die nag, nogal.
“Dis glad nie nodig om jou so te bekommer oor my nie, Ena. Alles gaan goed. Ons is by die winkel om gou brood en melk te koop. En blou roomys, as Rikus sy sin kan kry.”
Ena antwoord: “Ek moet gaan. Bel my asseblief later as alles rustiger is, sussa.”
Dit neem ’n paar sekondes voordat Allison besef dat Ena die foon neergesit het. Sy het my sussa genoem, dink Allison. Ena doen dit selde. Inteendeel, dis net wanneer sy baie ontsteld of emosioneel is dat die kleintydnaam uitglip. Iets is fout. Sy sal Ena vanaand gou bel en uitvind wat aangaan.
Die kort rit huis toe word ingesluk deur Rikus se vrae oor hoe Jesus in die hemel en op dieselfde tyd in sy hart kan bly. Is daar dan twee Jesusse?
Ek is besig om elkeen van my kleindogtertjiedrome uit te leef, besef Allison verwonderd toe sy voor die huis stop. Ek het ʼn wonderlike man, ʼn lieflike krulkopseuntjie en baba Cara het ons gesinnetjie vol kom maak met vreugde. My lewe is perfek, net soos dit nou is, op hierdie oomblik.
Perfek!
Toe die predikant se deurdringende oë en vreemde woorde skielik weer by Allison opkom, stoot sy dit summier weg. Daar is geen hartseer in haar lewe nie, daarom ook geen plek vir sy vrae nie. Sy gaan nie weer een oomblik se energie hieraan spandeer nie.
Dis onnodig.
Die sonnetjie in Isabella se kamer het nou heeltemal agter die wolke ingekruip en sy besluit om ’n rukkie met die wolkombers oor haar bene te gaan lê. Sy klim versigtig op die bed, trek die kombers reg en besef na ’n rukkie dat die koue in haar bene vandag maar net nie wil wyk nie. Isabella sluit haar oë en probeer haar aandag van die pyn af kry.
“Hoe lank nog, Here? Wil U nie maar vir my sê nie? Ek is al ses-en-negentigjaar oud, en ek is moeg. Hoe lank nog voor LI my kom vat?”
Isabella raak aan die slaap, net om minute later met ’n ruk wakker te skrik.
Dis tyd. Sy weet dit net.
Sy ignoreer die steekpyne in haar bene toe sy hulle, so vinnig sy kan, van die bed af swaai, gefokus om die selfoon wat Hugo vir haar gegee het, uit die laai te kry. Ai, om die sleuteltjie om haar nek in die klein slotjie te maak pas. Die getoesluitery is sommer onnodig.
Uiteindelik het sy die selfoon en druk die knoppie vir Hugo. “Speed dial” noem hy dit, nie dat dit vir haar enigiets beteken nie. Solank hy net antwoord as sy dit druk. Sy wag vir die foon om sy paar bekende geluide te maak.
“Ouma! Wat ’n lekker verrassing!” hoor Isabella Hugo se opgewekte stem na die tweede lui. “Hoe gaan dit?”
“Hugo, my kind. Dis tyd.”
Allison sluip op haar tone uit die kamer waar sy Cara so pas neergelê het. Sy maak seker dat sy die deur nie heeltemal op knip trek nie – bang dat die geluid die kleinding sal steur. Dan hoor sy hoe Rikus met ʼn oorverdowende geskree die gang af hardloop en sy hou asem op om te hoor of Cara van die lawaai wakker gaan word … Nee, gelukkig nie.
Rikus is sekerlik weer aan die oorlog maak teen die een of ander denkbeeldige vyand. Sy wonder wie dit hierdie keer is – laas week was hy ’n dinosourustemmer.
Sy hoor ’n dowwe slag, dan die geluid van honderde stukkies versplinterende glas op die harde teëls. Haar treë rek. “Rikus?” skree sy. Voel dan hoe die hele aarde van sy as af kantel toe sy om die hoek kom. “Rikus!”
Bloed. Dis net bloed oral. Op die teëlvloer, teen die mure. Die bloed spuitpomp onophoudelik uit sy nek, maak spreipatroontjies in ’n sirkel soos hy rukkerig beweeg, sy oë geskok oopgesper.
Vir ʼn fraksie van ʼn sekonde kan sy nie beweeg nie. Sy voel hoe die naarheid in haar keel opstoot en al die alarms in haar kop gaan gelyktydig af. Dan spring sy blitsig vorentoe, alle emosies uit die pad gestoot.
Plaas drukking op die wond! gil alles in haar. Asof van ver, sien sy hoe haar hand dit doen. Dit help nie veel nie, besef sy onmiddellik toe ook haar hand binne ʼn enkele hartklop oortrek is van die bloed. Sy kyk verwilderd rond, sleep-dra Rikus dan onbeholpe met die ander hand na die telefoon.
Daar is nie tyd nie. Kyk hoe vinnig bloei hy!
Sy stry teen die paniek wat dreig om haar te oorrompel, verander van koers en ruk die kombuislaai met skoon vadoeke oop. Toe sy een om sy nek vasbind en ook dit binne sekondes ligrooi kleur, besef sy dat selfs die dokters se tyd om hom te kan help, vinnig uitloop. Allison gryp vervaard na die karsleutels en hardloop so gou haar wankelende bene haar en Rikus kan dra, na haar motor.
Sy is veraf bewus van ʼn onaardse, amper dierlike geluid, en iewers in haar agterkop konnekteer sy die rou pyn in haar keel met die geluid op haar eie lippe.
Daar is nie tyd nie! pols dit weer deur haar.
Die kort jaagrit hospitaal toe voel soos ’n ewigheid. Die oorblyfsels van haar middagete beland uiteindelik op
Ongevalle se voorportaalvloer toe mense met groen klere, en min woorde, Rikus se slap lyfie uit haar arms gryp.
Eers toe die suster haar paaiend in ’n stoel neerdruk, besef sy dat Cara nog in die huis lê en slaap. Alles in haar skop weer oor na eerste rat. “My dogtertjie, sy lê nog in die huis,” sê sy in ’n skor stem wat sy nie herken as haar eie nie, terwyl sy teen die hande baklei. Dink, Allison, dink! skree sy in haar kop op haarself.
“Ek moet jou foon gebruik. Nou!” Sy wag nie vir toe¬stemming nie, sien net in afgryse hoe haar hande die instrument rooi vlek toe sy begin om die nommers in te druk.
Hoekom antwoord hy nie? Die luitoon wil haar mal maak van ongeduld.
“Hallo, dis Arno wat …”
” Jy moet vir Cara gaan haal,” val sy hom halfhisteries in die rede. “Rikus is … hy is …”
Die bloedblertse op die foon, saam met die effek wat Arno se stem op haar het, raak eenvoudig te veel vir haar en sy voel hoe die oorweldigende realiteit van die situasie die eerste keer regtig in haar lyf vasskopplek kry.
“Arno!” Haar gepynigde, rou kreet om hulp oortuig die suster om oor te neem. Sy hoor veraf die eensydige gesprek, dan druk die suster weer die gehoorbuis teen Allison se oor.
“Allison, ek ry dadelik huis toe. Ek sal vir Cara by Ena gaan aflaai, dan kom ek hospitaal toe.”
Sy gryp Arno se stem vas soos ’n anker in die stormwind. “Ek is bang!” Sy voel hoe haar maag weer draai en haar kop voel duiselig.
“Alles sal regkom, skat. Ek ry dadelik. Bid saam met my. Alles sal regkom.” Die telefoon klik in haar oor. Allison herhaal Arno se woorde oor en oor in haar gedagtes.
Alles sal regkom.
Alles sal regkom.
Sy gaan sit weer op die stoel, vou haar hande om haar elmboë en wieg stadig vorentoe en agtertoe.
Alles sal regkom.
Beweging, klanke, mense, alles vervaag, maar sy kon- sentreer net op die frase wat haar help om aan te hou asemhaal.
Alles sal regkom.
Alles sal regkom …
Nou moet sy dit net glo.
Die ete gisteraand was toe glad nie te sleg nie, besluit Kiara terwyl sy stadig omdraai en haar lui uitrek – die een oog nog toe. George kan soms ’n bietjie van ’n drip wees, maar selfs hy het haar ’n paar keer laat giggel. Buitendien, Anne is haar beste vriendin, daarom is George deel van die package, drip ofte nie.
Alles was eintlik net reg. Die pasta was al dente – nie pap gekook soos die meeste Afrikaners dit doen nie – die sjokolademouse het gesmelt in die mond en die rooiwyn het die stimulerende geselskap perfek aangevul. Almal het regtig moeite gedoen om mooi aan te trek, besef sy waarderend – sy moet tog onthou om die naam van die nuwe winkeltjie met antieke klere by Georgina te kry.
Die tafel was dramaties versier, en sy ruik die soet geur van vars blomme tot hier waar sy lê. Haar vriende weet almal van haar swak vir vars blomme. Nog ’n suksesvolle, regtig lekker aand – nice. Ja-nee, life is good, dink sy terwyl sy vir oulaas omdraai.
Nou ja, wat is vanoggend op die program? Sy druk haar kop terug onder die kussing toe sy onthou van die geboortesertifikaat-debakel van die vorige dag, en oorweeg dit sterk om net weer om te draai en verder te slaap. Ag nee! En haar oggend het nogal so goed begin. Wel, ʼn gekerm gaan nie die gemors uitsorteer nie, besluit Kiara terwyl sy die komberse afgooi en vir haarself skewebek trek in die spieël terwyl sy vlos.
Die spieël se swaar goue raam pas perfek in die groot spasie bo die wasbak, mymer Kiara. Dit was regtig ’n goeie keuse. Sy is bly dat sy die badkamer ’n klompie jare gelede opgeknap het, besluit sy weer terwyl haar oë oor die vertrek gly. Dis haar bederfplek aan die einde van ’n lang dag. ’n Stomende bad met ’n glas wyn, baie, baie kerse en geurige skuimballe het al menige probleem in perspektief kom stel. En ’n verfrissende tydjie in haar mosaïekstort is net die energie-inspuiting wat sy nodig het om haar dag mee af te skop.
Sy druk haar baldadige bos rooibruin krulhare agter die een oor in en trek haar oogpotlood met ’n swaarder hand as gewoonlik. Teen die tyd dat sy haar kleurvolste rok aangetrek het, het sy ’n plan. Sal sy nou toelaat dat die galery-mannetjie vir haar ore aansit? Beslis nie, besluit Kiara terwyl sy lipstif aanwend.
Daar’s hy. Haar war-paint is op die gesig. Al wat sy nou nog kortkom, is sterk moerkoffie en ’n vars croissant van die deli op die hoek oorkant die galery. Dan is sy reg vir aksie! Die man sal nie weet wat hom getref het nie, glimlag sy tevrede by haarself.