UJ-prys: Charl-Pierre Naudé vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

litnet

Sedert sy debuut in 1995 met Die nomadiese oomblik het Charl-Pierre Naudé hom hoofsaaklik as bekroonde digter gevestig. Vir sy debuut ontvang hy in 1997 die Ingrid Jonkerprys, en sy tweede digbundel, In die geheim van die dag (2004), word in 2005 met die M-Net- sowel as die Protea-prys vir Afrikaanse poësie bekroon. In 2015 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekenning vir sy derde digbundel, Al die lieflike dade (2014). As samesteller is Naudé verantwoordelik vir die versamelbundels My ousie is ’n blom in 2005, en Nuwe stemme 6 in 2017 met Bibi Slippers as medesamesteller. Benewens sy optredes by ’n menigte internasionale poësiefeeste het hy ook al aan verskeie skrywersresidensieprogramme deelgeneem, wat veral sy Europese status as gesogte Suid-Afrikaanse digter bevestig (SALA 2019).

Frederick J Botha

By hierdie lys van prestasies moet Naudé se aansien as vryskutjoernalis, rubriekskrywer en resensent ook natuurlik bygevoeg word. In 2018 sorg Naudé egter vir die grootste verrassing – en moontlik prestasie – van sy skrywersloopbaan tot op hede wanneer hy as prosaskrywer debuteer met ’n lywige roman wat hy as ’n “para-psigologiese mystery story” (Naudé en Meyer 2018) beskryf. Hierdie roman is in 2016 voorgelê vir Naudé se meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van Francois Smith (Opperman 2018).

Die UJ-prys onderskei homself van ander Afrikaanse literêre pryse deurdat dit jaarliks uitnemendheid oor die grense van genre heen beloon. Dat Naudé se debuutroman hierdie jaar met die UJ-prys bekroon word, is gepas, aangesien die roman self oor verskeie genres heen beweeg en, ten spyte van Naudé se bogenoemde definisie, nie maklik is om te tipeer nie. Elemente van die liefdes- en speurverhaal, magiese realisme, satire, geskiedskrywing, metafiksie en spekulatiewe wetenskap word alles saam en aan die hand van ewewêrelde as tema verken, met die eindproduk só vernuwend en verrassend in Afrikaans dat dit die bekroning met die UJ-prys regverdig.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey se aansluiting by metafiksie word reeds aan die begin van die roman aangekondig. In ’n kreatiewe en uiters belonende spel met die leser verklaar Naudé in die voorwoord dat hy nie die skrywer van hierdie boek is nie. Volgens Naudé het ’n joernalis, ene Hermanus Verdomp, die storie meer as dertig jaar gelede geskryf, maar dit nooit aan ’n uitgewer voorgelê nie. Deur ’n sameloop van omstandighede het die manuskrip by Naudé uitgekom, en nadat hy die nodige toestemming by ’n knorrige Verdomp via Skype gekry het, het Naudé dit aan sy uitgewer voorgelê wat onmiddellik belangstelling getoon het. Verdomp wil egter niks meer met sy manuskrip te doen hê nie, en daarom tree Naudé nou as annoteerder en samesteller op, wat bloot erkenning neem vir die voetnote asook die voor- en nawoord wat hy kwansuis geskryf het.

Hierdie “literêre blufspel”, om Naudé se eie woorde in ’n LitNet-onderhoud aan te haal (Naudé en Meyer 2018), lei reeds die hooftema van ewewêrelde in, met Naudé wat spot dat hy en Hermanus Verdomp ewewêreldweergawes van mekaar mag wees. As metaroman aktiveer Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey dus ’n spel tussen outeur en leser waar die leser die heeltyd wonder wat werklik of blote versinsels is. Die roman bied ook ’n kreatiewe besinning oor die skryfproses en die aard van fiksie, asook oor die ontstaan en belangrikheid van stories as manier om sin aan die menslike bestaan te gee.

lees verder.

myafrikaans

Leave a reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

New to site? Create an Account


Login

Lost password? Close

Already have an account? Login


Register an account

Close

Forgot Password

Login Close

We are using cookies on our website

Please confirm, if you accept our tracking cookies. You can also decline the tracking, so you can continue to visit our website without any data sent to third party services.