Die forensiese wetenskap, wat onder meer vingerafdrukidentifikasie, DNS-toetsing, en die ballisties-forensiese wetenskap (ballistiek) insluit, het in die afgelope dekades indrukwekkend ontwikkel. Ballistiek kan in kort gedefinieer word as “die studie van projektiele in vlug”, en dit sluit onder andere in: die identifikasie van vuurwapens, hulle reikafstand en afvuurtempo, die snelheid van die projektiel, die merke wat op afgevuurde doppies en koeëls gelaat word, die aard van die wonde veroorsaak, bloedspatselpatrone, die chemiese reste wat dit laat op diegene wat daarmee in kontak was, en die versameling en evaluasie van data.
Maar wanneer dieper gedelf word in hierdie veld kan mens nie anders nie as om te kyk na die mense wat hulself midde-in daardie toneel bevind. Mense van wie die lewensloop, in ’n vlietende oomblik, vir altyd van koers verander. Ballistiek gaan om meer as net wapens en ammunisie, kruitreste en dood. Dikwels is die oplossings wat dit gee, in ’n sekere sin, te laat. Die afsluiting wat dit bring, te min, vir die agtergeblewenes wat die stukke moet optel na die slagoffers se dood.