Johanna du Plooy word van kindsbeen af bewus van geheime wat op ma Anna se geboorteplaas, Verlorenkoppe, versteek lê. Die grootmense fluister op die plaashuis se stoep, terwyl Johanna en haar kinds oumagroot Delores Retief in die tuinkamp “weggebêre” word. Op sewentien word Jo belas met haar eie geheim. Vandaar is sy gedurig op die vlug: van haar familie, van die beklemmende landspolitiek en van haar eie seksualiteit. Haar ekspat-lewe in Amerika hink voort na haar kleuterseun se dood. Wanneer ook haar man sterf, moet Jo – gewapen met groottante Christine Retief se plaasjoernale – oplaas in die Karoo tot selfinsig kom, en empatie ontwikkel met al die vroue in haar lewe: ma Anna wat as peuter van haar ma weggeneem word; ta’ Christine en haar lesbiese liefdesgeskiedenis, verby voor dit kon begin; Christi, Jo se violis-dogter en oorblywende helfte van die tweeling; vriendin Lara wat by is toe Jo haar geheim gaan begrawe; joernalis Marga met haar skrynende verhaal van gender-kwellinge; en, na baie jare, ook Muriel – die sensuele skoonheid by wie alles vir die jong Jo begin het.