Boekresensie: Tussen die klippe deur Hans du Plessis
Die skrywer en etikus Bernard Schlink het na analogie van sy roman Der Vorleser weer opnuut die soeklig laat val op begrippe soos die reg, moraliteit, skuld, geheue en identiteit. Eksponente binne die interdissiplinêre studieveld, die rol van die reg in letterkunde, het begin om die narratiewe van die verlede te interpreteer vanuit die uitgangspunt dat die wandade van die verlede nie vergeet kan of mag word nie.
Skrywers hou hierdie morele geheue lewendig via ’n konfrontasie met die verlede (wat allegories in die metaforiese beskuldigdebank verkeer) op soek na boetedoening en vergifnis. Tussen die klippe is die fiksionalisering van historiese gebeure wat die outeur iewers in ’n argief raakgelees het. Dit is enersyds ’n toeganklike roman waarin die liefde seëvier; andersyds hou die verhaal ’n spieël van moraliteitsteater op na sy lesers – ‘n spieël wat tydlose vraagstukke soos geregtigheid en waarheid betrek.
’n Dekade na die Groot Trek (1851) word Susanna Isabella Marais van sonde verdink. Die formele klag: Veelmannery en bedrog. Sy verskyn voor die Hof van Landdroste en Heemrade en hoofstuk op hoofstuk ontvou die verhaallyn naatloos en in soepel vertelstyl soos deur die onderskeie fokalisators waargeneem.
Die argetipe van die beeldskone, maar listige en gevaarlike vrou word geaktiveer. Dominee Johannes word deur die Weledele Kommissie uit die Kaapkolonie afgevaardig om hierdie “onwettige en onchristelike” egverbintenis te ondersoek.
Soos in As die wind kom draai ontgin Du Plessis aardse simboliek op ’n meesterlike wyse. So word die klippe eindelik die verkondiging van ’n tasbare liefde tussen mense, en die filosofie van die waarheid loop parallel met dié van die liefde. Aldus die wyse, maar ongeletterde Kornelius vorm die twee klippe van Moses die twee testamente, maar binne die sluitsteen van één verbond: die liefde van Christus.
In hoofstuk 19 word die stamvrugte wat Gysie moet gaan uithaal, ook simbolies vir die tieners se seksuele ontwaking, die verlies aan onskuld en die konnotasies met ’n verlore eden.
Die roman wemel van onthoubare en eenvoudige alledaagse waarhede. “Die waarheid dien die liefde – of dien die liefde die waarheid? Ek wens ek het geweet.” (bl 167) En op bl 223 merk Susanna op: “Ek begin nou self dink my waarheid is ’n klomp leuens gelieg op soek na die liefde.” Dominees Johannes begin langsamerhand besef dat die waarheid egter relatief en subjektief is: “So, kom ek nou agter, lyk die waarheid geskinder.” (bl 240), asook: “Wat is die waarheid? wonder ek nog steeds. Is daar op aarde ooit ’n volle waarheid? (…) Elkeen het seker maar sy eie waarheid soos wat hy dit deur sy eie oë sien. Daarom is daar net een Waarheid.” (bl 246).
Tussen die klippe is ekonomies verpak in 48 kort hoofstukke met ’n intrige en kleurryke karakters wat enduit boei. ’n Hoogtepunt is die aankoms en getuienenis van die formidabele Catharina Nortier. Die roman bied ook heelwat vir die fynproewer van goeie fiksie. Afgesien van natuurtaferele wat meermale die hofverrigtinge op ’n komiese wyse simuleer, is dit dominee Johannes se brief aan sy vriend Gous wat opvallende ooreenkomste met Paulus se sendingbriewe toon (bl 35) wat vir klein literêre juwele sorg.
Du Plessis lewer ’n goeie skeut kritiek op die bevoordeling van Calvinisme bó die uitleef van Christelike beginsels, daarom verlaat hy hom op die liefde vir God, die teenoorgestelde geslag en sy medemens: “Daar is dan maar net een liefde, en dit weet ek nou, is klip en ster.” (bl 283).
Hier is ’n roman uitgeknip vir ‘n lesing oor die rol van die reg in die letterkunde, ’n studieveld wat nog relatief braak lê binne die Afrikaanse literatuur. “Bylaag 2, die drie en dertig Artikelen (1844)” as addendum tot die roman posisioneer die verhaal binne die reëele regspleging van 1851. Dit herinner die leser daaraan dat die hofsitting – hoé absurd dit mag klink in die oop natuur onder wildeseringbome en tussen bobbejane, voëls en vlakvarke – nog steeds ’n hof in die ware sin van die woord is.
No Title
No Description