Die lucky strike deur Steve Hofmeyr: ’n resensie
Die boek se stofomslag verklaar: “Jy mag dink jy is klaar met die verlede, maar eintlik is die verlede nooit klaar met jou nie. Net toe Die Sluiper sy rug wou keer op sy lewe as huurmoordenaar en vrede met die wêreld wil maak, vind hy dat sy verlede hom ingehaal en verbygegaan het. Dit wag vir hom op ’n wildsplaas in die Kgalagadi, en ook in Kabinda in die DRK tussen strydende militêre magte. Daar sal rekenskap wees. En vergelding. Hy is gereed daarvoor, want hy was in sy element – die element van vrees.
“Maar eers wag sy neef, majoor Darius Keiser, en sy geliefde Tes op hom. Ook sy twee eertydse kamerade in Spesmagte, Gertjan en Carlos. En die lang vrou met ’n donkerbril wat haar Lucky Strikes met soveel toewyding rook …
“Dit is ’n diggeweefde web van verraad en misleiding wat hy eiehandig sal moet ontrafel. Sonder genade. Want hy is Die Sluiper en genade is God se domein.”
Dis Steve Hofmeyr se vyfde spanningsroman, maar ek moet bieg: dis die eerste boek van hom wat ek lees. Ek was bang dat hierdie opvolgroman, na Die onaantasbares, waarin hy Die Sluiper bekendgestel het, moeilik sou lees omdat ek nie die karakters ken nie. Maar geen rede tot kommer nie: hy gee genoeg terugblikke om jou gou die draad van die storie te laat optel, maar nie te veel dat jy voel hy het die helfte van sy vorige manuskrip ge-copy & paste nie.