Die dao van Daan van der Walt: UJ-prys

Hieronder deel Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) sy repliek by ontvangs van die debuutprys.

litnet

Geagte professor Pienaar, dames en here.

Dolf van Niekerk het twee dae voor Chris Barnard se dood met hom oor die lewe gepraat en hulle het besluit soos die einde nader, een woord in hul lewe voorop staan: verwondering.

In my 81ste lewensjaar staan ek vanaand hier voor u in verwondering. In verwondering oor die Afrikaanse taal, oor die onmeetbare hoogtes wat dié taal bereik het in die letterkunde, die digkuns, die akademie en die beroepswêreld. Ek het die voorreg gehad om in dié taal gebore en groot te word, skool en universiteit toe te gaan. In my praktyk as advokaat die taal te gebruik en uiteindelik as regter my uitsprake daarin te skryf en te lewer. Ek is in ’n staat van verwondering dat die keurpaneel in ’n jaar waarin daar uitsonderlike boeke in Afrikaans die lig gesien het, my boek met die gesaghebbende UJ-debuutprys bekroon het. Verwondering, onbegrip, dankbaarheid.

Wie is ek? Wie is ek, het ek as tweedejaarstudent op PUK luid gevra waar die eerstejaars in rye in die Totius-saal gestaan het gedurende die ontgroening. Nooit het ek kon droom dat ek 62 jaar later by ’n universiteit op ’n glansgeleentheid sal verduidelik wie ek is nie.

Die skuilnaam se tyd is verby. Dit sou oneerbiedig en ondankbaar teenoor die keurpaneel en die Universiteit van Johannesburg wees om nié vanaand hier te staan nie.

Hoe kan ek u bedank en u oortuig van my waardering vir hierdie aand, vir die eer wat u my aandoen? Ek spartel nog.

Voor ek met die skrywery begin het, het ek gereken dit gaan wees soos om met dolosse te speel of vir Sannie Coetsee te leer kleiosse maak. Toe ek agter my rekenaar sit, het die gestoei begin om woorde in sinne hok te slaan, en sinne soos ’n span langhoring-Afrikanerosse ingespan te kry. Toe het die gedagte nie eers vaagweg in my kop opgekom dat my span osse op die skou met ’n prys gaan wegstap en ek huis toe sal gaan met ’n roset op my bors nie.

Ná die aankondiging dat my boek met die UJ-debuutprys bekroon is, is die kalwers uit die hok, die bul het oor die heining gespring tussen die verse in en die osse staan verslae.

Die skuilnaam? My pa se voorname en my ma se van.

Die mediamense wou weet: Waarom die skuilnaam? Ek antwoord. Wat’s in ’n naam? Dis die vraag. Lodewyk G du Plessis alias Andries Buys en Daniël Jacobus van der Walt, ons twee … drie … dra swaar aan ons name: Daantjie, Danie, Daan, Advokaat van der Walt, Klei’baas, Ou Daan, die Vark van Ystervarkfontein.

U weet nou presies wie Daan is, of nie is nie. En as alles voorspoedig gaan, het Daan binnekort nog ’n naam: Oupa. Sy swartoog klein Danie is op pad, Oupa se aapstert.

Nou wie is die ander kêrel? Die Andries-ene.

Rilke sê ’n mens moet baie ondervinding in die lewe opdoen voor jy kan hoop om dalk eendag ’n goeie sin te kan skryf. Een van die dinge wat ek onthou wat hy noem, is jy moes by die dooies gesit het – in die kamer met die oop venster.

Hoe kom die gebruiker van woorde by die oop venster uit, indien ooit?

Ek noem vir u drie dinge wat ’n rol gespeel het by my bewuswording van die wonder van stories en die krag van die woord.

Ek was so 14, 15 jaar oud, in standerd 8 – dit was 1953 – toe my Latynonderwyser vir ons ’n kwartaal lank Afrikaans gegee het. Die voorgeskrewe boek was Die grenslose van WA de Klerk. Met dié boek het my Latynonderwyser in ’n enkele skoolkwartaal my oë oopgemaak vir die wye wêreld van die woord en die storie. Ek was nog baie jonk, maar ek het toe al van die liefde geweet. In graad 1 was ek smoorverlief op ’n swarthaarnooi. Nooit ’n woord met haar gepraat nie. Haar naam kan ek nie meer onthou nie; haar van was Schlossberg, die dogter van die Joodse meulenaar op ons dorp. Ja, almal het daardie jare nog na die Afrikaanse skool toe gegaan. Ek neig nog steeds die vreemde in, eers ’n Jood, en vir die laaste 20 jaar ’n Chinees.

Ek swem nog altyd stroomop, my geld nog altyd op die buiteperd.

Die goue reël by die skep van literêre fiksie, het ek geleer, is: Alle idees moet storie word. Geen idee word aangeplak nie. Wat doen ek? Ek probeer in my boek van stories ’n idee maak.

Om vanaand hier voor u te kan staan, moes ek ooglopend iets reg gedoen het met die stories.

Daan se verhaal is jare gelede gebore in my tandarts se wagkamer waar ek ’n ou oom se brief aan ’n tydskrif se troostante gelees het. Hy vertel dat hy ná ’n aandjie uit saam met sy vriendin by haar in haar woonstel gaan koffie drink het. Toe hy uit die latrine kom, sit sy nakend op die rusbank. Wat, vra hy die troostante, wat is fout met die vrou? Dieselfde aand by ’n geselligheid vertel ek dié storie vir die manne om die braaivleisvuur. Een van hulle sê: Hoe dan so? ’n Man is mos nie ’n klip nie.

Hoe langer ek daarna oor die komiese in die ou man se probleem gedink het, hoe meer het ek die tragiese kant daarvan begin insien. Was die ou man gay, en/of is daar dalk iets fundamenteels verkeerd met die samelewing se opvatting oor die seksdaad?

Die tweede ding wat my gehelp het met woorde, was die regspraktyk. Die groot Engelse regsgeleerde wat ek vroeg in my professie ontdek het, lord Denning, het ’n boek geskryf met die titel The discipline of law. Hoofstuk 1: “Command of language”. Paragraaf 1: “The tools of trade”. Hy val direk met die deur in die huis: “To succeed in the profession of law, you must seek to cultivate command of language. Words are the lawyer’s tools of trade. When you are called upon to address a judge, it is your words that count most. It is by them that you will hope to persuade the judge of the rightness of your cause.” Laer af op dieselfde bladsy waarsku hy teen opgeblase taal. Effektiwiteit vereis woorde wat eenvoudig en duidelik is. So maklik.

Ten slotte sê die Britse Law Lord jy moet aanhoudend jou taalgebruik oefen. Hy praat uit eie ondervinding: “I took infinite pains in the writing of an opinion. I crossed out sentence after sentence. I wrote them again and again.”

Ek het dié pad met Die Dao van Daan van der Walt geloop. Ek het ophou tel hoeveel maal ek die boek oorgeskryf het. Veral daardie eerste hoofstuk. Veral daardie eerste drie sinne en daardie laaste een aan die einde van die boek. Vra Laozi en hy sal sekerlik sê: maklik 10 000 keer.

Ná al die oorskrywery het ek, die debuutskrywer, myself afgevra: Is alles wat ons skryf nie maar net eggo’s van stories wat ons vroeër gehoor en oor gedroom het nie?

Die derde bewuswording was soos volg: In sy laaste brief aan Magrieta skryf Daan dat hoe ouer hy word, hoe makliker huil hy. ’n Goedgeskrewe sin beweeg hom tot trane. Oor ’n herfsblaar op die grond huil hy skaamteloos.

In die nabetragting agter in die boek skryf ek die verwysing na die herfsblaar is geïnspireer deur ’n gedig van PW Buys in sy bundel Van sigbare en onsigbare dinge. Die bundel was sy derde en is op sy 75ste verjaardag bekendgestel. ’n Jaar later is hy oorlede. TT Cloete het tydens ’n onderhoud gesê dat PW Buys nie die erkenning kry wat hy verdien nie. PW, Pieter Willem, my broer, se fyn aanvoeling vir en keurige gebruik van die korrekte woord was vir my van jongs af ’n inspirasie. Ek wil graag vir u die gediggie oor die herfsblaar voorlees:

Herfsblaar

’n Somer lank het hyt
een stormgeweld van wind en reën
vas aan die tak gebly.

Aprilmaand, in die najaar al,
het net ’n roering in die lug
hom saggies aarde toe laat val.

My dank en innige waardering gaan aan die keurpaneel wat my boek waardig geag het vir die gesaghebbende UJ-debuutprys waarmee dit bekroon is. Ek noem u by die naam: Frederick J Botha, dr Karen de Wet, dr Amanda Lourens, dr Johan Myburg, prof Andries W Oliphant, prof Marné Pienaar.

My dank gaan ook aan Marlene van Niekerk en Willem Anker wat my geduldig begelei en inspireer het by die skryf van die boek; Frederik de Jager vir sy raad en bystand by die finale afronding van die manuskrip voor publikasie; prof Jan Botha, sy vrou Louise en hul seun Ferdinand vir hul betrokkenheid by die boek; my medestudente, Andries Bezuidenhout, Harry Kalmer en Piet Oosthuizen vir hul kommentaar. By Tafelberg was dit ’n plesier om met Solette Swanepoel, Etienne Bloemhof en die hele span by NB-Uitgewers saam te werk. Baie dankie, dr Karen de Wet, Annamarie van Tonder en Tara Kok vir die reëlings om my en Twan vanaand hier te kry. Aan my gaste: Dankie dat julle hierdie heuglike geleentheid saam met my vier. Vir hom wat vir my boeke bring om te lees: Thank you Twan, that you always cheerfully and patiently listened to my gripes and frustrations, for all your good suggestions and your unfailing support and assurance that if I write what I like, there will be readers who will enjoy what I have written; and when I wavered or was discouraged you always insisted that the book must be published. Thanks to you, Twan, it was; and it bears a crown.

Ek was 42 jaar in die regsberoep. In 2003 het ek afgetree. Sedertdien het ek gereis, gelees en Die Dao van Daan van der Walt geskryf.

Die bekroning van my boek met die UJ-debuutprys het dit vir my dubbel en dwars die moeite werd gemaak om ná 16 jaar vanaand vir die eerste maal weer in die openbaar op te tree.

Baie dankie.

Andries Buys (Skrywersnaam Lodewyk G du Plessis)

3 Mei 2019

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close