Lugkasteel eBoek #eBoeke

In Sabbatsreis vertel Annelie Botes hoe sy in 2004 blindelings op ’n vliegtuig geklim het om in Engeland ’n ouma te gaan soek wat sy kon oppas. Om haar skuld te betaal. Vir ’n hellejaar vol hemelsheid word sy Granny se hoeder. Maar genoeg is selde genoeg. Kwalik ses maande nadat sy teruggekom het Baai toe, vlieg sy wéér Engeland toe. Dié keer as die goewernante van vier onhebbelike bloubloed-seuntjies. En, soos Aspoestertjie, bevind sy haar in ’n grillerige ou kasteelhuis, en sy is net ’n kasteelbediende. Sy ly honger; sy verkluim. Sy moet haar karige leefruimte deel met die wandelende gees van ’n vrou wat lankal oorlede is, maar steeds snags in die kasteelgange rondloop. Om vir haar ’n wegkruipplek te skep, rig sy ’n antieke Mercedes-Benz vol muisneste, wat verlate in ’n plaat onkruid staan, in as haar heiligdom. Droomplek. Dinkplek. Huilplek. Tien jaar later sit sy by haar ou bruin lessenaar en rol die kamera terug na daardie tyd. Bekyk die glasskoentjies wat elke mens langs die pad verloor. Lugkastele wat tuimel. Alles net swaanveertjies in die winterwind. Tog, ondanks ons stukkende vlerke, leer ons vlieg. Hoër en verder as wat ons ooit kon droom.

Lugkasteel (Afrikaans Edition)

 

Annelie Botes,

Trisa Hugo

Skrywersonderhoude

2016-11-30

Annelie Botes gesels met Trisa Hugo oor Botes se nuwe boek, Lugkasteel.

Jy het 10 jaar geneem om Lugkasteel te skryf. Eers as mens die boek klaar gelees het, besef jy waarom. Is daar nog iets wat jy nou spyt is jy nie geskryf het nie?

Daar is talle klein tablo’tjies wat ek wou inskryf. Verál diesulkes wat handel oor ons gewone menslinge se lugkastele wat omdonder. Maar ek was versigtig dat dit nie word soos die onophoudelike drup van ’n kraan nie, alias Salomo. Die storietjie waaroor ek die spytste is dat ek dit nie tóg maar iewers ingewerk het nie, is oor die oom van Uniondale wat elke oggend 10 voor 10 in sy broek geskyt het. Waarom hy nie betyds by die longdrop in die agterjaart gekom het nie, terwyl hy geweet het van sy swakte, kan ek nie sê nie. Maar wanneer hy daardie stokstywe bol by sy broekspyp uitskud, kon die dorpsmense hulle horlosies daarop instel.

Ek is ook spyt dat ek weggeskram het van al die bonatuurlike insidente by die kasteel. Maar ek was bang die lesers dink ek plak opsetlik die pap dik aan, en dat my verbeelding met my op loop gesit het.

Dit is absoluut skrikwekkend wat jy deurgemaak het in die kasteel. Die vrou Josephine klink of sy meestal in ʼn dwaal was, soms het ek die indruk gekry dat sy net eenvoudig nie bewustelik dink dat jy nie kos gehad het om te eet nie. Het dit nooit by jou opgekom om haar bloot te vra wat van jou, jy het energie nodig om jou werk te doen nie?

Josephine was uitgeloog en sat. Hulpeloos verlam deur haar vier kinders se gebrek aan dissipline. Liggaamlik was sy by boomskraap. Om in haar laat dertigs vier kinders in sewe jaar te dra, te baar en te soog, is ’n bykans bomenslike taak. En sy het nie ’n vingernael se hulp van die lord gekry nie. Elke goewernante het padgegee kort na hulle aangeland het. Konsekwensie het totaal by die kasteelwerf uitgevlieg. Anders as met Granny se bemoerde dogter, het ek Josephine dikwels uit my siel jammer gekry.

Sy was ’n goeie mens, maar die omstandighede met die rebelse kinders het haar verstrooid en paniekerig gelaat. Sy het gereeld vergeet van hulle skoolbedrywighede, dis hoekom ek die skool gevra het om met my te kommunikeer via huiswerkboekies. Syself het min geëet; kos was nie hoog op haar agenda nie.

Dikwels was ek só honger dat ek in ’n trans rondgesweef het. My kop het gesuis daarvan. Die kere dat ek wou kos vra, het die Kammanassie-vrou in my my verhoed om te vra. Bewustelik, en ook onbewustelik, het ek getoets wat my uithougrense is. Omdat ek ’n ryk verbeelding en ’n voorliefde vir dramatiese wendinge het, het die uithou-oorlog my nogal aangestaan. Omdat ek in my lewe nog nooit dun en plankerig was nie, en tog begeer het om só te wees, het die gevoel van skouerknoppe, sleutelbene en my skoene wat los aan my voete sit my op ’n rare manier geïnspireer om tevrede te wees met die minimum. En komende van Afrika het ek dit nie algeheel bisar gevind om hoenderkos en rou eiers en skille te eet nie.

Ja, die mens is ’n komplekse wese. Die Skotse dokter in Bedford het altyd gesê: “Annie, I don’t understand your emotional wiring.”

Dit was vir my net so ontstellend om te lees hoe Jarek gelyk en geleef het. Dis slawe-arbeid! Het jy nooit oorweeg om hulle by owerhede aan te gee toe jyself uit die situasie was nie?

Nee, nooit eens naastenby nie. My kinders het op daardie tydstip nog nie Britse burgerskap gehad nie, en die neersit van één skewe voet kon hulle groot skoolgeld kos. Ek het onwettig daar gewerk, en ek wou nêrens op die radar verskyn nie. Indien ek hulle aangekla het, sou ek ook na alle waarskynlikheid nooit weer die land kon binnegaan nie.

Jarek en Ludmila het hulle eie woonplekkie gehad, en hy het ’n ratelende kasteelkar gehad waarmee hy kon dorp toe ry om kos te koop. Hy moes ieder geval dikwels dorp toe ry om te gaan herstelwerkmateriaal koop. En hy en Ludmila het ’n weekloon gekry, so hulle was nie geldloos nie. My gedagte was altyd dat Jarek siek is, dié dat hy soos ’n uitgerafelde riet lyk.

Boekonderhoud: Lugkasteel deur Annelie Botes

myafrikaans

Leave a reply

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close